Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Nuwe unie wil kaalvuis inklim

’n Nuwe landbou-unie wat ontevrede is met huidige pogings om vir boere se eiendomsregte te veg, word Donderdag in Pretoria van stapel gestuur.

Die logo van die nuwe unie.

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief, oftewel Saai, het sy oorsprong in die eensydige en onwettige onteieningskennisgewing wat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming op 29 Maart 2018 beteken het op Akkerland Boerdery.

Die staat het probeer om Akkerland se twee Limpopo-wildplase, Lukin en Salaita, te onteien teen wat die eienaars gesê het tussen 10% en 25% van die markwaarde was.

Die minister het uiteindelik die onteiening van die grond, wat op ryk steenkoolreserwes geleë is, in September weens dreigende litigasie laat vaar.

AfriForum, wat die onteiening van Akkerland teengestaan het, sal Saai met administrasie en die werwing van lede help. Saai kry beleidsadvies by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), wat eiendomsreg as absoluut en ’n voorwaarde vir die voortbestaan van die markekonomie in Suid-Afrika beskou.

Dit is onduidelik wat Agri SA verteen­woordig .

Van die magte agter Saai het gister aan Rapport gesê die belange van kleiner boere – daardie 80% meestal familieboere wat 20% van die land se voedsel produseer – geniet nie genoeg aandag nie.

Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie wat tot 2014 visepresident was van Agri SA, maar intussen van Agri SA vervreem geraak het, het aan Rapport gesê die dryfkrag agter die nuwe unie het meestal gekom van boere in die “ou Transvaal” – Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng – wat “bekommerd was oor die plek van die kleiner boer”.

“Agri SA is ’n baie breë kerk, amper soos die ANC. Hulle moet alles vir almal wees en sit met ’n groot klomp korporatiewe lede. Maar die belange van jou korporatiewe groepe is nie dieselfde as jou familieboere nie.”

De Jager sê die “duiwel het losgebars ná ’n konferensie twee weke gelede by die Universiteit van Wes-Kaapland waar gesê is 80% van die boere produseer 20% van die kos, en daai 80% is soort van opofferbaar. Ons gaan vir die belange van daai ou (veg), ons glo nie hy is opofferbaar nie.

“Akkerland was eintlik die waterskeiding. Ons het in vennootskap gegaan met AfriForum, die TLU en Solidariteit, want ons het geweet wat ook al met Akkerland gebeur, sal die toon bepaal van wat vorentoe gebeur.”

De Jager glo enige toegewings oor moontlike “afslag” van markwaarde-vergoeding is heiligskennis. “Ons sê net markverwante vergoeding sal landboufinansiering in stand hou.”

Francois Rossouw, ’n prokureur van Elarduspark wat aangestel is as Saai se uitvoerende hoof, sê as boere ’n kompromis aangaan oor markverwante vergoeding “is die stryd verlore”.

“Hierdie ding is gebore uit die probleem dat art. 25 se wysiging nie ernstig genoeg opgeneem is nie en dat boere nie ’n stem het nie.

“Daar word tans vir boere gesê wat die regering wil hê en nie vir die regering wat boere wil hê nie.”

Hy sê Saai is nie mededinging vir bestaande unies nie, maar wel “ ’n alternatiewe winkel” wat “familieboere se grootste probleme aanpak”. “Die belangstelling is ontsettend groot.”

Saai beplan om tegnologie, van hommeltuie tot selfoon-apps, te gebruik om boere te help moderniseer en organiseer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aan Rapport gesê AfriForum is “genader om administratiewe steun te lewer”.

“Sake soos Akkerland en grondgrype vereis vinnige optrede, eerder as om al jou hoop te plaas op beleidsbeïnvloeding by die regering.”

Dr. Frans Cronjé, hoof van die IRV, het gister gesê hy verwag die nuwe unie sal druk op die regering plaas “om nie die aanname te maak dat boere hul lot aanvaar het en dat hul verteenwoordigers sal smelt tot ’n pappery die oomblik wanneer hulle ’n kabinetsminister sien nie”.

“Dit het onduidelik begin raak wat Agri SA verteenwoordig – banke, koöperasies, agri-korporasies of ontluikende boere? Agri SA het nooit die beleidspatrone ná 2008 ernstig opgeneem toe my mense meer as 30 aanslae op eiendomsreg geïdentifiseer het nie. Hulle het ook die parallelle proses van stigmatisering van boere as toeval afgemaak.

“Hulle kon nie sien waarvan albei prosesse voorbodes was nie en het herhaaldelik gesê ons is gek. In die proses het hulle sleutelbeginsels prysgegee.”

Dan Kriek, president van Agri SA wat op die presidensiële advieskomitee oor grondhervorming dien, het gister aan Rapport gesê Agri SA “het nog altyd gesê markwaarde moet die uitgangspunt wees” met onteiening.

Agri SA skroom ook nie om hof toe te gaan om boere se belange te beskerm nie, sê Kriek.

“Ons het al gelitigeer oor onwettige plaasbesettings (die Modderklipsaak), waterregte (Goede Wellington Boerdery), die onteiening van mineraalregte, restitusie (die Salem-saak) en die vasstelling van billike vergoeding (die Msiza-saak).”

Hy sê geen organisasie doen meer wat hofsake en beskerming van eiendomsreg betref as Agri SA nie. Hy voeg egter by markwaarde is nie die enigste oorweging ingevolge die Grondwet nie.

“Die Grondwet werk met billike en regverdige vergoeding. Ons standpunt is dat markwaarde in die meeste gevalle ook billik en regverdig sal wees. Daar kan gevalle wees waar regverdigheid en billikheid ’n afwyking van markwaarde regverdig en dit kan afwaarts of opwaarts wees. Ons baklei vir die internasionale standaard van vergoeding wat spoedig, voldoende en effektief is.”

Oor Akkerland sê Kriek dat dit altyd vir Agri SA duidelik was dat die onteiening sou misluk.

“Die minister kon nie die Akkerland-grond onteien nie omdat die geldigheid van die restitusie-eis in dispuut was. Sy het dit later besef en die kennisgewing van onteiening teruggetrek.”

Meer oor:  Theo De Jager  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.