Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond onteien? Jy moet steeds lening terugbetaal

Mense met banklenings wie se plase of eiendom weens ’n beleid van onteiening van grond sonder vergoeding afgevat word, sal regtens steeds aanspreeklik wees om daardie lenings terug te betaal, meen Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa).

Basa meen daarom dat onteiening sonder vergoeding ook eiendomsreg in Suid-Afrika ondermyn.

Coovadia en Basa, wat die land se grootste kommersiële banke verteenwoordig, was Vrydag van die verskeie organisasies wat voorleggings aan die parlement se grondwethersieningskomitee gemaak het wat sy openbare verhore voorsit om te bepaal of die Grondwet gewysig moet word, of nie.

Dié komitee het gehoor dat banke tans beleggings van sowat R1,6 triljoen in die vorm van lenings vir huise, landbougrond en ander eiendom in Suid-Afrika het. Hiervan is sowat R148 miljard net aan die landbousektor.

Coovadia het dit duidelik gemaak dat daar steeds ’n wetlike plig op bankkliënte sal wees om hul lenings terug te betaal, al word hul eiendom onteien. “Daarom moet ons duidelikheid hieroor gee.”

Volgens Coovadia verskil Basa egter van die burgerregte-organisasie AfriForum wat Donderdag aan die komitee gesê het dat grondhervorming nie ’n kwessie in Suid-Afrika is nie.

“Die duisende mense wat reeds aan die komitee se provinsiale sittings deelgeneem het, wys dit is ’n kwessie.

“Ons moet egter saamwerk as ’n land om die ‘misdade’ van die verlede rakende grond reg te stel,” sê Coovadia.

Hy sê die banke is daartoe verbind om saam met alle rolspelers te werk om praktiese oplossings vir die kwessie te vind.

Cas CoovadiaFoto: Nelius Rademan

Hy meen egter daar moet baie versigtig te werk gegaan word. Basa stel onder meer ’n grondberaad voor vir die vind van oplossings en pleit dat daar nie onnodig met die Grondwet gepeuter moet nie, wat reeds onteiening sonder vergoeding moontlik maak.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, het gesê beleggers is reeds uiters bekommerd oor die moontlike impak van onteiening sonder vergoeding.

“Die gebrek aan duidelikheid oor wat dit kan beteken, duik reeds in elke vergadering met beleggers op. Daarom moet ons so gou moontlik duidelikheid kry.”

Brown voer aan Nedbank is daartoe verbind om met alle Suid-Afrikaners saam te werk aan ’n ordelike grondhervormingsproses, omdat “grondhervorming nie verder vertraag kan word nie”.

“Dit vereis egter nie die wysiging van die Grondwet nie. Eerstens benodig ons ’n omvattende en behoorlike grondhervormingsplan en die bestaande instrumente kan daarvoor gebruik word.

“Dit vereis ook wetgewende, regulatoriese en administratiewe raamwerke met parlementêre en juridiese oorsig. Die staat moet ook met die privaatsektor saamwerk om geleenthede te vind om verbeterde en meer holistiese steun aan begunstigdes te bied.”

Tanya Cohen, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa), het aan die komitee gesê dié organisasie erken grondhervorming het tot dusver met ’n slakkegang plaasgevind. Busa meen egter die beoogde planne vir onteiening sonder vergoeding het reeds tot grootskaalse onsekerheid onder beleggers en graderingsagentskappe gelei.

Die organisasie steun die skepping van ’n nasionale grondhervormingsplan omdat die Grondwet volgens hulle reeds onteiening sonder vergoeding moontlik maak.

* Volg Netwerk24 vir meer oor dié berig.

Meer oor:  Cas Coovadia  |  Grond  |  Grondonteiening  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.