Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Onteiening ‘kan help om ongelykheid uit te wis’

Die ekonomie sal in duie stort indien die Grondwet gewysig word om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, is op die openbare debat in Marble Hall, Limpopo, gewaarsku.

John Mills van die Bela-Bela-belastingbetalersvereniging aan die woord. Foto: Christiaan du Plessis

Ander mense hier het egter gesê grondonteiening sonder vergoeding sal help om ongelykheid in Suid-Afrika uit te wis deur grond aan die armes te gee.

Boonop is die Grondwet op die vergadering gekap en daar is gesê dit het daartoe gelei dat die armes armer word.

Dít is op een van die landwye openbare vergaderings oor die eiendomsklousule (art. 25) in die Grondwet gesê.

Die openbare vergaderings gaan daaroor of art. 25 gewysig behoort te word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Johan Mills, ’n lid van die Bela-Bela-belastingbetalersvereniging, het in sy spreekbeurt gewaarsku dat boere en ander Suid-Afrikaners nie geld by banke sal kan leen as die wysingswetsontwerp goedgekeur word nie.

“Boere gebruik hul eiendom as sekuriteit om sodoende geld te leen om sade te plant. Die ekonomie sal in duie stort indien dit (die wysigingswetsontwerp) deurgevoer word.”

Hy het ook daarop gewys dat die wysigingswetsontwerp nie net op plase betrekking het nie, maar ook ander eiendom.

Die saal van die Ephraim Mogale-munisipaliteit was oorvol vir die sitting. Foto: Christiaan du Plessis

Vasco Mabuza van die Nkosi-ontwikkelingsorganisasie, wat kleinskaalse boere ondersteun, sê hy stem nie saam met die stelling dat Suid-Afrika se Grondwet een van die bestes ter wêreld is nie.

“Die Grondwet het veroorsaak dat die arm mense armer word, en die ryk mense ryker. Deur die Grondwet te wysig, sal dit die ongelykhede van die verlede help uitwis.”

Bill van Jaarsveld, uitvoerende hoof van Agri Limpopo, het die stadige pas van die regering se bestaande grondhervormingsbeleid vir die ontevredenheid onder Suid-Afrikaners geblameer. Hy sê die bestaande model kan suksesvol toegepas word, mits die regering dit meer doeltreffend bestuur.

Mense probeer by die saal inkom. Foto: Christiaan du Plessis

“Landbou is een van die ekonomiese sterk punte in Limpopo en ons kan dit nie in gevaar stel nie.”

Ander teenwoordiges het gesê: “Beskerm die meerderheid van die mense in die land, wat swart mense is, en verander die Grondwet. As regering moet julle jul mense beskerm,” en “ons as die jeug van Suid-Afrika het al die kwalifikasies maar ons is werkloos. Gee ons die grond, ons sal boer en ’n sukses daarvan maak”.

Ondersteuners ten gunste van behoud van die Grondwet. Foto: Christiaan du Plessis

Intussen het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) Woensdag in ’n verklaring gesê die regering se voorstel om grondonteiening sonder vergoeding te implementeer kan die toekoms van Suid-Afrika in gedrang bring.

Die IRV het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die IRV se brief aan pres. Cyril Ramaphosa oor die kwessie aanlyn te lees en te ondersteun. Die IRV onderneem om dié brief later aan die president in die Uniegebou in Pretoria te oorhandig.

Luidens die verklaring het meer as 60 000 mense aangedui dat hulle die IRV se voorlegging ondersteun wat op 15 Julie by die parlement ingedien sal word.

Meer oor:  Marble Hall  |  Grondonteiening  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.