Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: SA kan soos Zim, Venezuela word, sê instituut

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) betwyfel nie die egtheid van die lys met plase wat geteiken word vir onteiening sonder vergoeding nie. Dié lys is Sondag deur AfriForum bekend gemaak.

Die SAIRV het die ANC-regering gewaarsku dat die rigting waarin hy met betrekking tot eiendomsreg beweeg, soortgelyke ekonomiese en maatskaplike gevolge vir die Suid-Afrikaanse samelewing kan inhou as wat tans in Venezuela en Zimbabwe aan die orde van die dag is.

Die instituut het Dinsdag in ’n verklaring gesê mediaberigte oor die lys met plaasname het angstigheid onder Suid-Afrikaners veroorsaak weens die beleidsrigting wat die regering inslaan.

“Terwyl ons kennis neem van die verklaring van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dat daar volgens hom geen waarheid in dié lys steek nie, het die SAIRV se ontleders dit onder oë gehad en daar is geen rede om te glo dat dit nie eg is nie.

Die SAIRV het die omstandighede rakende die bekendmaking van die lys ontleed en tot die gevolgtrekkings gekom, dat:

  • die regering besluit het om plase te onteien voordat die proses van openbare deelname en die parlementêre proses daaroor afgehandel is. Dit strook met die kommentaar wat deur die regering en leiers van die regerende party gemaak is;
  • waardevolle en produktiewe eiendomme voorkeur sal kry wanneer onteiening ter sprake is. Dít is in stryd – soos die SAIRV nog altyd gewaarsku het – met die versekering van die regerende party en regeringsleiers dat net onproduktiewe grond onteien sal word;
  • die regering nie juis bekommerd is oor beleggersvertroue en -persepsies nie en dat hy sal voortgaan met onteiening ondanks die ekonomiese en ander gevolge. Dit blyk die regering sal hierna voortgaan om ander eiendom ook te onteien.

Die SAIRV sê voorts hy het lankal gewaarsku die ondermyning van eiendomsreg hou katastrofiese ekonomiese en maatskaplike gevolge vir die land in. “Ons voorspel dat die beleid van onteiening sonder vergoeding ’n sneller sal wees vir die val van die rand. Boonop sal internasionale beleggings wat die land invloei, opdroog. Binnelandse investering sal ook tot ’n einde kom en dit kan die ekonomie teen 2019 in ’n resessie laat verval, wat op sy beurt tot grootskeepse werkloosheid en armoede sal lei.”

Die SAIRV voorspel dat die scenario wat hom in Suid-Afrika kan afspeel, vergelyk sal kan word met die huidige ekonomiese en maatskaplike omstandighede in Venezuela en Zimbabwe.

Brief aan Ramaphosa

Die SAIRV het Suid-Afrikaners uitgenooi om ’n brief op sy webtuiste te onderteken wat die instituut aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het. Dit sal binnekort aan Ramaphosa afgelewer word.

Die SAIRV skryf in die brief aan Ramaphosa dat die ANC se “aanvaarding van die regime van onteiening sonder vergoeding”, die uitsonderlikste beleidsontwikkeling is waarmee Suid-Afrika sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996 gekonfronteer word.

“Dit het verreikende gevolge vir die ekonomie en daarom vir die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners.

Volgens die instituut is hy oorval deur internasionale instansies wat sy mening oor die toekoms van Suid-Afrika vra.

Ontleders van die SAIRV gaan vir die volgende drie weke ’n toer na Europa en Amerika onderneem om die vrae te probeer beantwoord, sê hy in ’n verklaring.

Die volledige brief is ook op die SAIRV se Twitter-rekening beskikbaar.

Meer oor:  Plaaslys  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.