Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: ‘Soveel haat in een vertrek’

’n Man is by Dinsdag se openbare debat oor grondonteiening in Ermelo in Mpumalanga uitgejou nadat hy gesê het God sal nie hou van wat by dié debat gebeur nie.

Johnny Mason, ’n boer in die omgewing, het gesê dat hy nog nooit soveel haat in een vertrek beleef het nie.

Amandla Mavuso, ‘n inwoner van Bethal, tydens haar spreekbeurt. Foto: Christiaan du Plessis

“Heel oggend sien ek nog heeltyd net swart vingers wat na wit mense toe wys. God het almal gelyk geskape,” het Mason gesê.

“Amen,” het een van die teenwoordiges geskreeu toe Mason met sy spreekbeurt klaargemaak het.

Die openbare debat is een van ’n reeks landswye debatte oor grondonteiening..

Julius Malema, EFF-leier, moes in ’n stadium die skare by die debat vra om alle sprekers se opinies te respekteer nadat sommiges uitgejou is.

Talle mense het boere daarvan beskuldig dat hulle plaaswerkers mishandel.

Godfrey Mogalo, ’n pastoor van Ermelo, het plase as aparte klein lande binne Suid-Afrika beskryf waar boere die reg in eie hande neem.

“Ons weet van gevalle waar boere mense op plase doodskiet en hulle met voertuie omry,” sê Mogalo.

In kort: Wat jy tot dusver moet weet oor die openbare debat oor grondonteiening in Ermelo

Grondonteiening sonder vergoeding sal nie die sosiale en ekonomiese probleme van Suid-Afrika oplos nie, is gesê.

* Grondonteiening sonder vergoeding moet plaasvind om armoede te verlig, is óók gesê.

* Talle sprekers het boere daarvan beskuldig dat hulle hul plaaswerkers mishandel.

* Daar is gesê dat wit mense ’n wanpersepsie het dat swart mense nie kan boer nie.

* Verder is teenwoordiges by die debat daarvan beskuldig dat hulle haatdraend teenoor wit mense is.

Volgens Amandla Mavuso, ’n inwoner van Bethal, bestaan daar ’n wanpersepsie dat swart mense nie weet hoe om te boer nie.

“Plaaswerkers boer klaar en daarom is dit onsinnig om te sê dat swart mense gaan sukkel om ’n sukses van hul boerdery te maak.”

Vroeër die dag is gesê dat grondonteiening sonder vergoeding nie Suid-Afrika se ekonomiese probleme sal oplos nie.

Hennie Laas van die Volksrust-boerevereniging het gewaarsku dat dit boonop die ekonomie kan beskadig en dié probleme vererger.

“Alle rolspelers in die private en die openbare sektor moet eerder saamwerk om ’n land te skep waar dit met alle Suid-Afrikaners voorspoedig gaan,” het Laas gesê.

Mense sing en dans voordat die grondhervormingsdebat in Ermelo begin. Foto: Christiaan du Plessis

Janneman Roberts, ’n verteenwoordiger van die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA), het gesê werkloosheid en armoede moet deur ekonomiese groei verlig word en nie deur grondonteiening sonder vergoeding nie.

“Ons moet ons land aanloklik vir beleggers maak en niemand gaan hier wil belê as die staat eiendom kan onteien nie. Ons kort entrepreneurs om werk te skep.”

Ander sprekers het egter gesê dat Suid-Afrikaners nie op die ekonomie in sy huidige vorm kan staatmaak om armoede te verlig nie.

Anton Mkanzazi van Bethal het gesê die huidige struktuur van die ekonomie verlig nie armoede nie en dat ’n ander benadering as grondonteiening sonder vergoeding gevolg moet word.

Die openbare debatte gaan oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

By dié debatte kry gewone mense kans om in ’n spreekbeurt van drie minute aan te dui of hulle saamstem dat die Grondwet gewysig moet word. Hulle kan redes vir hul mening verskaf en oplossings bied.

Meer oor:  Ermelo  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.