Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Voorstel ‘op nipper’ dat rol van hof afgeskaal word

’n Voorstel van die ANC om “staatsvoogdyskap oor grond” in te werk in die beoogde wysiging van die Grondwet om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, “is absoluut skrikwekkend”.

“Dit sal ’n skokgolf deur die landbousektor stuur,” het Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van die landbou-organisasie Agri SA se Grondsentrum van Uitnemendheid, Maandag gesê kort nadat dié en ander omstrede voorstelle in die parlement ter tafel gelê is.

Dié voorstelle het uiterse kommer uit veral die landbousektor ontlok – veral omdat Maandag die laaste dag van die mandaat was van die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses moet bestuur.

Die komitee, onder voorsitterskap van dr. Mathole Motshekga, het Maandag besluit hy gaan die Nasionale Vergadering (NV) vir ’n verlenging van 30 dae vra om hul werk te kan afhandel.

Dit sal ’n skokgolf deur die landbousektor stuur.

Dit het gekom nadat Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, daarvoor gevra het sodat bilaterale gesprekke tussen die ANC en EFF voortgesit kan word oor sleutelkwessies in die bewoording van die finale grondwetlike wysiging waaroor hulle nog nie konsensus bereik het nie.

Dít sluit in of die frases “sonder vergoeding of nul vergoeding” gebruik moet word of nie.

“Die ander kwessie gaan oor die staat se voogdyskap en die omvang daarvan. Die partye wil ook verder oor die 1913-afsnydatum praat met verwysing na restitusie,” sê Motshekga.

Intussen het De Chavonnes Vrugt verder Maandag saam met Annelize Crosby, hoof van grond- en regsake by Agri SA, in ’n verklaring gesê dié organisasie is ook heeltemal gekant teen nog ’n voorstel in die komitee “op die nippertjie” dat die “rol van die howe in onteieningsdispute afgeskaal word”.

“Dit soveel te meer wanneer daar sprake is van onteiening sonder vergoeding.”

Volgens hulle win Agri SA reeds regsadvies in oor dié voorstelle en sal hulle dit “met alles in ons vermoë” teenstaan.

“Voogdyskap van grond sal alle private grondeienaars van hul eiendomsreg sonder vergoeding ontneem en beheer oor alle private grond aan die staat gee. Dit is ’n resep vir ’n ekonomiese en humanitêre ramp en ’n uitnodiging vir grootskaalse korrupsie,” het Chavonnes Vrugt bygevoeg.

Dit soveel te meer wanneer daar sprake is van onteiening sonder vergoeding.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, glo Maandag se voorstelle deur die ANC is niks anders as ’n poging om die EFF voor die verkiesing te paai nie.

“Dit is baie duidelik dat die ANC se ommeswaai na bilaterale gesprekke met die EFF ’n poging is om steun in die komende verkiesing te wen.”

Dr. Annelie Lotriet, DA-koukusvoorsitter, het Maandag in ’n verklaring bygevoeg die ANC probeer om “uiterste toegewings aan die EFF oor die wysiging te maak in die hoop dat hulle die ANC sal help om ’n twee-derde-meerderheid in die NV te kry om die wetsontwerp deur te voer”.

Volgens haar wil die ANC “roekeloos” politieke punte deur die grondkwessie behaal ten koste van die nasie se ekonomiese stabiliteit.

Lotriet meen die DA sal egter enige pogings “heftig” teenstaan om veral die rol van die howe in die onteieningsproses te verminder “omdat dit die beskerming sal wegneem wat burgers geniet teen enige arbitrêre optrede van die staat”.

Sy het in die komitee ook gesê die DA wil die kwessie van “voogdyskap” verder bekyk “omdat dit baie ingewikkelder is as wat dit aan ons gestel is”.

Intussen het Shivambu Maandag weer die parlement se regsdienste van “politieke inmenging” beskuldig en voorgestel dat hulle van die wysigingsproses moet wegstaan. Dit is egter deur Motshekga en ander LP’s verwerp.

Meer oor:  Agri Sa  |  Eiendomsreg  |  Onteieningswet  |  Landbougrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.