Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: Vroue, veterane skep

Vroue, gestremdes en oorlogsveterane van die ANC moet die hoofbegunstigdes wees van toekomstige grond wat die staat uitdeel.

Dit is “om die klas van swart kommersiële landbouprodusente te laat herleef wat vernietig is deur die Wet op Naturellegrond van 1913”, lui ’n beleidsdokument wat op 3 Januarie vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Die dokument bepaal beleid vir alle grondtoekennings deur die regering vir kleinboere, bestaansboere, middelslagboere en groot boerderye asook vir huisvesting, nywerheidsontwikkeling en gemeenskapsgrond.

Die beleidsdokument maak dit egter duidelik dat die regering voortgaan om landbougrond te koop en te verhuur aan voornemende swart boere sonder dat hulle titelaktes daarvoor kry. Daar is in 2005 daarmee begin en dis in 2012 tot enigste meganisme vir die verdeling van landbougrond verklaar.

‘Dit gaan oor politieke korrektheid.’

“Ek het nog nooit gesien dat iemand werklik produktief op grond boer as hy dit nie besit nie,” sê Pierre Vercueil, president van Agri SA.

Die beleidsdokument stel voor politici en staatsamptenare kan ná “afkoelperiodes” vir die toeken van grond in aanmerking kom. Staatsamptenare se periodes is twee jaar, terwyl politici slegs ’n jaar ná hul uittrede vir grondtoekenning in aanmerking kan kom.

Die lewensmaats van staatsamptenare kan grond kry, mits hul verwantskap met die amptenaar verklaar word en “die staat meganismes ontwikkel om knoeiery met die stelsel en belangebotsings uit te skakel”.

’n Nasionale en ’n provinsiale paneel, wat saamgestel word uit “verteenwoordigers van alle rolspelers in die grond- en landbouhervormingsektor”, sal besluit wie grond gaan kry.

Die beleidsdokument rep egter g’n woord oor hoe die paneellede aangewys sal word nie. Die nasionale paneel sal grond ter waarde van meer as R50 miljoen toeken en die provinsiale paneel sal besluit wie grond van mindere waarde kry.

Daarna sal die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming volgens die dokument toesien dat die nuwe eienaars opleiding en ervaring opdoen om die grond produktief te benut – iets waarmee dieselfde departement die afgelope twee dekades klaaglik misluk het.

Dít is in verskeie navorsingstukke bevestig. So onlangs as Desember is in ’n omvattende navorsingsverslag van die Instituut vir Armoede-, Grond- en Landelike Studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland uitgewys dat die staat se onvermoë om begunstigdes van grondhervorming by te staan, een van die grootste oorsake vir die mislukking van grondhervorming is.

Dieselfde navorsing het uitgewys dat meer as ’n kwart van die plase wat die regering vir grondhervorming toegeken het, opgehou het om te produseer of feitlik niks produseer nie.

Plaas se navorsing is in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes gedoen om vas te stel tot watter mate grondhervorming deur elitegroepe soos politici, staatsamptenare en welvarende sakelui gekaap is. Daarvolgens het bykans die helfte van die plase wat in dié provinsies herverdeel is, in die hande van welvarendes beland wat dit gebruik om hul sakebelange te diversifiseer. Een van hulle is Thandi Mnyamana, tesourier van ’n tak van die ANC-vroueliga in KwaZulu-Natal.

’n Plaas van 330 ha is in 2015 aan haar toegeken vir verhuring. In 2016 is R2,3 miljoen aan haar toegeken om die plaas te “herkapitaliseer” en in 2018 is vee en plaaswerktuie aan haar geskenk om haar te help. Die plaas produseer nog steeds niks, lui Plaas se navorsingsverslag.

Die navorsers het soortgelyke voorbeelde in die Vrystaat opgespoor.

Landbou-organisasies het gesê die beleidsdokument is klaarblyklik ’n poging om korrupsie in grondhervorming hok te slaan. Dit is die eerste keer in meer as 20 jaar van grondhervorming dat ’n openlike, deursigtige beleid met maatstawwe vir die toeken van grond bekend gemaak word, sê Annelize Crosby, beleidshoof vir grondsake van Agri SA.

Die dokument druis plek-plek sterk in teen markgerigte ekonomiese beginsels. “Die staat kan nie die groot eienaar van eiendom word en dan op ’n huurbasis besluit wie dit gebruik nie. Daar word nie gesê hoe lank die huurkontrakte is nie. Daar is geen aanduiding wat word van grond waarop produksiepogings misluk het nie,” sê Vercueil. Hy glo egter nie grondhervor­ming in landbou gaan ’n groot bydrae maak tot armoedeverligting, wat die hooftema in die dokument is nie. “Ja, jy kan kleinhoewes buite die stede hê, maar mense wat sulke soorte eiendom het, moet ander werk ook hê om te oorleef. Dit gaan in werklikheid meer oor politieke korrektheid.

“Gemeenskaplike grond word ook nooit produktief gebruik nie. Die enigste plek waar dit al doeltreffend gedoen is, is in die Switserse kantons, wat hoogs gekwalifiseerde mense kry wat gemeenskapsgrond verhuur aan gekwalifiseerde mense wat tot voordeel van die gemeenskap landbou daarop bedryf. Maar dis nie wat hier voorgestel word nie – na my mening is dit nie volhoubaar nie,” sê Vercueil.

“Ons gaan egter beslis deelneem aan die proses en sal teen einde Januarie ’n volledige kommentaarstuk daaroor by die departement indien,” sê hy.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU, sê daar is geen twyfel dat die ANC sal sorg dat die verteenwoordigers op die panele gelaai gaan word met sy patronate nie. “As jy daaraan deelneem, gee jy dit net geloofwaardigheid, soos wat die proses om te onteien sonder vergoeding nou geloofwaardigheid kry,” sê hy.

Meer oor:  Pierre Vercueil  |  Bennie Van Zyl  |  Grondbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.