Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondbesetting by Grabouw: De Lille praat met gemeenskap

Onwettige grondbesettings naby Grabouw is besig om belangrike kommersiële bosbouprojekte te kelder, maar ná ’n hofbevel kan die gemeenskap nou verhoed word om hierdie grond verder te betree.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het in April ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien waarin sy ’n interdik gevra het om inwoners te keer om op grond wat aan die departement behoort, onwettige strukture te bou en dit te beset.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. Foto: Argief

De Lille is Sondag na die gemeenskap om eerstehands te hoor wat hulle griewe is en om ’n plan te maak om dit op te los.

Dié departement het sekere dele van die grond toegewys aan die departement van landbou, bosbou en omgewing wat dit hoofsaaklik gebruik vir plantasiedoeleindes.

De Lille se departement het op 29 Maart kennis gekry dat sekere dele van die grond onwettig beset word.

Die twee departemente het op 21 April ’n tussentydse bevel van die hooggeregshof bekom en dit is op 25 April aan die onwettige besetters beteken.

Die hof het die besetters tot 19 Mei kans gegee om die grond te ontruim en redes aan die hof te verskaf waarom die tussentydse bevel nie finaal gemaak moet word nie.

Luidens die tussentydse bevel mag nuwe besetters nie die grond beset nie, hulle mag niemand intimideer, dreig, aanval of enige wetstoepassende beampte daarvan weerhou om sy/haar pligte uit te voer met betrekking tot die grond nie. Hulle mag ook niemand aanhits om die grond te beset nie.

Die balju van die hof is toestemming gegee om enigiemand wat die bevel ignoreer, van die grond te verwyder.

Die hof het gelas hierdie bevel moenie met ’n uitsettingsbevel verwar word nie en die departemente en wetstoepassers word nie toegelaat om enige bestaande strukture af te breek nie.

Dit is bloot ’n tussentydse bevel om te keer dat meer inwoners die grond onwettig beset.

Luidens De Lille se departement is die grond waarop die besetters bly, grond wat die departement wou gebruik vir nuwe kommersiële bosboudoeleindes.

Die beplande nuwe gebruik van die grond sal die gemeenskap bemagtig, sê die departement.

“Die regering verstaan die nood vir behuising, maar onwettige optrede kan nie geduld word nie. Die staat het ’n wettige plig om sy eiendom teen onwettige besettings te beskerm,” sê die departement in ’n verklaring.

Die departement sal aan nuwe veiligheidsmaatreëls moet dink om die grond te beveilig.

De Lille sê daar is vyf stukke grond wat geoormerk is vir die ontwikkeling van behuising, maar het die gemeenskap ingelig dit is nie net die nasionale departement wat van hierdie grond besit nie, en provinsiale rolspelers moet ook hul kant bring.

Die nasionale departement moes grond aan die departement van menslike nedersettings beskikbaar maak vir die gebruik vir behuising. Die provinsiale regering sowel as die plaaslike munisipaliteit besit ook grond hier en moet ook bereid wees om grond beskikbaar te maak, sê sy.

De Lille sê sy sal saam met die plaaslike departemente werk om ’n oplossing te bereik.

Meer oor:  Grabouw  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.