Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondeise: Melmoth-boere kry ná 13 jaar hul prys

Ná ’n regstryd van sowat 13 jaar ná ’n reuse-grondeis, het grondeienaars in Melmoth, KwaZulu-Natal, uiteindelik die prys vir hul grond gekry wat hulle wou hê.

Vyf groepe eisers het in 2006 grondeise teen verskeie plase in die Melmoth-omgewing ingestel, maar daar was ’n geskil oor wat hulle vir die grond betaal moes word.

Sowat 42 000 ha was aanvanklik by die eis betrokke.

Annelize CrosbyFoto: Sarel van der Walt

Die grondeienaars het egter ter skikking van die eis sowat 9000 ha hoogs produktiewe landbougrond aan die staat aangebied teen R760 miljoen.

Maar die waardeerder-generaal het bepaal die grond is eerder R420 miljoen werd.

Annelize Crosby, Agri SA se grondhoof, sê die eis kon ’n jaar gelede al afgehandel gewees het, as Maite Nkoana-Mashabane, die vorige minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, en die waardeerder-generaal nie die onderhandelinge laat sloer het nie.

Crosby sê waardeerders, wat onderskeidelik deur die staat en die grondeienaars aangestel is, het in Maart 2018 ooreengekom dat die billike en regverdige vergoeding waarop die grondeienaars geregtig is ongeveer R760 miljoen beloop.

Nkoana-Mashabane was nie bereid om meer as die waarde wat die waardeerder-generaal bepaal het, te betaal nie.

Die grondeienaars, wat in hierdie stadium reeds miljoene rande aan regskoste bestee het, het hierna Agri SA se hulp ingeroep.

“In ’n toonaangewende uitspraak het die grondeisehof kort hierna beslis dat die grondeienaars nie gebonde is aan die waardebepaling van die waardeerder-generaal nie.

“Die grondeienaars kon hulle tot die grondeisehof vir ’n bepaling van die billike en regverdige vergoeding wend,” sê Crosby in ’n Agri SA-verklaring.

Die dispuut is vandeesweek in die grondeisehof in Durban op die spits gedryf.

“Kundiges wat deur die grondeienaars betrek is, het verslae by die hof ingedien. Die partye se raadgewers het die ooreenkoms wat in Maart 2018 tussen die waardeerders bereik het, bekragtig.

“Die waardeerders het ook ooreengekom dat daar meriete is in die opwaartse aanpassing van die waardes as gevolg van die tydsverloop sedert Maart 2018 wat gepaard gegaan het met ’n toename van die vergoeding waarop die grondeienaars geregtig is,” sê Crosby.

Die saak het volgens haar ’n verrassende wending geneem toe Thoko Didiza, die huidige minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ’n paar dae voor die verhoor ’n kennisgewing by die hof ingedien het ingevolge waarvan sy haar berus het by wat ook al die bevinding van die grondeisehof sou wees.

’n Dag voor die aanvang van die verhoor het die minister en die kommissie op herstel van grondregte ’n aanbod aan die grondeienaars gemaak om die grond vir ’n totale bedrag van R805 miljoen aan te koop.

Die grondeienaars het die aanbod aanvaar.

Die staat is ook aanspreeklik vir die grondeienaars se regskoste.

Crosby sê die uitkoms van die saak bring ’n mate van gerustheid vir grondeienaars oor deskundiges se hantering van billike en regverdige vergoeding.

Dan Kriek, Agri SA president, sê op sy beurt die uitslag van die saak is positief vir ander grondeienaars wat hulle moontlik in dieselfde posisie bevind as die Melmoth-grondeienaars.

“Die uitslag wys ook dat die staat nie maklik sal wegkom met aanbiedinge van vergoedingsbedrae wat baie laer is as markwaarde nie.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Annelize Crosby  |  Melmoth  |  Kwazulu-Natal  |  Boere  |  Grondeienaars  |  Grondeise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.