Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondgrypers in NMB: Wie gaan pa staan?
’n Gedeelte van Bobani Village langs die R334 by KwaNobuhle, net buite Uitenhage, waar plakkershuise opgeskiet het. Foto: Lulama Zenzile

Onwettige grondbesetters het minstens vyf informele nedersettings met sowat 2 000 plakkershuise in minder as ’n jaar in die Nelson Mandelabaai-metro se grondgebied tot stand gebring.

Van die metro se uithoeke by Colchester, deur dele van Port Elizabeth, ’n gebied naby Despatch, tot by KwaNobuhle verrys hout-en-sinkhuise, terwyl oop grond in die gebiede deurtrek is met houtpenne wat erwe afbaken om later huise te kan oprig.

Die aantal plakkershutte wat binne ’n jaar opgerig is, is sowat die helfte van die aantal laekostehuise wat die afgelope twee boekjare deur die departement van menslike nedersettings in die metro gebou is.

Inwoners van die informele nedersettings erken hulle beset die grond onwettig, maar sê hulle is desperaat en dat Mongameli Bobani, burgemeester van die metro, die groenlig gegee het toe hy gesê het geen “onwettige uitsettings” sal onder sy leierskap toegelaat word nie.

T.F. Busakwe was een van die eerste mense wat ’n huis op ’n oop stuk grond oorkant die Colchester-township, by ’n grensdraad van die Addo-Olifantpark, opgerig het. Foto: Lulama Zenzile

’n Informele nedersetting by KwaNobuhle, langs die R334, is selfs na die burgemeester vernoem en is onder inwoners as Bobani Village bekend.

“Jare lank luister ons raadslid nie na ons pleidooi vir huise nie, maar Bobani het, en daarom is dit net reg om hom so te vereer,” sê Nompulelo Jacobs, ’n inwoner.

Bobani Village is waarskynlik die gebied waar onwettige grondgrype die vinnigste in die metro toeneem.

Dié optrede het in Januarie spoed opgetel nadat amptenare Bobani Village besoek en alle huisstrukture afgebreek het om verdere grondgrype te voorkom. Daardie selfde dag het Bobani daar opgedaag, na die inwoners geluister en daarna beveel die inwoners se boumateriaal moet teruggegee word sodat hulle kan herbou.

Sedert dié voorval het die metro nog nie weer teen grondbesetters opgetree deur huisstrukture af te breek nie.

Mamkeli Ngam, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê dit is die munisipaliteit se plig om spoedig teen grondbesetters op te tree.

Ngam wou nie kommentaar lewer oor wat die gevolge vir die metro sal wees indien hy nie optree nie, en sê die fokus moet eerder wees wat sal gebeur as grondbesettings toegelaat word. “As daar nie opgetree word nie, sal dit net ’n kwessie van tyd wees voor die grondbesetters dienste eis, en vir dié onbeplande huise se infrastruktuur is daar nie ’n begroting nie.”

Plakkershuise in Colchester, is sowat 450 m weg van die woonbuurt. Foto: Lulama Zenzile

Die kwessie is onder die aandag van Babalo Madikizela, LUR vir menslike nedersettings, gebring, sê Simthandile Ford, die LUR se woordvoerder.

Volgens Ford is daar aan die LUR gesê ’n proses is onderweg om die situasie te hanteer.

Andile Mfunda, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings in die metro, het ’n onderhoud met Netwerk24 op die nippertjie gekanselleer en twee pogings om te herskeduleer was onsuksesvol.

By navraag oor hoekom die metro nie teen grondbesetters optree nie, het Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, só geantwoord: “Die munisipaliteit ontmoedig grondbesettings. Die munisipaliteit beplan om mense na verskillende diensgebiede te verskuif waar hulle vir huise sal wag. Dit hang alles af van geld aangesien die bou van huise, vir nou, nie deur die munisipaliteit beheer word nie.”

Opvolgvrae is nie onmiddellik deur Mniki beantwoord nie.

Ook Xolani Xundu, woordvoerder van Nomaindia Mfeketo, minister van menslike nedersettings se kantoor, sê die verantwoordelikheid berus by die metro om die probleme uit te stryk. Volgens hom sal die minister, ongeag van die omstandighede, nie grondbesettings kan ondersteun nie. Die minister waarsku indien daar nie opgetree word nie, sal die metro probleme vir homself en daarmee vir die res van die land veroorsaak.

’n Nuwe gedeelte in die Nelson Mandelabaai-metro waar plakkershuise opgerig word, is by Salt Lake in 4de Straat. Foto: Lulama Zenzile

“Georganiseerde planne vir menslike nedersettings is nodig om in die infrastruktuur-behoeftes van mense te voldoen. Daarsonder kan net probleme en chaos volg,” sê Xundu.

Benewens vir die grondgrypers in die metro se geloof dat Bobani hulle nie van die grond sal verwyder nie, dreig dié mense herhaaldelik om hul stemme in die komende verkiesing te weerhou.

Bantu Tyamzashe, gemeenskapsleier van die nuwe Emithini Village, oorkant Motherwell, sê hy en die gemeenskap met 300 huise is vol vertroue hulle sal nie van die grond verwyder word nie, aangesien Bobani self gesê het hulle sal binne vier weke dienslewering van elektrisiteit en water ontvang.

“As dit nie gebeur nie, sal ons bande brand en die paaie toemaak.”

In Colchester het plakkershuise van Constitutionstraat tot by ’n deel van die Addo-Olifantpark se grensdraad versprei. Grondgrypers het in September in die gebied inbeweeg. Daar bly bykans 100 mense in die gebied, wat as Mandela Village bekend staan. Enkele huise het ook hul eie krale vir hul vee aangebou.

T.F. Busakwe was een van die eerste mense wat in September uit die Colchester-township na die oop stuk grond oorkant die pad te skuif.

“Vir die eerste keer het ek vry gevoel. Hier waar ons nie vyf families in een huis is nie, kan ’n mens ’n ware bestaan voer. As ons nou verwyder word, sal nie een van ons hierdie jaar stem nie.”

Mthetho Klaas het in Januarie vir hom, sy vrou en hul drie kinders ’n huis hier opgerig. “Hier het niks op die stuk grond gebeur nie. Mense was jaloers op die oop grond.“Niemand sal hierdie huis van my wegvat nie, ek het 20 jaar vir my eie huis gewag en ek sal eerder doodgaan voor hierdie huis, as om dit af te staan.”

’n Groot deel van die bebosde gebied tussen die R75 en R367, naby Despatch, is deur grondgrypers ontbos, waarna die plakkershuise gevolg het. Daar word nou na die gebied as die Baywest- informele nedersetting verwys. Foto: Lulama Zenzile

Dié inwoners kry intussen water by die naburige township.

Water word meestal vrylik uitgedeel en Patsy de Lake, inwoner van die township, sê sy help graag die mense om op hul voete te kom. Sy hoop haar kinders en hul gesinne sal ook binnekort uit haar reeds oorvol huis trek en ’n nuwe tuiste in Mandela Village vind.

“Maar die bekommernis sit altyd in my agterkop. Die regering sê nou ons kan bou, dan nes die mense gevestig is, kom Pops (die polisie se openbare-polisiëring-eenheid) en skiet ons gatte af. Dit is wat my naar maak van die regering.”

Langs KwaDwesi tussen die R75 en die R367, naby Despatch, het plakkershutte verdubbel van die aantal wat in November deur die munisipaliteit afgebreek is. Sedertdien het die gebied as die Baywest- informele nedersetting bekend geword.

Nothemba Ndima, wat haarself as ’n gemeenskapsleier voorstel, sê die inwoners was aanvanklik skepties om wéér te begin bou, maar hulle glo in Bobani se belofte.

Die gebied is kort voor November met stootskrapers onwettig ontbos, in opdrag van die voornemende inwoners, wat ook daarvoor betaal het.

Funeka Maggie Ghana (89), bly by haar kleinseun in ’n plakkershuis in die Baywest- informele nedersetting, naby Despatch. Sy sê vir die eerste keer in haar lewe sal sy ook haar eie huis kan besit, sodra haar huis in die gebied opgerig word. Foto: Lulama Zenzile

Nadat meer as die helfte van die beboste gebied skoongemaak is, het die owerhede ingegryp om konstruksiemaatskappye te keer om met die ontbossing voort te gaan.

Inwoners het egter as plan B, die bosse aan die brand gesteek om die gebied verder te ontbos.

Ndima sê minstens 5 000 mense sal in Baywest kan woon.

Intussen sê Ford die departement van menslike nedersettings het tussen die 2016-’17- en 2017-’18-boekjaar 4 255 huise gebou. In die huidige boekjaar is 767 huise voltooi.

Minstens 55 behuisingsprojekte is vir tot en met die 2019-’20-boekjaar in die metro beplan.

In die geval waar ’n behuisingsprojek moet begin en die grond beset word, sal die departement eenvoudig saam met die metro werk om die situasie op te los, sê Ford.

Meer oor:  Grondgrypers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.