Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hervorming van grond: ‘Gebruik betroubare feite’
Ernst Roets (links), adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, luister Dinsdagoggend op 'n mediakonferensie van AfriForum in Centurion na Burgert Gildenhuys, uitvoerende direkteur van MapAble. Foto: Sarel van der Walt

Suid-Afrika het een van die mees ontwikkelde grondregistrasiestelsels ter wêreld en moet dit na behore inspan om die uitdagings in die land se grondkwessie aan te pak, sê Burgert Gildenhuys, uitvoerende direkteur van die geografiese inligtingstelsel-maatskappy MapAble.

Gildenhuys meen die data is baie bruikbaar, hoewel dit ook gebreke het en dus met omsigtigheid gebruik moet word. Ingeligte besluite kan slegs met betroubare data geneem word.

“Die data is daar, dit moet gebruik word, maar ’n mens moet versigtig wees om nie net dié data te gebruik wat jou saak versterk nie,” het hy Dinsdag op ’n mediakonferensie van AfriForum in Centurion gesê.

Hy het in opdrag van AfriForum ’n georuimtelike verslag oor grond en landbou-kwessies in Suid-Afrika opgestel.

“Ons is meer verstedelik as wat ons besef. Verstedeliking plaas groter druk op die beskikbaarheid van grond en waar die behoefte aan grond ontstaan,” het hy gesê.

Gildenhuys het bevestig dat in oorstemming met ander verslae is 24,03% van alle grond in die land in staatsbesit.

Dit sluit in grond wat aan die staat behoort, eertydse tuislande, gedeeltes van voormalige tuislande, sowel as dele vir natuurbewaring, maar met die uitsluiting van nasionale parke – soos die Krugerwildtuin en die Kgalagadi-oorgrenspark.

In KwaZulu-Natal is 52,32% van alle grond in staatsbesit, 42,66% in Limpopo, 34,65% in die Oos-Kaap, 32,72% in Mpumalanga, 31,99% in Noordwes, 19,90% in Gauteng, 15,59% in die Wes-Kaap, 11,20% in die Noord-Kaap en slegs 6,5% in die Vrystaat.

Die grondvraagstuk in Suid-Afrika word noodwendig aan ras gekoppel. Met die regering se grondouditverslag, sowel as die verslag van AgriSA van verlede jaar, is gepoog om grond aan ras te koppel.

“Die grondvraagstuk in Suid-Afrika word noodwendig aan ras gekoppel. Met die regering se grondouditverslag, sowel as die verslag van AgriSA van verlede jaar, is gepoog om grond aan ras te koppel.

“Dié poging is egter nie akkuraat nie, omdat data wat ras aandui sedert 1994 nie meer ingesamel word nie en beide die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en AgriSA noodwendig baie growwe aannames in die verband moes maak. Die akkuraatheid daarvan kan nie getoets word nie,” sê Gildenhuys.

Sy verslag stem saam met die verslag van die maatskappy Agricultural Development Solotions, Landbouweekblad en AgriSA, sowel as dié van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dat sowat 93,3 miljoen hektaar grond vir landbou in die land beskikbaar is.

Nie al dié grond is bewerkbaar nie.

Slegs sowat 26,4% van die grond het ’n potensiaal vir bewerkbaarheid. Om verskeie redes word net 9,74% van grond in Suid-Afrika kommersieel bewerk.

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê 57,8% van grondeise sedert 1994 was op grond in stedelike gebiede en nié op landbougrond nie.

Hy sê dit is reeds bekend dat 93% van mense wat grondeise ingehandig het, aangedui het dat hulle finansiële vergoeding bo grondrestitusie verkies.

Die regering het self al toegegee dat 90% van plase wat aan swart eienaars oorgedra is, misluk het.

Slegs 6% van die grond vir grondhervorming waaraan die regering al oor die jare sowat R45 miljard bestee het, is weer in private besit omgeskakel.

“Die verdraaiing van die verlede hou veral verband met die aanname dat wit grondeienaars grond noodwendig deur onderdrukking bekom het, terwyl die meeste grond wat in wit besit is, op ’n wettige wyse bekom is,”? sê Roets.
Meer oor:  Gronddebat  |  Grondhervorming  |  Grondeise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.