Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondkomitee hak vas oor korrekte prosedure
Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-Kaap. Foto: Denvor de Wee

Die parlementêre komitee wat ondersoek instel na die moontlike wysiging van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat, is gewaarsku dat hofsake kan volg as hy nie die korrekte prosedure volg nie.

Die grondwetlike hersieningskomitee het Donderdag sy werksaamhede oor die moontlike wysiging van die eiendomsklousule, art. 25 van die Grondwet, voortgesit.

’n Geredekawel oor prosedure en notules het die besprekings oorheers en daar was verwarring oor ’n verslag oor die geskrewe voorleggings wat ontvang is.

Sommige komiteelede het herhaaldelik daarop gewys dat besluite nie geneem kan word nie tensy die notules van die vorige vergaderings aanvaar is.

Opposisie-LP’s het Stan Maila, ANC-LP wat taamlik onlangs as medevoorsitter van die komitee aangewys is, teen prosedurele foute gewaarsku.

Dr. Corné Mulder, LP van die VF Plus, het gesê verskeie prosedurele foute is gemaak en komiteelede het nie ’n verslag oor die geskrewe voorleggings ontvang nie. “Ons het die skriftelike voorleggings nie ’n enkele sekonde bespreek nie.”

Glynnis Breytenbach, DA-LP, het met Mulder saamgestem. “Ek wil beklemtoon dat dit ’n belangrike proses is en dat prosedurele foute die tersydestelling van die hele proses kan veroorsaak. Die komitee moet betekenisvol aandag aan die geskrewe voorleggings gee. As ons dit nie doen nie, sal ons nie in staat wees om die Grondwet te wysig nie.”

Niemand praat oor die mondelinge voorleggings nie, ons is behep met die geskrewe voorleggings.
Vincent Smith

Deidre Carter, Cope-LP, wou weet wat van die honderde geskrewe voorleggings geword het wat per e-pos ontvang is en gewaarsku dat hofsake oor die prosedure kan volg.

Lede van die ANC het egter gesê die geskrewe voorleggings en e-pos is in ’n lokaal by die parlement beskikbaar gestel. Komiteelede het toegang daartoe.

Tebogo Mokweli, EFF-LP, het gesê ’n verslag oor die geskrewe voorleggings is opgestel. “Ons moenie vertraag word deur die kwessie van notules nie.”

Nadat die notules uiteindelik aanvaar is, het Steve Swart, ACDP-LP, gesê die komitee moet ’n voorlegging kry oor die verslag oor die geskrewe voorleggings.

Vincent Smith, ANC-LP, het gemeen so ’n voorlegging is onnodig omdat die geskrewe voorleggings ingesluit is in die verslag wat verlede week deur die komitee bespreek is en waaraan al die komiteelede deelgeneem het.

“Niemand praat oor die mondelinge voorleggings nie, ons is behep met die geskrewe voorleggings. Laat ons dit duidelik maak, daar is diegene wat vasbeslote is om die proses te vertraag en ons hof te toe neem. Ons moet dit in ag neem,” het Smith opgemerk.

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP, het ontken dat DA-LP’s behep is met die geskrewe voorleggings en daarop gewys dat die verslag wat verlede week bespreek is ’n verkorte verslag is.

Politieke partye het tot Maandag om aanbevelings aan die komitee te doen. Die plan is om die finale verslag teen 15 November te aanvaar, waarna daar in die Nasionale Vergadering daaroor gedebatteer sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.