Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grond: debat in Mbombela

Wat jy van Maandag se openbare vergadering oor grondonteiening in Mbombela moet weet:

  • Die belangrikste kwessies wat Maandag bespreek is, is of alle grond in Suid-Afrika genasionaliseer moet word en hoe dit dan verdeel sal word.
  • Geweld kan uitbreek as grondonteiening sonder vergoeding nié plaasvind nie, is hier gewaarsku.
  • Ander mense het kommer uitgespreek dat grond nie doeltreffend bestuur sal word deur die staat nie, en nasionalisering dalk tot korrupsie kan lei.
  •  Verteenwoordigers en leiers van politieke partye mag die openbare debatte bywoon ondanks vrese dat hulle dit kan kaap.
  • By die debatte kry teenwoordiges ’n spreekbeurt om aan te dui of hulle saamstem dat art. 25 van die Grondwet gewysig moet word om die weg te baan vir onteiening sonder vergoeding. Hulle kan dan redes vir hul besluit verskaf en oplossings bied. Die spreekbeurt is drie minute lank.
Stella Makgata (19) tydens haar spreekbeurt.Foto: Christiaan du Plessis

Geweld kan in die land uitbreek as grondonteiening sonder vergoeding nie gebeur het, het Nkuna Welcome van Mbombela, Mpumalanga, op Maandag se openbare debat oor grondonteiening hier gesê.

Hy het by wit mense gepleit om die proses van grondonteiening sonder vergoeding te steun. Hy sê alle grond moet aan die staat behoort.

“As wit mense die proses ondersteun, sal ons dalk uiteindelik in vrede kan saamleef.”

Kleinste Janse van Rensburg, ook van Mbombela, het gesê dat die regering grond nie doeltreffend sal kan bestuur nie.

“Die staat bewerk nie die grond nie. Dit is die mense wat grond moet bewerk en banklenings moet kry om te groei.”

As wit mense die proses ondersteun, sal ons dalk uiteindelik in vrede kan saamleef.

Talle sprekers het hul kommer uitgespreek dat die proses om grondonteiening tot korrupsie kan lei.

Ralph Meyer, ’n inwoner in die omgewing, het gesê die regering het in 1994 ’n klomp beloftes oor gratis behuising gemaak wat nie nagekom is nie.

“Nou maak die regering weer beloftes, hierdie keer oor grond. Ons moet mooi dink, want as die regering eers die grond het, sal hulle dit waarskynlik nie teruggee nie.”

’n Man het vroeër gesê dat wit mense deur die polisie in hegtenis geneem moet word omdat hul voorouers die grond “gesteel” het.

Die hele debatproses is eintlik onbenullig, want hoekom is ons besig om hier te praat oor iets wat regmatig ons s’n is?

Volgens Richard Ndaba, ’n inwoner in die omgewing, blyk dit uit Maandag se debat duidelik dat “Suid-Afrikaners hul grond terug soek.”

“Die hele debatproses is eintlik onbenullig, want hoekom is ons besig om hier te praat oor iets wat regmatig ons s’n is?”

Hierdie debat was een van ’n reeks landwye debatte oor grondonteiening.

Intussen het Vincent Smith, voorsitter van die wysigingskomitee oor art. 25 van die Grondwet, oor die debatte gesê dat dit ’n prentjie skets van hoe Suid-Afrikaners oor die kwessie voel.

“Ons kan dalk nie met elkeen in Mpumalanga praat nie, maar ons kry ’n idee.”

Smith het gesê leiers en verteenwoordigers van politieke partye mag die openbare sittings bywoon en spreekbeurte kry. Hy het geantwoord op kommer wat uitgespreek is dat die sittings deur politieke partye gekaap en as platform gebruik kan word om verkiesingsveldtogte te voer.

Politici wat Maandag se debat in Mbombela bygewoon het, is onder andere Julius Malema, EFF-leier, Mosiuoa Lekota, Cope-leier, en Glynnis Breytenbach, DA-parlementslid.

Die debat oor grondhervorming in Mbombela.Foto: Christiaan du Plessis

.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Gronddebat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.