Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondont-eiening: Groot boere plant nie

Sy gesprek met ’n sakeman het Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, Donderdag genoop om boere te paai om nie “paniekerig te raak” oor die grondhervormingsproses nie.

Op die vraag of hy bewus is van die paniek in die bedryf, het Zokwana op ’n mediakonferensie in die parlement gesê hy het Woensdag met ’n sakeman in die saadbedryf gepraat wat hom ingelig het oor die huiwerigheid van groot graanprodusente om saad vir die komende plantseisoen te koop.

Senzeni Zokwana

“Die oproep is op boere – diegene wat kos produseer – om nie paniekerig te raak nie, maar om seker te maak dat hulle deelneem aan die prosesse. Hulle is deel van die proses om ’n oplossing te vind.

“Die doelwit is nie om voedselproduksie te onderbreek nie, maar om regverdigheid te bring na die mense wat van hul eie grond ontneem is . . .” het Zokwana gesê.

“Die president en die ANC het die punt duidelik gemaak dat die proses te alle tye nie ’n impak op voedselsekerheid moet hê nie. Boere – almal daar buite, behoort te weet dat daar besprekings sal wees . . .”

Oudminister Roelf Meyer het gister die vrese dat Ramaphosa se aankondiging beleggers sal afskrik, toegeskryf daaraan dat mense nie die aankondiging deeglik verstaan het nie.

Meyer sê sy interpretasie van die aankondiging is dat die ANC voorgestel het dat spesifiek subartikel 8 van art. 25 van die Grondwet, wat handel oor eiendomsregte, gewysig word sodat dit meer spesifiek die omstandighede kan uitstippel waarin onteiening mag plaasvind en nie om die spesifieke artikel uit die Grondwet te verwyder nie.

Hy sê hy is deurlopend landwyd in gesprek met belanghebbendes in die landbou wat “geweldig baie doen om ontluikende boere te help om die landbou as produsente te betree”.

Hy meen een rede vir die stadige pas van grondhervorming is dat die regering self nie ’n spesifieke fokus het om die grondprobleem op te los nie. “Nou word die Grondwet geblameer. Dit is egter nie die probleem nie, maar eerder die gebrek aan toepassing van dit wat reeds kragtens die Grondwet met onteiening gedoen kan word.”

Meyer het voorgestel dat alle grondhervormingsprogramme en -planne so gou moontlik in ’n enkele regeringsagentskap onder die direkte bestuur van die president saamgevoeg word pleks daarvan om die huidige gefragmenteerde benadering te volg waarin verskeie staatsdepartemente elkeen ’n verantwoordelikheid ten opsigte van onteiening het.

“ ’n Oplossing vir Suid-Afrika se grondprobleem is moontlik, mits alle burgers begrip het vir die eise van voorheen benadeeldes én die vrese van huidige grondeienaars,” meen Meyer.

Roelf Meyer

Hy is deesdae voorsitter van die nie-winsgewende adviesmaatskappy In Transformation Initiative.

Meyer en Ramaphosa was saam sleutelfigure vir onderskeidelik die Nasionale Party en die ANC in die destydse Kodesa-onderhandelings vir ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika.

Dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê Ramaphosa het die aankondiging gedoen nadat daar volgens binne-inligting op die le­kgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) onverwags en suksesvol ’n voorstel gemaak is dat die onteiening van grond sonder vergoeding in die Grondwet ingeskryf moet word.

Dit was aanvanklik nie op die agenda nie.

Ramaphosa was weens strydende faksiebelange in ’n mate verplig om die aankondiging te doen en het daarop aangedring om dit self te doen, onder meer weens die impak daarvan op die ekonomie.

Volgens Croucamp wou Ramaphosa egter ook self verantwoordelikheid neem en wou hy ’n balans probeer vind deur terselfdertyd ook die stimuluspakket vir die ekonomie aan te kondig. 

Meer oor:  Senzeni Zokwana  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.