Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondoudit: Die geheimhouding moet end kry!
56% van alle private grondtransaksies was tussen swart mense.

Te midde van hernude oproepe om grond af te vat by dié wat “te veel” daarvan besit, wil ’n burgerregteorganisasie die regering dwing om besonder­hede van sy eerste grondoudit bekend te maak.

Right2Know (R2K) het op 30 Junie die eerste van ’n rits aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming te dwing om al die data van die eerste ­fase van die regering se grondoudit ­bekend te maak.

Volgens R2K vertrou hulle nie die ­regering se syfers oor wie die land se grond besit nie, want dit is onvolledig en skraps. Carina Conradie van R2K, wat dié Paia-projek dryf, sê hulle soek die volledige, ongeredigeerde data om die syfers te kan verifieer.

Die eerste fase van dié lank verwagte grondoudit is in 2013 afgehandel en die departement het die bevindings daarvan in 2014 in die parlement voorgelê. Die tweede fase dien tans voor die kabinet.

In die eerste fase is bevind 22% van grond is in staatsbesit en 78% in private besit. Afgevaardigdes van die departement het vroeër vanjaar aan LP’s gesê hulle kon ongelukkig nie bepaal hoeveel landbougrond in restitusieprojekte oorgedra is nie, omdat die “nasionale grondoudit” nog nie klaar is nie. Die departement kon ook nie in die 2013-grondoudit bepaal hoeveel grond in swart en wit besit is nie, omdat die aktekantoor sedert 1994 nie meer die ras aanteken van diegene wat titelaktes bekom nie.

Johannes Möller, president van Agri SA, sê daar is geen ordentlike syfers nie. “Dis frustrerend om die heeltyd te hoor boere het grond gesteel terwyl daar geen akkurate syfers is om te toon presies wie grond besit nie.”

Agri SA het ’n onafhanklike maatskappy gekontrakteer om in samewerking met Landbou Weekblad ’n grondoudit te doen en sodra dit afgehandel is, sal hulle dit aan die departement voorlê om die bevindings te staaf of te weerlê, sê hy. “Maar jy kan jou nie op die departement se syfers verlaat nie. Ons sal hopelik binne die volgende drie maande ’n voorlopige verslag oor ons oudit hê.”

In ’n studie van onder meer 35 000 grondtransaksies tussen 2010 en 2016 by die aktekantoor, het Landbou Weekblad en Johann Bornman van Agri Development Solutions (ADS) bevind swart Suid-Afrikaners skaf 17% van alle grond groter as 10 ha aan wat deur private grondverkope van die hand gesit is – en 56% van alle private grondtransaksies was tussen swart mense.

’n Verslag deur die ekonomiese konsultante Genesis Analytics, wat in 2014 deur die departement gekontrakteer is om die doeltreffendheid van die grondhervormingsproses tussen 1999 en 2013 te ondersoek, lui dié proses is “onvoldoende” en deurspek met probleme omdat die departement voortdurend herstruktureer en heelwat dokumente blykbaar vermis raak.

Daar is ook nie konsekwentheid in die stappe wat gevolg word in die hantering van grondeise en restitusieprojekte nie en onvoldoende navorsing veroorsaak dat dit lank vat om grondeise in die Staatskoerant te publiseer, lui die verslag, wat op die departement se webwerf beskikbaar is.

Die verslag toon grondeisdokumente het in ’n gemiddeld van 55,78% van gevalle in die Wes-Kaap, Limpopo, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap, weggeraak voordat die eise in die Staatskoerant kon verskyn. In die onderhandelingsfase het dokumente in ’n gemiddeld van 77,54% gevalle in dié provinsies weggeraak. Die Wes-Kaap is die voorloper: dokumente het in 97,8% van die gevalle in die onderhandelingsfase weggeraak.

Rapport het die departement Dinsdag om kommentaar genader oor onder meer die akkuraatheid van die grondoudit, die departement se vermoëns om grondeise te ondersoek, die vordering van die prekoloniale grondoudit wat voorgestel is deur pres. Jacob Zuma en Gugile Nkwinti, minister van grondhervorming, asook die bevindings van die Genesis-verslag.

Mabuse Simon Ratlhagane, kommunikasiebestuurder van die kommissie op die herstel van grondregte, het Vrydag gesê hy sal eers Dinsdag kan antwoord omdat hy verskillende eenhede in die departement sal moet nader vir antwoorde. Mtobeli Mxotwa, kommunikasiebestuurder van die grondeisekommissie, is nie by die werk nie, het Ratlhagane gesê, en voorgestel dat Rapport die kantoor van die waardeerder-generaal, Christopher Gavor, nader. Gevra of dit deel is van Gavor se pligte om die grondoudit te hanteer, het Ratlhagane gesê hy weet nie. Ook Linda Page, hoofdirekteur van strategiese kommunikasie in die departement en Nkwinti se woordvoerder, het Vrydag gesê sy sal nie navrae oor die grondoudit voor die einde van die dag kan beantwoord nie.

Meer oor:  Grondhervorming  |  Right2know
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.