Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Grondpaneel is soos spazawinkel bedryf’

Die boer Nick Serfontein, wat ’n lid was van pres. Cyril Ramaphosa se grondpaneel, sê die paneel is soos ’n “spazawinkel” bedryf.

Nick Serfontein. Foto: Deon Raath

Hy het dit Woensdag op ’n paneelbyeenkoms van die Broodsnyersplaas-boerevereniging se jaarlikse Groendag-byeenkoms tussen Middelburg en Bethal in Mpumalanga gesê.

Landbouweekblad berig Serfontein het gesê omdat dit so ’n belangrike paneel is, moet “dit op die lappe kom dat dit soos ’n spazawinkel” bedryf is.

“Hier waar ek is, is ek emosioneel gedreineer,” het hy gesê.

Serfontein en Dan Kriek, president van Agri SA, wat ook ’n lid van die paneel was, het ’n minderheidsverslag by Ramaphosa ingedien. Hy sê protokol vereis dat dit eers ná die hoofverslag ingedien kon word.

Die paneel is in September 2018 aangestel om die werk van die interministeriële komitee oor grondhervorming onder leiding van adj.pres. David Mabuza te ondersteun. Dit moes die komitee oor ’n wye reeks beleidskwessies, insluitende restitusie, die herverdeling van grond, verblyfsekerheid en landbou-ondersteuning adviseer.

Hulle het ook opdrag gekry om modelle vir die regering na te vors en te hersien vir die toepassing van ’n “regverdige en gelyke” grondhervormingsproses wat aandag gee aan die ongeregtighede van die verlede, asook om landbouproduksie en voedselsekerheid te verhoog en ekonomiese groei te bevorder.

Dr. Vuyo Mahlati, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskomitee en voorsitter van die African Farmers Association of South Africa (Afasa), het die paneel gelei.

Daar is uit landbougeledere skeptisisme oor die inhoud van die presidensiële raadgewende paneel se verslag.

Serfontein sê hy is baie optimisties dat die landbou-ontwikkelingsagentskap waaraan oudminister Roelf Meyer se In Transformation Initiative werk, in die toekoms ’n groot verskil sal maak, berig Landbouweekblad op Twitter.

Meyer het op die byeenkoms gesê meer inligting oor dié agentskap sal moontlik teen September bekend gemaak word.

Dit sal ’n openbare-private vennootskap moet wees. Die staat moet betrokke wees om geld uit die buiteland te lok, maar dit moet privaat gedryf word.

Hy het aan die boere gesê Suid-Afrika is steeds in ’n herstelfase nadat baie geld uit die land gevloei het toe oudpres. Jacob Zuma vir Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, afgedank het.

“Mense is moedeloos want hul sien nie die herstelpunt nie, maar die trajek het reeds sy draaipunt bereik,” het Meyer gesê.

Volgens hom het handelsbanke hulle met tot R10 miljard vir die beoogde landbou-ontwikkelingsagentskap verbind.

“Dit sal ’n openbare-private vennootskap moet wees. Die staat moet betrokke wees om geld uit die buiteland te lok, maar dit moet privaat gedryf word.”

Meyer meen die oordrag van grond vir grondhervorming moet begin met die 10% van plase wat in staatsbesit is.

Dié plase is nou die eerste keer geëvalueer.

Hy is nie oortuig dat die Grondwet wel gewysig gaan word vir onteiening sonder vergoeding nie, sê Meyer.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê Ramaphosa het ’n moeilike taak om die ANC se beleidsraamwerk én die land te bestuur.

‘Rampspoedige uitdagings vir kommersiële landbou’

Die belange van kommersiële landbou moet beskerm word om voedselsekuriteit en ekonomiese groei te verseker.

Sommige van die aanbevelings in die verslag van die grondpaneel wat pres. Cyril Ramaphosa geadviseer het, hou potensiële rampspoedige uitdagings vir die landbou en die toekoms van Suid-Afrika in, sê Dan Kriek, president van Agri SA, wat saam met Nick Serfontein ’n minderheidsverslag oor die kwessie ingedien het.

Kriek, wat hom vroeër in die openbaar van die finale verslag gedistansieer het, het in ’n verklaring gesê die proses wat deur die paneel gevolg is, het sy uitdagings gehad wat die struktuur en uitvoering betref het.

Volgens hom is die minderheidsverslag wat hy en Serfontein opgestel het, daarop gemik om duidelik aan te dui watter voorstelle hulle ondersteun of verwerp.

Hul minderheidsverslag is volgens hom “progressief” van aard en dit fokus op “volhoubare oplossings”.

“Dit bevat werkbare voorstelle oor onder meer die finansiering van grondhervorming en dit plaas ’n groot fokus op grondhervorming in landelike gebiede, die versnelling van grondhervorming en die vestiging van boere.

“Ek hou vol dat die belange van kommersiële landbou na my mening beskerm moet word om voedselsekuriteit en ekonomiese groei te verseker.”

Kriek het aangedui dat hy die minderheidsverslag aan Ramaphosa gestuur het en dié ontvangs erken het.

“Ek sal voortgaan om met die president oor die kwessie te praat en genoeg tyd aan hom gee om die minderheidsverslag te bestudeer.

“Ek bly ten volle verbind tot volhoubare grondhervorming en sal voortgaan om die verskeie projekte te ondersteun waarby my organisasie betrokke is,” sê Kriek. – Philda Essop

Meer oor:  Agri Sa  |  Cyril Ramaphosa  |  Dan Kriek  |  Nick Serfontein  |  Middelburg  |  Bethal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.