Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondpryse val 32%

Die pryse van landbougrond het met 32% gedaal sedert die ANC in Desember besluit het om ’n mosie oor die onteiening van grond sonder vergoeding op sy leierskonferensie by Nasrec te aanvaar.

Die ekonoom Johann Bornman, wat die enigste gesaghebbende databasis van landbougrondtransaksies sedert 1994 saamgestel het, se jongste syfers toon die gemiddelde prys van landbougrond het landwyd gedaal van gemiddeld R13 700 per hektaar in Desember tot R9 318 per hektaar in Julie.

Donker voorspellings oor die uitwerking van die onteieningsdebat op die landbou-ekonomie is dus reeds besig om waar te word en kan nou veroorsaak dat boere in die komende somerseisoen aansienlik minder aanplantings kan doen, sê Bornman.

“Dit beteken dat boere se balansstate herwaardeer sal moet word wanneer hulle nou met banke en ander finansieringsinstellings reëlings tref vir die somerseisoen.

“Wat ook al die uitslag van die onteieningsdebat gaan wees, die skade is gedoen,” het Bornman die afgelope week aan Rapport gesê.

Hy sê as jy ’n waardevergelyking doen – en jy kyk net na hoëgehalte landbougrond wat van die hand gesit is – is dit duidelik dat die prysdalings selfs nóg groter was.

Die prys van ­hoëgehalte landbougrond kan nou tot 40,9% minder wees as ’n jaar gelede.

‘Daar is minder grond verkoop teen laer pryse.’

Bornman sê enige ontleding van grondpryse landwyd moet ook omstandighede in spesifieke distrikte en provinsies in ag neem omdat die prentjie drasties van plek tot plek kan verskil. “As jy (byvoorbeeld) grond in die verskillende provinsies moet herwaardeer, was grond in die Oos-Kaap in Julie vanjaar gemiddeld 28% goedkoper as in Julie 2017. In die Wes-Kaap was die pryse 21,6% laer en in die Vrystaat slegs 1,2%,” sê hy.

Hy sê egter die landwye tendens is onmiskenbaar: Van ’n algehele hoogtepunt in die eerste helfte van verlede jaar het grondpryse die afgelope 12 maande dramaties begin daal en politieke onsekerheid en die onteieningsdebat is beslis ’n groot bydraende faktor.

Sy data wys ook op noodverkope – minder grond wat verkoop word teen ’n laer prys. Dit dui daarop dat boere, benewens politieke druk, ook onder finansiële druk verkeer.

Verskeie landboukenners, waaronder prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, bevestig dit.

Suid-Afrika is ook die afgelope week getref deur die nuus Dinsdag dat die land reeds in ’n tegniese resessie is.

“Dis is eenvoudig so dat banke in ’n resessie versigtig is en hul geldkrane begin toedraai. Die daling in grondpryse gaan kredietverlening aan die landbou nog moeiliker maak,” sê
Willemse.

Hy sê daar is groot gebiede in die Vrystaat waar boere plase probeer verkoop maar geen aanbiedinge kry nie, soos die 30 boere van Bultfontein oor wie Rapport verlede week berig het.

“In die sentrale dele van die land het hulle drie tot vier jare swak oeste gehad weens die droogte, maar in 2017 rekordoeste geproduseer. Ongelukkig was die pryse toe so laag dat baie boere nie hul skuld kon terugbetaal nie. Bate-laste-verhoudings het baie verswak.

“Veeboere het vee uitgeslag weens die droogte. Nou moet hulle teeldiere terughou om kuddes te herbou,” sê Willemse.

Die wildbedryf, wat vir baie boere ’n uitkoms gebied het wanneer ander vertakkings van die landbou swak winste oplewer, sukkel egter nou ook.

“Daar is nou ’n ooraanbod aan wildvleis. Boonop het die onteieningsdebat daarop uitgeloop dat sommige wildplaaseienaars kansellasies van buitelandse besprekings kry,” sê Willemse.

Volgens die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het sy lede op die oomblik R144 miljard se lenings wat in die landbou voorgeskiet is met landbougrond as sekuriteit.

’n Daling in die waarde van landbougrond sal egter ook die waarde van ander bates op plase laat daal wat met grond verband hou, soos trekkers en plaaswerktuie.

Dit sal daarop uitloop dat banke groter voorsienings sal moet maak vir risiko en dus minder aan die landboubedryf sal kan leen, het Basa Vrydag gesê in sy voorlegging aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee.

Mfundo Nkuhlu, bedryfshoof van Nedbank, het gesê die nuus dat grondpryse met 32% gedaal het, beteken dat bates op boere se boeke herwaardeer sal moet word. “ ’n Gedeelte van daardie 32% sal uiteindelik die kredietwaardigheid van elke boer raak,” het hy by navraag gesê.

Annelize Crosby, regs- en beleidsadviseur van Agri SA, sê dit is presies waarteen Agri SA Woensdag in sy voorlegging in die parlement gewaarsku het.

“Ek het nie verwag dit sal so vinnig gebeur nie,” sê Crosby.

Enoch Godongwana, ekonomiese beleidshoof van die ANC, het gesê dis moeilik om te oordeel of die data op ’n langtermyn-afswaai in grondpryse dui en of dit dalk ’n korter-termyn- neiging is wat weer kan terugswaai. “Dis iets wat ons fyn moet dophou,” het hy gesê.

Bennie van Rooy, finansiële hoof van die Landbank, het gesê die landbou beleef ’n perfekte storm met die uitwerking van die droogte, die ekonomiese resessie en onsekerheid oor die onteieningsdebat, maar ’n neiging kan oor ses maande nog omgeswaai word.

“Daar is wel gebiede soos die Wes-Kaap en die Oos-Kaap waar die verskil tussen die markwaarde en die produksiewaarde van grond ’n bekommernis word,” sê hy.

Bornman het gewaarsku dat die landbou ’n moeilike tyd binnegaan. “Boere moet versigtig wees om nie nou verkeerde besluite te neem weens die onteieningsdebat nie.

“Dis nie nou ’n grond-verkopersmark nie. Diegene wat wel koop, koop winskopies. As dit grond is wat jy die afgelope jaar gekoop het, gaan jy groot geld verloor. Pryse het geval van die topprys van sowat R16 000 per hektaar in April verlede jaar tot R9 000. Dis aansienlik,” sê hy.

“Grondpryse was in April verlede jaar (2017) op ’n hoogtepunt. Ons het ook verlede jaar rekordoeste geproduseer, want mens laat dink het boere maak baie geld. Maar produkpryse was baie laag. Die omset van grondverkope het sedert verlede jaar aansienlik gedaal. Boere wat nou grond verkoop, doen dit uit nood.

Bornman se grondoudit, wat oor drie jaar gedoen is van alle transaksies met landbougrond sedert 1994, het laat verlede jaar gewys dat swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners 26,7% van Suid-Afrika se landbougrond besit. Die gehalte van die grond in swart besit is so hoog dat dit egter 46% van Suid-Afrika se landboupotensiaal verteenwoordig.

Meer oor:  Johann Bornman  |  Grondbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.