Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondtaks vir boere beplan

Die president se taakspan oor grondhervorming maak Sondag ’n rits voorstelle soos ’n grondwetwysiging, die moontlikheid van ’n grondbelasting vir boere en perke op eienaarskap.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, sal Sondag die verslag bekend maak, maar sonder veel klem op die besware en voorstelle van Dan Kriek, president van Agri SA, en die megaboer Nick Serfontein.

Rapport het vroeër berig die verslag stel ’n grondwetwysiging voor om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak onder sekere gevalle en met streng voorwaardes.

Die paneel verwys na dié voorwaardes soos vervat in die Wetsontwerp op Onteiening. Dis gevalle waar huurarbeiders op die grond bly, waar grond net vir spekulatiewe doeleindes gehou word, grond in staatsbesit, waar die eienaar van die grond afstand gedoen het of waar regeringsubsidies aan die eienaar meer was as die huidige markwaarde.

‘Daar is net een verslag aanvaar.’

Die finale verslag beveel verreikende stappe aan:

  • Die Ingonyama-trust in KwaZulu-Natal moet óf ontbind word óf erg gewysig word.
  • ’n Grondbelastingkommissie moet aangestel word oor die wenslikheid om landbougrond te belas om mense te “ontmoedig om groot stukke onproduktiewe grond te hou”. Individue met te veel grond – bo ’n perk wat bepaal moet word – behoort “bestrawwende belasting” te betaal.
  • Die regering moet versigtig omgaan met wetgewing oor gemeenskaplike grond en seker maak dis nie “paternalisties” of bepaal deur “Westerse heersende kultuur” nie.

Die paneel beveel ’n Wetsontwerp op Grondregister aan om liewer op ’n ander manier ’n register te hou van die sowat 60% van Suid-Afrikaners wat nie ’n titelakte vir die eiendom het waarop hulle woon nie.

  • ’n Grondregtebeskermer moet aangestel word om korrupsie te keer en ook sake na die vervolgingsgesag te verwys.
  • ’n Grondhervormingsfonds moet gestig word.
  • Kerke, myne, maatskappye, landhere en individue moet aangemoedig word om “grond vir herverdeling te skenk”.
  • Die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper moet finaal geskrap word. Die paneel het skerp kritiek gelewer teen die waardeerder-generaal, wat glo te veel klem lê op markwaarde wanneer pryse bepaal word.
  • Die paneel vra pres. Cyril Ramaphosa om ’n openbare beroep te doen om alle plaasuitsettings te keer.

Dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die taakspan, het Woensdag ’n voorlegging oor hul bevindinge aan die kabinet gemaak. Verskeie lede van die taakspan het die voorlegging bygewoon.

Een van hulle was Kriek, wat in ’n stadium toegelaat is om die kabinet toe te spreek. Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep, was egter nie by die kabinetsvergadering nie.

In Kriek en Serfontein se aanvullende verslag waarsku die twee teen die gevare wat die proses inhou om die Grondwet te wysig.

Kriek en Serfontein was voorheen baie uitgesproke oor die ongeorganiseerde en by tye oorhaastige manier waarop Mahlati die taakspan sy werk laat doen het en die min tyd wat afgestaan is aan voorstelle wat die georganiseerde landbousektor aan die taakspan wou doen.

Phuti Mabelebele, Didiza se woordvoerder, het aan Rapport gesê daar is net een verslag wat aanvaar is.

In dié verslag, wat Rapport gesien het, word Kriek en Serfontein se besware wel kortliks genotuleer.

Kriek en Serfontein het Vrydag gesê hulle albei ondersteun die hoofpunte in die verslag wat vandag bekend gemaak is, maar het ’n aanvullende verslag geskryf omdat hulle meen belangrike aspekte van grondhervorming word nie in die hoofverslag gedek nie.

Die parlement het ook Donderdag die aanwysing van ’n nuwe ad hoc-komitee aanvaar wat ’n voorstel vir ’n wysiging aan die Grondwet moet opstel om die eiendomsklousule, art. 25, te wysig sodat dit “uitdruklike voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding waarop reeds gesinspeel word”.

Opposisiepartye, onder wie die VF Plus, die DA en die ACDP, het gewaarsku dat ’n wysiging nie moontlik is nie omdat daar onherstelbare gebreke was in die openbare sittings en die openbare deelnameproses wat verlede jaar deur die parlement se grondwetlike hersieningskomitee gevolg is oor ’n moontlike wysiging van art. 25.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Ingonyama-Trust  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.