Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondwet eis van ons om ’n gemeenskap te bou
Trevor Manuel (middel) by die bekendstelling in Johannesburg van die nuuswebwerf Huffington Post SA. By hom is sy vrou, Maria Ramos (links) en die TV-persoonlikheid Ruda Landman, ’n direksielid van Media24. Foto: Huffington Post SA

Suid-Afrika se Grondwet is geskryf met die idee dat daar altyd iemand soos ’n pres. Nelson Mandela aan stuur van sake sou wees.

Só het Trevor Manuel, ’n voormalige minister van finansies, Sondagmiddag in Johannesburg by die amptelike bekendstellingsfunksie van die nuuswebwerf Huffington Post SA gesê. Manuel was die hoofspreker.

Die oudminister het gesê toe die Grondwet geskryf is, is dit gedoen met die hoop dat die president nie sy mag sou misbruik nie.

Met verwysing na pres. Jacob Zuma het Manuel, ’n uitgesproke teenstander van die president, gesê die gevoel jeens Zuma “is gefikseer op die mislukkings van een mens”.

Dit bekommer hom dat wanneer Zuma onder druk is, hy terugwyk na provinsies soos KwaZulu-Natal en Mpumalanga waar hy veilig voel. “Vir hom is dit plekke van veiligheid.”

Manuel het gesê hy droom oor ’n Suid-Afrika waar daar “sosiale solidariteit is” en waarin almal vir mekaar omgee soos dit in die Grondwet uitgestippel word.

’n Gemeenskap is ’n verhouding tussen hulle wat leef, hulle wat reeds dood is en dié wat nog nie gebore is nie
Trevor Manuel

Dit is nodig dat die land ’n nasie bou en ons moet ons afvra hoe bring ons 11 verskillende gemeenskappe bymekaar, het Manuel gesê.

“Die taak om ’n gemeenskap in ons moeilike omstandighede te bou, is ’n voortdurende taak. Ons Grondwet is baie duidelik daaroor.

“Ons moet self op ’n voortdurende basis verantwoordelikheid neem vir die land wat ons hoop om te word,” het Manuel gesê.

“ ’n Gemeenskap is ’n verhouding tussen hulle wat leef, hulle wat reeds dood is en dié wat nog nie gebore is nie.”

Manuel het vertel terwyl die verskillende partye in die parlement destyds die Grondwet geskryf het, was daar baie kommunikasie oor partygrense heen.

“Ons het saam aan ’n konsepgrondwet geskaaf, tot laat snags saamgewerk, saamgeëet, krieket en rugby gespeel, maar nie bedreig gevoel deur die T-hemde van die ander partye nie.

“Ons het verskillende sienings gehad en moes mekaar probeer oortuig terwyl die res van die gemeenskap na ons gelyk en gevra het waarom ons mekaar voortdurend aan die keel gryp.”

Sterk leierskap het gehelp dat die verskillende partye met mekaar aanhou praat het, het Manuel gesê.

Meer oor:  Ruda Landman  |  Trevor Manuel  |  Maria Ramos  |  Johannesburg  |  Politiek  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.