Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondwet móét sê wanneer vergoeding nul sal wees

’n Lys van spesifieke omstandighede waar ’n hof kan bepaal dat die vergoedingsbedrag vir grond wat onteien word, “nul” sal wees, moet in die Grondwet uitgestippel word.

LP’s van die DA en VF-Plus was Donderdag onversetlik daaroor op ’n sitting van die parlementêre ad hoc-komitee wat wetgewing moet skryf om art. 25 van die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Ook die ACDP het sy kommer daaroor uitgespreek.

Ingevolge die voorgestelde formulering van die wysigings soos vervat in die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat Dinsdag aan LP’s voorgelê is, moet art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof mag bepaal waar grond of enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, die vergoedingsbedrag nul is.

Nóg ’n voorgestelde wysiging is dat nasionale wetgewing die spesifieke omstandighede uiteensit waar ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Die DA en VF-Plus is egter heftig daarteen gekant dat só ’n lys van spesifieke omstandighede in nasionale wetgewing vervat word.

Dit beteken egter nie dat dit onmoontlik is om ’n lys in die Grondwet aan te bring nie. Dit is moontlik.

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP, was vasberade dat dié lys in die Grondwet uiteengesit moet word.

Sy is ondersteun deur haar kollega, adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, wat gesê het dat as só ’n lys nie in dié wysiging aangebring word nie, sal dit die voorgestelde wysiging “vaag maak en dit oopstel vir ’n grondwetlike aanval”.

Steve Swart, ACDP-LP, sê die party deel ook die kommer oor die nasionale wetgewing en die party is ten gunste daarvan dat die spesifieke omstandighede in die Grondwet uiteengesit moet word.

Adv. Charmaine van der Merwe, staatsregsadviseur, het daarop gewys dat die Grondwet meer ’n raamwerk is en dat die aanbeveling is dat die lys eerder in nasionale wetgewing aangebring behoort te word.

“Dit beteken egter nie dat dit onmoontlik is om ’n lys in die Grondwet aan te bring nie. Dit is moontlik,” sê sy.

Dr. Corné Mulder, VF Plus, het die komitee gewys op ’n toespraak wat pres. Cyril Ramaphosa in Augustus gelewer het waarin hy gesê het dat die ANC ’n wysiging aan die Grondwet sal finaliseer wat die omstandighede sal uiteensit waaronder grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

“Ingevolge die voorstelle is daar geen omstandighede nie. Die voorstel sê dit is moontlik om nul-vergoeding te hê. Nou wil julle hê ons moet aanvaar dat die lys aangebring sal word in algemene wetgewing wat eers later aanvaar sal word.”

Volgens Mulder is dit nie wat die president in gedagte gehad het nie.

Hy het daarop gewys dat ’n meerderheid van twee derdes vereis word om die Grondwet te wysig, terwyl nasionale wetgewing ’n meerderheid van net 50% vereis.

“Wanneer jy eiendom; die Handves van Menseregte hanteer, dink julle nie daar behoort absolute duidelikheid te wees nie?”

Ander klousules in die Grondwet wat oor byvoorbeeld onderwys handel, spel volgens Mulder al die verskillende omstandighede uit. “Maar wanneer dit by eiendom kom, word daar gesê vertrou ons met slegs ’n breë raamwerk. Ek vertrou julle nie,” sê Mulder.

Die komitee het Donderdag ooreengekom dat die wysigingswetsontwerp volgende week in die Staatskoerant gepubliseer sal word wat die deur sal oopmaak vir openbare kommentaar. ’n Advertensie sal op 2 Januarie in nasionale koerante gepubliseer word vir openbare kommentaar tot 31 Januarie.

Meer oor:  Grondwet  |  Vergoeding  |  Landbou  |  Onteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.