Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grondwet-waghond: Howe moet nou sê oor OB en Cyril

’n Hof sal besluit oor pres. Cyril Ramaphosa se vermoedens dat adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), dalk sekere inligting in haar ondersoek teen hom onregmatig bekom het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Daily Sun

Lawson Naidoo, direkteur van die grondwetwaghond Casac, het Donderdag so by navraag gereageer.

Dít kom nadat regter Aubrey Ledwaba, adjunk-regter-president van die hooggeregshof in Pretoria, Donderdag besluit het om sekere inligting op versoek van Ramaphosa te verseël wat Mkhwebane in haar ondersoek na hom bekom het.

Inligting oor sekere ondernemings en stigtings se bankstate asook e-posse word onder meer in Mkhwebane se verslag gelys.

Mkhwebane het vroeër bevind Ramaphosa het die parlement mislei oor ’n R500 000-skenking van die omstrede dienstemaatskappy Bosasa, vir sy CR17-veldtog om die president van die ANC te word. Ramaphosa het aangekondig dat hy dié verslag in die hof op hersiening gaan neem.

Sy regspan het verder verlede week aan Ledwaba geskryf dat hy “rede het om te glo” sekere dokumente is dalk onwettig deur die OB bekom. Mkhwebane se kantoor het egter heftig ontken dat die bankstate onwettig bekom is en sê dit is inligting wat van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) afkomstig is.

Op ’n vraag oor of daar teen Ramaphosa opgetree kan word as bevind word dat dié inligting regmatig deur die OB bekom is, sê Naidoo dit sal van die hersieningsaansoek afhang.

Hy sê die proses moet gefokus wees op die hof se besluit in die hersieningsaansoek wat sal bepaal of die inligting toegelaat moet word as deel van die hofrekord en of dit as vertroulike inligting hanteer moet word.

Die verseëling van die dokumente is slegs ’n tydelike maatreël om privaatheid te beskerm.

Die verseëling van die dokumente is slegs ’n tydelike maatreël om privaatheid te beskerm.

Twee aspekte is volgens Naidoo ter sprake: die rekord wat met die bankstate verband hou en toegang tot persoonlike e-posse. Terwyl daar aangevoer word dat die bankstate wettig vanaf die FIS bekom is, is daar ook die kwessie van die toegang tot die e-posse. Die hof sal egter daaroor besluit.

* Selby Baqwa, die eerste openbare beskermer (OB), het in 2000 die parlement aangemoedig om teen Penuell Maduna, destydse minister van minerale en energiesake, op te tree. Dit was nadat hy in sy verslag bevind het dat Maduna “teen die gees van die Grondwet” opgetree het toe hy vir Henri Kluever, eertydse ouditeur-generaal (OG), daarvan beskuldig het dat hy gehelp het om “verliese” van die Strategiese Brandstoffonds toe te smeer.

Baqwa het bevind dat dié bewering “ongegrond en ongrondwetlik” was en dat dit optrede deur die parlement verdien. Hy het bevind dat Maduna sekere dele van die Grondwet oortree het wat die onafhanklikheid en integriteit van sekere grondwetlike instellings soos die OG waarborg en wat voorskryf dat verskillende staatsliggame in goeder trou teenoor mekaar moet optree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.