Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Groot foute met ramphulp vir die kleinboere

Omdat die R1,4 miljard-noodplan vir kleinboere tydens die Covid-19-ramptoestand voorskriftelik en onbeholpe afgedwing is, is duisende kleinboere daarvan uitgesluit.

Kleinboere wie se aansoeke om hulp geslaag het, het elektroniese koopbewyse gekry waarmee hulle vir toerusting, saad en ander insetkoste kon betaal, maar dit was beperk tot items wat hulle nie regtig nodig gehad het nie, het nieregeringsorganisasies (NRO’s) verlede week op ’n seminaar oor die sukses en foute van die noodplan gesê.

“Dit het tot ’n groot sekondêre mark gelei waarin kleinboere wie se aansoek vir hulp goedgekeur is hul koopbewyse verkoop het,” sê dr. Laurel Oettle, direkteur van die Vereniging vir Landelike Ontwikkeling, wat verskeie NRO’s in KwaZulu-Natal as lede het.

“Die manier waarop dit toegepas is, het gewys daar is min begrip vir wat nodig is om insette by boere op grondvlak te kry.”

Kleinboere lewer kos aan sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners.

Kleinboere wat hulp gekry het, was verplig om die koopbewyse by gevestigde landboukoöperasies soos Senwes en Noord-Transvaal-koöperasie (NTK) in te ruil. Gevolglik was die inperking vir dié koöperasies ’n bloeitydperk.

“Die koöperasies het markte verloor weens die sluit van grense, sodat boere uit Zimbabwe en Mosambiek nie meer by hulle kon koop nie. Maar die koopbewyse wat die staat aan kleinboere uitgereik en wat net by die koöperasies gewissel kon word, het meer as vergoed daarvoor,” sê dr. Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

“Die NTK het R40 miljoen van die regering gekry (om insetprodukte aan die houers van koopbewyse te lewer) en Senwes R20 miljoen. Staatsgeld is dus gebruik om die finansies van groot maatskappye ’n hupstoot te gee,” sê Hall, wat onderhoude met amptenare van die koöperasies gevoer het.

Die eerste fase is op 6 April 2020 aangekondig. Dit was beperk tot kleinboere met ’n jaarlikse omset van tussen R20 000 en R1 miljoen.

As hulle gekwalifiseer het, het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling koopbewyse van tot R50 000 by die koöperasies aan hulle toeken.

“Amptenare het egter besluit waarvoor dit geruil mag word,” sê Hall, wat die uitwerking van die programme veral in Limpopo nagevors het.

Die departement het sy begroting van R1,4 miljard vir grondhervorming daarvoor gebruik. Die gevolg is dat die regering verlede jaar geen plase vir grondhervorming aangekoop het nie.

’n Tweede hulpprogram het in Oktober begin. Dit was ook ’n koopbewysprogram wat die Solidariteitsfonds saam met die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie aangepak het en is steeds aan die gang.

’n Derde program, die presidensiële indiensneming-stimulus-inisiatief, is in Desember deur Thoko Didiza, minister van landbou en grondhervorming, aangekondig.

“In die tweede en derde programme is verbeteringe aangebring wat gewis uit die raad van nieregeringsorganisasies gevolg het. Dis belangrik, want dit gebeur maar min dat insette van die burgerlike gemeenskap deur amptenare aanvaar word,” het Oettle gesê.

Hul raad het veral meegebring dat beperkende vereistes vir hulp effens verslap is.

“Ons het geleer dat ons baie spesifiek en duidelik moet wees in ons voorstelle. Stelsels van die regering is aanvanklik gebruik sonder ’n behoorlike databasis of sonder hoegenaamd enige databasisse van kleiner landbouprodusente.”

NRO’s wat tydens die streng inperking in staat was om personeel in die veld te kry wat regstreeks met kleinboere saamgewerk het, het ’n baie hoë sukseskoers gehad.

“Maar NRO’s se vermoëns word minder omdat hul finansiering inkrimp. Daarom is daar ernstige kommer dat die behoeftes en probleme van klein landbouprodusente al meer agterweë gelaat word,” sê Oettle.

“Tot dusver het hulle klein toelaes gekry in die vorm van koopbewyse, maar daar is geen waarborg dat die hulp gaan aanhou nie. Hoe gaan die boere aanhou produseer wanneer hul moeilike omstandighede voortduur te midde van die toenemende finansiële krisis?” het sy gevra.

Kleinboere lewer kos aan sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners deur informele markte en ander meganismes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.