Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Groot stryd in VS teen korrupsie en dié met Gupta-bande

“Ons is in ’n stryd teen die olifant van korrupsie wat die Vrystaat, die Mangaung-metro en ander munisipaliteite in die provinsie gestroop het. Dit is mense met baie dollars in bankrekeninge en met Gupta-bande . . . terwyl die Vrystaatse provinsiale regering en sy munisipaliteite in duie stort.”

Dit is die mening van Monnapule Ntamo, woordvoerder van ’n groep ontevrede ANC-lede in die Vrystaat wat op 11 November ’n protesoptog na die O.R Tambo-gebou in Bloemfontein lei om beswaar te maak teen die vermeende plundery van Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, en Olly Mlamleli, voormalige burgemeester van Mangaung en ’n beskuldigde in die Vrystaatse asbesdak-skandaal van R255 miljoen.

Dié saak kom weer op 11 November, die dag waarop die protesoptog beoog word, voor die hof. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het te kenne gegee nog twee of drie mense moet in hegtenis geneem word in verband met dié saak.

Ntamo sê geen politieke affiliasies word gekoppel aan die beplande optog nie, maar “afvallige Vrystaatse ANC’s” wat deel was van die groep wat in 2018 in die hooggeregshof in ’n leierskapstryd gewikkel was nadat hulle ’n aansoek in Bloemfontein gebring het, sal betrokke wees. Ntambo was toe ook die woordvoerder van die groep.

Monnapule Ntamo

In dié saak is die hof gevra om die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC (PUK) in die Vrystaat te ontbind omdat hulle gemeen het die ANC-konferensie waar die leiers in Bloemfontein verkies is, was onwettig.

“Ons het die saak op ’n basis van dringendheid verloor,” sê hy.

“Maar ons het appèl teen die hofuitspraak aangeteken en wag nou op ’n datum waarop die saak aangehoor kan word nadat ons reeds toestemming gekry het om te mag appelleer.”

Ntamo sê dit was ook hul groep se lede wat sowat twee weke gelede saam met ander ANC’s in die Vrystaat na Luthuli-huis opgeruk het om te vra Magashule moet verantwoordelik gehou word vir die beweerde wanbesteding en korrupsie in die provinsie toe hy die premier was. Hy verwys na projekte soos die Vrede-suiwelprojek en die asbesdak-projekte.

Ntamo sê met die reëlings vir die protesoptog word hy bygestaan deur Themba Zweni, voormalige raadslid van Mangaung en ondervoorsitter van die ANC se wyk 19, John Gwayi, ’n organiseerder van die vakbond Nehawu in die Vrystaat, Thoko Mokoenyane, ook ’n voormalige raadslid van Mangaung en ’n lid van die ANC se wyk 2 in Mangaung, en Shirley Mokoena, ’n sakevrou van Bloemfontein.

“Maar die optog is vir almal in die gemeenskap – wit, bruin en swart en word nie onder ’n politieke sambreel gelei nie, maar onder dié van ontevredenes in die gemeenskap.”

Ntamo sê hy het ook die Mangaung Crisis Committee gestig waarvan hy die voorsitter is.

“Ons is bekommerd oor die metro wat nooit ’n metro moes wees nie, maar wat ’n metro geword het weens die verhewe aspirasies van Magashule om meer staatstoelae vir die streek te kry. Ons is ook bekommerd oor die toenemende gesukkel van die metro om amptenare se salarisse te kan betaal en die balju wat op vullislorries beslag lê oor wanbetaling aan krediteure.”

Ons het ook vrae oor:

• Die R108 miljoen wat aan konsultante bestee is met die Ramkraal-ontwikkeling vir ’n nuwe Vrystaatse wetgewergebou in Bloemfontein, wat nooit gebeur het nie.

• Die Bloemfonteinse dieretuin wat ná 114 jaar tot niet gemaak is.

• Die taxistaanplek wat in Magashule se tyd vir R400 miljoen gebou is, wat steeds nie werk nie; en

• Die klomp paaie in die township soos Moshoeshoe- en Lovedale-weg waaraan daar al drie jaar gewerk word en steeds onder konstruksie is.

Ntamo sê hy is die voormalige burgemeester van die Mohakare-munisipaliteit (Zastron, Rouxville en Smithfield) en was vroeër ook ’n onderwyser.

Hy het later in die afdeling mensehulpbronne in die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer gewerk waar hy glo in opdrag van Magashule deur Mzwandile Msibi, destydse departementshoof, in die pad gesteek is.

Volgens Ntamo is dié saak voor die arbeidshof.

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Mangaung  |  Staatskaping  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.