Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat ken grond toe

Meer as 436 000 ha staatsgrond is sedert Februarie verlede jaar as deel van die regering se grondhervormingsprogram vir begunstigdes beskikbaar gestel.

En om te verseker dat begunstigdes dié grond produktief bewerk, sal die regering ook R1 miljard se ondersteuning aan hulle gee.

Volgens adj.pres. David Mabuza sal dit in die vorm van finansiering en ander hulp wees.

Mabuza, wat voorsitter van die interministeriële komitee oor grondhervorming en landbou is, het dié inligting Woensdagmiddag aan LP’s bekend gemaak toe hy virtueel hul vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord het.

Die vrae wat gevra is, het oor van die regering se grondhervormingsprogram, die nasionale Covid-19-inentingsprogram, Eskom tot by die regering se werkskeppingsprogramme gehandel.

Adj.pres. David Mabuza Foto: Daily Sun

Oor die vrystel van staatsgrond het Mabuza gesê Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het reeds die advertensies vir die vrystelling van sowat 529 000 ha se staatsgrond uitgereik.

“Dit is deel van die 700 000 ha wat in Februarie verlede jaar deur die president in sy staatsrede aangekondig is.

"Tot nou toe is 436 563 ha vrygestel en vir toekenning goedgekeur. Meer as 5 540 ha is goedgekeur om verkoop te word en die res om te huur.”

Staatsgrond sal vir menslike nedersettings, nywerhede en landbou-produksie in stedelike en landelike gebiede beskikbaar gestel word.

Dié vir landbou-doeleindes sal veral vroue, jeugdiges en gestremdes voorkeur gee.

“Om te verseker dat die grond produktief bewerk word, sal die regering die nodige ondersteuning gee nadat dit toegeken is.”

Volgens hom sal die ondersteuningspakkette finansiering, infrastruktuur en toegang tot waterbronne insluit.

Volgens Mabuza het Didiza se departement reeds R1 miljard vir ’n gemengde finansiële skema opsy gesit. “Daarvan is R200 miljoen gemagtig om aan die Nywerheidsontwikkelingskorporasie vir verspreiding oorgedra te word.”

Mabuza het benadruk dat die ondersteuningspakket veral help om swart produsente in die sektor te kommersialiseer.

“Die gemengde finansieringskema is ’n kombinasie van lenings en toelaes om landbou-ontwikkeling te ondersteun en om toegang tot bekostigbare finansiering vir produsente te verbeter.”

Mabuza het verder aan LP’s erken dat korrupsie dienslewering in Suid-Afrika belemmer, ongelykheid vererger en die vermoë van staatsentiteite (SOE) om optimaal tot die ontwikkelingsagenda by te dra beperk het.

Om dinge verder te vererger, het die Covid-19-pandemie die reeds sukkelende ekonomie “tien treë teruggesit” en die aanwinste wat sedert 1994 gemaak is, aansienlik omgekeer, het hy gesê.

Volgens Mabuza lyk die toekoms somber, veral omdat die koronaviruspandemie voortduur.

“Ek is egter vol vertroue dat ons die ekonomie sal herstel om meer werkgeleenthede te kan skep.”

Hy het bygevoeg dat ’n derde vlaag van infeksies tot elke prys voorkom moet word omdat dit die ekonomie verder kan “seermaak”.

Mabuza glo die regering sal al sy probleme te bowe kom. “Ons is reeds besig om die probleme in staatsentiteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom, Transnet en Denel aan te pak om dit reg te ruk.

“Ek is vol vertroue dat ons op die regte pad is,” het Mabuza gesê.

Meer oor:  Staatsgrond  |  David Mabuza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.