Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Groot tenders aan Mangaung-middelman bevraagteken

Die groot tenders wat die laaste jare deur die Vrystaatse regering aan Mothebe Wheels en Mothebe Shuttle Services in Bloemfontein toegeken is, word wyd in provinsiale en munisipale regeringskringe bevraagteken.

Die eienaars het boonop ook ’n nuwe bande-onderneming in Oliver Tamboweg in die Rosestad geopen waar regeringsmotors gereeld gesien word.

Die Mangaung-metro se Njala-polisievoertuig wat vir miljoene deur Mothebe Wheels in Bloemfontein aangekoop is.Foto: Verskaf

Die kollig het opnuut op Mothebe Wheels geval nadat Netwerk24 berig het van ’n transaksie waarin dié onderneming die middelman was om ’n Njala-polisievoertuig van ongeveer R5,8 miljoen vir die Mangaung-metro aan te koop.

Volgens Israel Kgamanyane, die metro-polisiehoof, het die aanleg in Johannesburg dié voertuig vir R3,9 miljoen aan Mothebe verskaf.

Vrae word gestel oor die verskil tussen dié twee bedrae, met inagneming daarvan dat Mothebe Wheels eers voertuie volgens kliënte se behoeftes verander en kentekens daarop aanbring, sou die kontrak dit vereis.

Uit dokumente van die metro blyk dit dat die Njala in Oktober verlede jaar saam met tien busse vir die metro se Hauweng-openbarebusdiens aangekoop is. Die metro het vir elke bus R5,5 miljoen aan Mothebe oorbetaal.

Hein van Vuuren, bestuurder van Mothebe Wheels, het vroeër aan Netwerk24 gesê dat hulle die tender vir twee jaar bekom het om voertuie vir die metro aan te koop, en dat sowat 100 voertuie op die manier vir die metro aangekoop is.

Die Njala-polisievoertuig wat deur Mothebe Wheels aangekoop is.Foto: Verskaf

’n Vertroulike bron sê Elsabe Rockman, voormalige Vrystaatse LUR vir finansies, het reeds in 2018 ’n forensiese ondersoek na die sake van Mothebe Shuttle Services aangevra. Die ondersoekers Open Waters Forensic wou egter nie die uitslae van die ondersoek verskaf nie omdat die regering hulle nie betaal het nie.

Die ouditeur-generaal (OG) is ook op soek na hierdie bevindings.

Rockman het by navraag gesê sy kan nie inligting van haar vorige werkgewer verskaf nie en het Netwerk24 na Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, verwys.

Ralikontsane het bevestig dat Open Waters Forensic nog nie sy forensiese verslag oor Mothebe Shuttle Services bekend gemaak het nie.

Volgens hom skuld hulle die Vrystaatse regering ook geld, en word gekyk hoe oor die skuld tot ’n vergelyk gekom kan word.

Uit dokumente van die Vrystaatse regering blyk dit dat Mothebe reeds van 2014-’15 tenders van dié provinsiale regering gekry het. Die onderneming het onder meer werk vir die Vrystaatse tesourie en departemente van polisie, paaie en vervoer, landbou en ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, omgewingsake en toerisme gedoen. Voorts was Mothebe ook by die Vrystaatse regeringsgarage betrokke.

Mothebe Shuttle Services het in ’n stadium daagliks amptenare van Bloemfontein na Glen en terug vir werk vervoer nadat die onderneming ook die tender hiervoor bekom het.

* David Mothebe, eienaar van die onderneming en volgens ingeligtes ’n vriend van Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC is, het ’n onderhoud Dinsdag met Netwerk24 in die kantoor van sy prokureur toegestaan.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Tenders  |  Vrystaatse Regering  |  Vriend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.