Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Groot twis oor Zoeloes se kroon

Ná ’n dag van hoogdrama oor sy kroning het kalmte Saterdag by die Kwakhangela-paleis geheers met die terugkeer van die aangewese Zoeloe-koning, Misuzulu Zulu.

Die aangewese Zoeloe-koning, Misuzulu Zulu.

Pandemonium het Vrydag losgebars nadat adv. Griffiths Madonsela, regsverteenwoordiger van oorlede koningin Mantfombi Dlamini-Zulu, Misuzulu Zulu as koning Goodwill Zwelithini se opvolger aangewys het.

Zwelithini is in Maart aan Covid-19 dood en die koningin het waargeneem totdat sy einde April dood is.

Prins Misuzulu en sy broers en susters is Vrydag deur gewapende mans, vermoedelik sy nuwe lyfwagte, uit die lokaal verwyder nadat hy as opvolger aangewys is. Madonsela het die koninklike familie Vrydag kort ná die roudiens vir Dlamini-Zulu toegespreek oor die ontslape koningin se wense vir ’n opvolger.

Prins Mangosuthu Buthelezi, premier van die Zoeloevolk, het Saterdag op ’n mediakonferensie gesê sommige lede van die koninklike familie was ongelukkig oor die manier waarop die nuwe koning aangewys is.

Hulle het glo intussen hul lojaliteit aan die nuwe koning verklaar. “Die familie is dankbaar omdat dit wys stabiliteit en eenheid is bewerkstellig onder die nuwe koning,” het Buthelezi gesê.

Die vurige vergadering het plaasgevind ná die koningin se roudiens Vrydag wat deur talle hooggeplaastes bygewoon is.

Die Amabutho, die Zoeloevolk se vegters, maan steeds dat hulle enige opstand teen die nuwe monarg sal onderdruk. Die leier van die Amabutho, Mgiliji Nhleko, het gesê hulle sal die nuwe koning verdedig.

Koningin Dlamini-Zuma is op 24 Maart aangewys as regentes met die taak om die proses te bestuur om die nuwe koning aan te wys. In haar testament het Dlamini-Zulu, dogter van die oorlede Swazi-koning Sobhuza II, gesê sy het die reg om te besluit wie Zwelithini moet opvolg.

’n Faksie binne die koningshuis het egter daarvan verskil.

Prins Thokozani, wat deel vorm van die faksie, het by Vrydag se vergadering gesê die regentes mag nie ’n opvolger aanwys nie omdat Zwelithini haar nie dié reg in sy testament gegee het nie. Thokozani is die seun van koningin Sibongile-Dlamini, een van die koning se ses weduwees wat haar tot die hooggeregshof in Pietermaritzburg wend om die helfte van Zwelithini se bates te kry. Sibongile-Dlamini was die koning se eerste vrou, maar Dlamini-Zulu het hoër status geniet omdat sy self in ’n koninklike familie gebore is en die Zoeloevolk haar lobola betaal het.

Thokozani meen die hele familie moet oor ’n opvolger besluit. Dit het Vrydag op ’n hewige woordewisseling tussen hom en Buthelezi uitgeloop, waarop prins Misuzulu en sy broers en susters uit die lokaal verwyder is.

Die vurige vergadering het plaasgevind ná die koningin se roudiens Vrydag wat deur talle hooggeplaastes bygewoon is. Prins Misuzulu het die roudiens bygewoon in tradisionele Zoeloedrag met onder meer ’n knopkierie soortgelyk aan dié wat sy pa gedra het. Hulle het oorlogsdanspassies uitgevoer en krete geskreeu wat gewoonlik net die koning beskore is. Ná die roudiens het Buthelezi aangekondig dat die koningin se regsverteenwoordiger op pad is vir ’n aankondiging oor die opvolger.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.