Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Grootste Sassa-kantoor ‘in totale wanorde’

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het nie genoeg personeellede om die migrasie van sowat 2,8 miljoen begunstigdes wat hul maatskaplike toelae in kontant ontvang, te hanteer om na die nuwe betalingstelsel oor te skakel nie.

Dié personeeltekort raak ook nuwe aansoeke vir maatskaplike toelae omdat dit volgens Bridget Masango, DA-LP en woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, nie van Sassa-personeel verwag kan word om die migrasie, sowel as nuwe aansoeke, te hanteer nie.

Bridget MasangoFoto: JANET HEARD

Masango het bogenoemde Vrydag gesê nadat sy en ander DA-amptenare die Sassa-kantoor in De Villiersstraat in die Johannesburgse middestad besoek het ná verskeie klagtes dat dit in totale wanorde is. Dit is die grootste Sassa-kantoor in die land.

“Die gebrek aan gebeurlikheidsplanne maak dit duidelik dat die mislukte ANC-regering nie die politieke wil het om Sassa-personeel in hierdie oorgangstydperk by te staan nie.”

Volgens Masango is die DA ook bekommerd oor berigte dat sommige begunstigdes met beide die nuwe en ou Sassa-kaarte steeds nie toegang tot hul toelae het nie.

“Dit is duidelik dat die nuwe Sassa-stelsel met die Poskantoor ’n algehele ramp is.”

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluasie, het Woensdag in die parlement gesê Sassa en die Poskantoor gaan tans deur ’n moeilike tyd waarin nuwe stelsels in ’n baie kort tydperk bekend gestel word, en dat daar steeds haakplekke kan wees.

Sy het egter die versekering gegee dat alles moontlik gedoen word om te verhoed dat talle begunstigdes, soos in Julie, hul toelae weens tegniese probleme nie ontvang nie.

Masango het in ’n verklaring gesê hulle het Vrydag met die De Villiersstraat-Sassa-kantoor se bestuur vergader wat ’n massiewe toestroming van begunstigdes ervaar weens Sassa se migrasie na die nuwe stelsel.

Dit is omdat die Poskantoor die uitbetaling van die toelae aan die oorgrote meerderheid van die sowat 17 miljoen begunstigdes by die omstrede Cash Paymaster Services (CPS) moet oorneem.

CPS se onwettige kontrak om nog kontantuitbetalings aan sowat 2,8 miljoen begunstigdes te doen, moet einde September 2018 ingevolge ’n bevel van die konstitusionele hof tot ’n einde kom. Dit moet deur Sassa en die Poskantoor oorgeneem word.

Volgens Masango stroom begunstigdes van regoor Johannesburg egter na die De Villiersstraat-kantoor om hul ou CPS/Sassa-kaarte om te ruil vir die nuwe Poskantoor/ Sassa-kaarte omdat ander omliggende Sassa-kantore ook nie die toestroming kan hanteer nie.

Dit het volgens haar tot chaos met lang toue mense by De Villiersstraat gelei.

“Hierdie is ’n kritieke tydperk vir Sassa omdat 30 September die spertyd is om die onwettige CPS-kontrak uit te faseer en te verseker dat alles in plek is vir die Poskantoor om die uitbetalings oor te neem.”

Volgens haar wys die lang toue by Sassa-kantore landwyd egter daarop dat die ANC-regering nie enige maatreëls in plek het om kwesbare begunstigdes te beskerm nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.