Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Grootste week nóg’ vir Zondo-kommissie – kenner

Die optrede teen oudpres. Jacob Zuma en nou ook teen Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, maak dit die “grootste week nóg” vir die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

So sê adv. Paul Hoffman, direkteur van Accountablity Now, nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, Vrydag aangekondig het dat die sekretaris van die Zondo-kommissie, prof. Itumeleng Mosala, ’n strafregtelike klag teen Myeni by die polisie gaan indien.

Zondo het Mosala Maandag ook opdrag gegee om ’n klag teen Zuma in te dien omdat hy verlede Donderdag ’n dagvaarding van die kommissie geminag het deur sonder toestemming ’n sitting te verlaat.

Volgens Zondo het Myeni moontlik die Wet op Kommissies oortree toe sy onlangs in haar getuienis voor die kommissie die identiteit van ene mnr. X bekend gemaak het, hoewel Zondo beveel het dat sy identiteit ’n geheim moet bly.

Hy gebruik al die meganismes tot sy beskikking sonder om oorboord te gaan.

Mr. X is ’n getuie wat vrees vir sy lewe en dié van sy gesin, wat in Februarie vanjaar voor die kommissie getuig het hoe Myeni hom opdrag gegee het om R1,8 miljoen aan die Jacob Zuma-stigting te betaal.

Hoffman sê as Zondo nie teen Myeni en Zuma sou optree nie, sal ander getuies dalk ook die kommissie minag, wat tot die ineenstorting daarvan kan lei.

“Dié week was die grootste week in die geskiedenis van die Zondo-kommissie weens die optrede teen Zuma en Myeni, maar ook omdat die uitvoerende burgemeester van Johannesburg (Geoff Makhubo) voor die kommissie ontmasker is as iemand wat ’n belangebotsing gehad het,” sê Hoffman.

Eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder vir die kommissie, het nie Vrydag op navrae gereageer oor wanneer die klagte teen onderskeidelik Zuma en Myeni ingedien sal word nie.

Prof. Llewellyn Curlewis, ’n regskenner aan die Universiteit van Pretoria, sê Myeni word, net soos Zuma, weens hul ooreenstemmende oortredings deur ’n boete en tronkstraf van ses maande in die gesig gestaar.

“Myeni het klaarblyklik opsetlik en moedswillig opgetree deur nie minder nie as twee of drie keer die kommissie se bevel te minag deur sy identiteit te noem,” sê Curlewis.

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê Zondo se optrede wys die dringendheid van die kommissie om sy werk voor Maart te voltooi.

Aan die ander kant neem dit, volgens Venter, ook die wind uit die seile van vermeende staatskapers wat die kommissie in ’n swak lig wil stel.

“Zondo het ander magte tot sy beskikking, maar deur die polisie die ondersoek te laat doen, is ’n belangrik besluit deur hom om ’n objektiewe afstand tussen hom en veral Zuma te handhaaf. Hy gebruik al die meganismes tot sy beskikking sonder om oorboord te gaan,” sê Venter.

In Zuma se aansoek verlede week dat Zondo homself as voorsitter van die kommissie moet onttrek, het Zuma beweer dat Zondo partydig teenoor hom optree. Zuma se aansoek is van die hand gewys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.