Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Gruwelik,’ sê Zondo oor rekenaars wat verdwyn
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit is gruwelik. Dit is gruwelik. En die ergste is dat dit belastingbetalers se geld is.”

Dit was Donderdag die reaksie van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, toe getuig is dat meer as 1 000 rekenaars spoorloos in ’n afdeling van Transnet verdwyn het.

Mohammed Mahomedy, waarnemende hoof van Transnet, het getuig daar is in ’n ondersoek by Transnet ontdek dat ’n huurkontrak vir rekenaars met die maatskappy T-Systems aangegaan is om 2 200 rekenaars te lewer aan ’n afdeling waar daar slegs 1 100 personeellede is wat dit sou kon gebruik.

’n Soektog is begin na die meer as 1 000 bykomende rekenaars, maar dit is tot nou toe nog nie opgespoor nie.

Zondo het hoorbaar diep gesug en gevra wat die koste hiervan is, waarop Mahomedy geantwoord het dat dit ’n hele paar miljoen rand beloop.

Mahomedy het getuig dit is onduidelik wat gebeur het. Daar was bevestiging van die aflewering van die rekenaars.

Zondo het hierop gesê daar moet tog inligting wees oor watter rekenaar na watter amptenaar gegaan het.

Mahomedy het geantwoord daar was ’n ondersoek hieroor, sommige amptenare het bedank en ander is dissiplinêr verhoor oor die verdwyning.

Dit is gruwelik. Dit is gruwelik. En die ergste is dat dit belastingbetalers se geld is.
Raymond Zondo

Zondo het hierop gesê: “Duisend rekenaars word afgelewer, 1 000 rekenaars verdwyn en niemand weet wat daarvan geword het nie. Dit is uiters vreemd.”

Hy het bygevoeg dit is ’n klomp rekenaars. Dit wys op swak stelsels binne Transnet. “Waar is die rekenaars? Hoe het dit gebeur?” het Zondo weer gevra.

Mahomedy het geantwoord dat daar ’n “verswakking” in Transnet se stelsels was wat veroorsaak het dat dinge soos hierdie kon gebeur.

“Dit is gruwelik. Dit is gruwelik. En die ergste is dat dit belastingbetalers se geld is,” was Zondo se antwoord.

Mahomedy het gesê die verdwyning van die 1 000 rekenaars sou nie ontdek geword het as die nuwe bestuur in die afdeling nie oorgeneem het nie.

Hy het sy getuienis voor die kommissie afgesluit deur te sê dat Transnet klaar reggeruk word.

Die afgelope maande het die raad en bestuur van Transnet introspeksie gehou oor wat gebeur het “om te verseker dat dit nooit weer in Transnet of in die res van Suid-Afrika gebeur nie”.

Transnet en sy raad het reeds begin om sy verkrygingsafdeling (tenderafdeling) te versterk. Individue mag nie meer tenders en kontrakte teken nie en nuwe oorsigmaatreëls is ingestel.

Mahomedy het getuig Transnet het ook begin om geld terug te kry, soos onder meer byvoorbeeld R618 miljoen van China South Rail (CSR).

Daar is ook ’n proses om met diensverskaffers te onderhandel om nog geld terug te kry.

Mahomedy het gesê Transnet vorm ’n groot deel van die ekonomie van Suid-Afrika. Die duisende werkers van Transnet is toegewyd, wil daar werk en wil goed doen. Daar sal aan die mandaat van Transnet voldoen word, volgens Mahomedy.

Hy het getuig ’n paar mense het Transnet uitgebuit.

In die laaste maande het hy besef hoe korrupte mense basiese kontrakte kon manipuleer om korrupsie te pleeg.

Bestuurslede wat sekere besluite herroep het, inligting van kontrakte wat weggesteek is sodat meer mense nie daarvan kon uitvind en vrae stel nie, was volgens Mahomedy van die maniere om prosesse te manipuleer.

Mahomedy het sy getuienis voor die kommissie afgesluit.

Zondo het die sitting uitgestel tot Vrydagoggend wanneer nog ’n getuie oor Transnet sal getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.