Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gumede aanvaar sy moet opsy staan – ANC

Zandile Gumede, omstrede voormalige burgemeester van die eThekwini-metro in Durban, het ’n opdrag van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) aanvaar dat sy opsy moet staan totdat die hofsaak teen haar afgehandel is.

Só het Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Durban gesê.

Gumede is een van 12 ANC-ampsdraers in dié provinsie wat moet opsy staan omdat daar strafregtelike klagte teen hulle is.

Zandile Gumede Foto: Argief

Daar moet nog gesprekke gevoer word met vier metro-lede wat geraak word, maar die ander sewe het reeds soos Gumede hul lot aanvaar, sê Ntuli.

Daar was aanvanklik 13 ANC-ampsdraers wat opsy moes staan, maar klagte teen een van hulle is van die hofrol geskrap.

Ntuli sê Gumede wat nadat sy burgemeester was deur die ANC na die provinsiale wetgewer herontplooi is, is Maandagoggend in kennis gestel dat sy moet terugstaan en sy het dit aanvaar.

Sy en ander ANC-lede het vroeër sterk vasgeskop. Haar ondersteuners wou ook nie hê sy moet opsy staan nie.

Ntuli sê Gumede kon eers Dinsdag met die provinsiale leierskap vergader ná die dood en begrafnis van haar broer verlede week.

Ntuli verwag nie dat enige van die ANC-lede wat geraak word hulle tot die hof sal wend nie.

“In die gesprekke wat ons tot dusver gehad het, het ek nie die indruk gekry hulle sal hof toe gaan nie,” sê hy.

Gumede, ’n groot bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma, en 16 munisipale amptenare staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die toekenning van tenders van meer as R400 miljoen in die tydperk toe sy die burgemeester van eThekwini was.

Sy en haar medebeskuldigdes staar 2 786 aanklagte in die gesig.

Gumede word daarvan beskuldig dat sy haar amp as burgemeester misbruik het om die toekenning van tenders aan Durban Solid Waste (DSW) te beïnvloed.

Sy is twee jaar gelede in hegtenis geneem vir bedrog, korrupsie en geldwassery.

Die voorverhoor sal op 14 Junie in die hooggeregshof in Durban begin.

Mike Mabuyakulu, ondervoorsitter van die ANC in die provinsie, het verlede week uit sy eie opsy gestaan. Hy word aangekla van bedrog en korrupsie wat verband hou met ’n jazzkonsert toe hy nog die provinsiale LUR vir ekonomiese ontwikkeling was.

Meer oor:  Anc  |  Zandile Gumede  |  Durban  |  Opsystaan  |  Burgemeester  |  Klagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.