Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-aansoeke lê in kluis - minister

Sekere van die Guptas se aansoeke om hul Suid-Afrikaanse paspoorte te hernu, lê nou in ’n kluis omdat daar te veel vrae daaroor is, sê dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake.

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Gallo

Hoewel Motsoaledi sê hy “sal nie dom genoeg wees” om die aansoeke goed te keur sodat die Guptas “die wêreld daarmee vol kan reis nie”, meen ’n DA-LP die minister kan nie met dié aansoeke vertrou word nie.

“Sommige van hulle (Guptas) het aansoek gedoen om paspoorte. Ek dink die bladsye is vol of het dalk verval,” het Motsoaledi aan die SAUK gesê en bevestig die aansoeke is drie weke gelede ingedien.

Motsoaledi het Donderdag aan Beeld gesê hy het nog nie oor die aansoeke besluit nie.

“Ek het opdrag gegee dat die aansoeke in ’n kluis toegesluit word. Dit kan nie normaalweg verwerk word soos enige ander aansoek nie, want daar is te veel kwessies wat onopgelos is.”

Hy sê die parlement het nog nie die kwessie van die Guptas se burgerskap gefinaliseer nie en daar is boonop die kwessie van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping wat hulle gevra het om getuienis te lewer.

“Die kwessie van die Guptas is dus nie eenvoudig nie. Daar is al hierdie kwessies wat in die lug hang. Dit is waarom ek besluit het om te wag totdat daar duidelikheid daaroor is.

“Daar is te veel onopgeloste kwessies, daarom moet ons nie oorhaastig besluit nie,” sê hy.

Motsoaledi sê ook Suid-Afrika is in ’n proses gewikkel om se­kere van die Gupta-broers wat met beweerde staatskaping verbind word aan Suid-Afrika uit­gelewer te kry.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, en Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, vergesel van lede van die nasionale vervolgingsgesag, het onlangs na Dubai gereis, deels om die Verenigde Arabiese Emirate te probeer oorreed om die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande te bekragtig.

Motsoaledi sê hy weet nie wat die uitkoms van dié besoek is nie.

Die Guptas, wat oorspronklik van Indië is en hulle later in Suid-Afrika gevestig het, is in 2018 sak en pak landuit en bevind hulle tans glo in Dubai. Die Amerikaanse tesourie het in Oktober sanksies teen die Guptas en Salim Essa, ’n vennoot, aangekondig weens hul “korrupsiebedrywighede” in Suid-Afrika.

Joe McGluwa

Joe McGluwa, DA-LP, is skepties oor Motsoaledi se opmerkings.

“Minister Motsoaledi kan nie vertrou word wanneer hy sê hy sal nie so dom wees nie (om hul paspoorte te hernu).

“Dit is nou tyd om aan Suid-Afrikaners te sê watter familielede om die hernuwing van hul paspoorte aansoek gedoen het.

“Sommige van hul name (ten opsigte van naturalisasie) is nooit in 2018 in die parlement ter tafel gelê nie en Motsoaledi­ is stil oor die name en of hy hul burgerskap gaan terugtrek,” sê McGluwa.

Motsoaledi het McGluwa se opmerking dat hy hom nie vertrou nie as “lagwekkend” afgemaak, aangesien hy die inligting vrywillig verskaf het.

“Die feit dat hy my nie vertrou nie, is sy probleem en hy moet dit hanteer. Dit is nie myne nie. Ek moet hom ook daaraan herinner dat die Nasionale Vergadering nooit ’n verslag oor die parlementêre ondersoek na die naturalisasie van die Guptas goedgekeur het nie – ek dink dit was weens uitstaande navrae.

“Dié kwessie is dus in die hande van die komitee waartoe hy (McGluwa) behoort,” sê Motsoaledi.

Meer oor:  Aaron Motsoaledi  |  Joe Mcgluwa  |  Ronald Lamola  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.