Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-man glo by ontmoeting voor skorsing van Eskom-hoës
Abram Masango
Abram Masango, voormalige projekbestuurder by die Kusile-kragstasie, tydens sy getuienis Dinsdagmiddag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, was glo teenwoordig by ’n ontmoeting die dag voordat vier senior bestuurslede by Eskom geskors is.

Abram Masango, voormalige projekbestuurder by die Kusile-kragstasie, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor die ontmoeting getuig.

Volgens Masango is hy op 10 Maart 2015 deur Matshela Koko, sy senior, gekontak vir ’n ontmoeting by Melrose Arch in Johannesburg.

“Ek ken nie die omgewing nie en Koko het my die aanwysings na die kantoorkompleks gegee,” het Masango getuig.

“Daar was nie ’n naambord op die kantoorkompleks nie en ek moes my selfoon voor die ontmoeting inhandig,” het Masango getuig.

Masango, Koko en Essa het in ’n mini-raadskamer ontmoet. Koko het nie Essa aan Masango voorgestel nie. Koko het aan Masango gesê dat hyself en drie ander senior bestuurders by Eskom die volgende dag geskors sou word. Hy het ook aan Masango genoem dat hy ná sy skorsing sou terugkeer. Koko het aan Essa gesê dat Masango “in staat sou wees” om die rol van uitvoerende hoof by Eskom te beklee.

“Ek was geskok oor wat ek hoor. Die ontmoeting was nie baie lank nie, ongeveer tien minute. Essa het toe aan Masango gesê dat hy die kontrakteurs by projekte, wat nie wou werk nie, moes vasvat. “Essa het die f-woord gebruik toe hy dit sê.”

Ek was geskok oor wat ek hoor.

Die ontmoeting het tot ’n einde gekom en Masango se selfoon is aan hom teruggegee. Masango het toe probeer om Dan Marokane, groephoof van Eskom kapitaal, te kontak, maar hy was met verlof en het nie geantwoord nie.

Masango het getuig dat Koko tydens die ontmoeting senuagtig voorgekom het maar tog aan hom gesê het dat hy nie bekommerd moet wees nie aangesien hy (Koko) ná die skorsing sou terugkeer.

Marokane was een van die vier senior bestuurslede wat die volgende dag, op 11 Maart 2015 geskors is. Die ander drie was Tshediso Matona, uitvoerende hoof, Tsholofelo Molefe, direkteur van finansies, en Koko, toe tegnologiehoof. Hulle is geskors hangende ’n onafhanklike ondersoek na die kragvoorsiener se sake en uitdagings.

Koko is die enigste van die vier bestuurders wat uiteindelik by Eskom aangebly het. Hy is later tot waarnemende uitvoerende hoof van Eskom bevorder.

Masango het na die ontmoeting by Melrose Arch ’n vergadering met Marokane gehad. Toe hy by hom wou hoor wat aangaan, het Marokane gesê: “Dit is politiek. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie, dit is polities.”

Salim Essa, sakevennoot van die Guptas.

Masango het ook Dinsdag voor die kommissie getuig dat sy selfoon afgeluister en dat hy agtervolg is.

Hy is in Desember 2017 geskors. Ná ’n dissiplinêre verhoor waarin sy naam in ere herstel is, het hy in Junie 2018 na Eskom teruggekeer.

Masango het in November 2018 by Eskom bedank nadat hy agtergekom het dat Phakamani Hadebe, Eskom se uitvoerende hoof, hom wou skors.

“Ek het Hadebe gekonfronteer oor bewerings teen my. Ek het toe aan die voorsitter van die raad gesê ek voel nie meer welkom nie,” het Masango getuig.

Meer oor:  Salim Essa  |  Abram Masango  |  Eskom  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.