Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-myners brand af, rand aan

Woedende werkers van die Gupta-myne wat al van November af sonder inkomste sit, het ’n onskuldige boer se bale afgebrand en ’n amptenaar só erg aangerand dat hy vir sy lewe gevrees het.

Jan Uys, wat geen verbintenis met die myn het nie, het R160 000 se skade gely toe werkers bale hooi op sy plaas aan die brand gesteek het. Foto’s: Deon Raath

Jan Uys, ’n boer en apteker van Mpumalanga wat grond by die Optimum-myn huur, het Maandag deurgeloop toe werkers bale op sy plaas afgebrand het.

Hy het R160 000 se skade gely.

Uys sê hy vermoed die werkers het gedink dit is die myn se eiendom.

Die eerste brand was sowat drie weke gelede, toe net “twee of drie bale” na die pad gestoot is en aan die brand gesteek is.

‘Ons staan met vrees in die hart.’

Toe hy en sy seun op die toneel kom, het hulle ’n handgeskrewe nota gevind. Dit het gelui: “Ons soek ons geld, dit word lankal reeds belowe. Niks. Ons wil ons geld van Optimum-steenkoolmyn hê, ons speel nie speletjies nie.”

Die afgelope Maandagoggend het Optimum se veiligheidswagte in die vroeë oggendure gebel om te sê daar is nou ’n reusebrand op sy plaas.

Hulle kon geen van die voerbale red nie en kon net-net keer dat die hele plaas afbrand.

Die sakeredders van die Optimum- en Koornfontein-myn is self op die agtervoet oor die 8 000 werkers wie se salarisse nie betaal is nie.

Danie van Wyk sê boere vrees volgende keer kan oeste brand.

Hulle bring dié week ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria om ’n interdik teen die vakbond NUM te kry om nie weer hul personeel aan te rand nie.

Luidens die hofstukke het die NUM Maandag vyf busse vol werkers na die sakeredders se kantore in Brooklyn, Pretoria, aangery om te betoog.

Chris Monyela, een van die sakeredders, sê in die hofstukke die situasie het ontspoor toe werkers hom aanval het.

“Ek het op die grond geval en die aanranding het vererger. Ek is erg geskop en geslaan oor my hele lyf terwyl ek op die grond gelê het. Bloed het uit my neus en mond gestroom en ek het gevrees vir my lewe,” sê Monyela.

Omisa Ncunisa Mamlale van die Woestalleen-township se man het 30 jaar vir die myn gewerk. Hy is nou by familie in die Oos-Kaap en sy is tuis met haar twee dogters van ses jaar en een maand oud.

Hy sê sy kollegas het die polisie gebel wat gearriveer het, “maar hulle was nie bereid om tussenbeide te tree nie”.

Monyela het foto’s by die hof ingedien om te wys hoe die polisie eenkant gestaan het.

Sy kollegas het ’n ambulans van Netcare 911 ontbied, maar die werkers het geweier dat die ambulans inkom en het sommer een van die paramedici wat wou help, ook aangeval.

“Die paramedici het toe besef dat hul lewens in gevaar is en het onmiddellik gery.”

Monyela sê in die hofstukke die Koornfontein-myn het “erge kontantvloeiprobleme” en bevestig hulle kon sedert November nie salarisse betaal nie.

Jan Uys: “Ek het simpatie met die mense. Waar moet hulle heen?”

Hulle het intussen R50 miljoen bekom om uitgawes te betaal.

“Ons het die werkers van Koornfontein gevra om nie vir diens aan te meld nie in ’n poging om die uitgawes te beperk.”

Hy sê die werkers glo verkeerdelik dat die sakeredders net hul salarisse weerhou.

Uys sê aan Rapport hy het wel begrip vir die woede. Duisende mense is werkloos, het nie kos in die huis nie, verloor hul mediese fondse en besittings.

“Ek het simpatie met die mense. Waar moet hulle heen gaan?”

Toe die brand uitbreek, het van Optimum se werkers en boere in die omgewing gehelp om dit te blus.

Uys sê dit sluit werkers in wat ook al maande wag vir ’n salaris.

Solomon Khosi, wat as vervoerband-operateur by die Optimum-steenkoolmyn gewerk het. Familielede koop op die oomblik vir hom kos.

Danie van Wyk, ook ’n boer, sê hulle vrees hul oeste word volgende aan die brand gesteek. “Ons staan op die punt om te oes, maar ons staan met vrees in die hart en kommer.”

Louis Klopper, een van agt sakereddingspraktisyns van Gupta-gekoppelde maatskappye, sê die huidige sakeredding duur nou 14 maande. Hulle het wel ’n plan om R1 miljard se finansiering vir die maatskappye te verseker, maar dit neem tyd om te finaliseer.

“Omdat daar regsaksies is teen die proses kan die myn nie nou verkoop word nie,” sê Klopper.

  • Omisa Ncunisa Mamlale (31) van die Woestalleen-township sê haar man, Linex Landu (50), het 30 jaar vir die myn gewerk.

Landu is op die oomblik by familie in die Oos-Kaap terwyl hy vir die myn wag om te heropen. Sy is tuis met hul twee dogters, een van ses jaar en ’n baba van ’n maand oud.

Menzi Mbatha (38), ’n gemeenskapsleier, sê hy het gehoor die myn het ’n nuwe koper. “Hulle het vier maande lank gewerk sonder salarisse net sodat hulle hul werk kan hou. Al wat hulle daarvoor gekry het, is beloftes.”

Bheki Zwane (54), wat vanaf 2007 as kontrakskoonmaker by die Optimum-myn werk, sê hy is kwaad vir die Guptas dat hy ses maande lank nie betaal is nie.

“Ek het ’n hele familie om voor te sorg en daar is niks wat ek kan doen nie.”

Meer oor:  Optimum-Myn  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.