Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-prokureur: Beslaglegging ’n ‘skyn-oorwinning’
Atul Gupta, een van die Gupta-broers.Foto: Argief

Die “skynbare oorwinnings” van die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is “ ’n illusie”, sê Rudi Krause, ’n regsverteenwoordiger van die Guptas.

“Die Valke en NVG se oorwinning is tydelik bevredigend en is eintlik glad nie oorwinnings nie. Hierdie skynbare oorwinnings is ’n illusie en gaan nie langer as ’n oogwink hou nie,” sê Krause in ’n verklaring.

Lede van die NVG se batebeslagleggingseenheid (BEE), doeanebeamptes en die Valke het Maandag op die Guptas se omheinde Saxonwold-woonkompleks in Johannesburg toegeslaan om ’n bewaringsbevel uit te voer.

Die NVG het dit in die hooggeregshof in Bloemfontein bekom vir bates ter waarde van sowat R250 miljoen van verskeie individue en entiteite wat geïmpliseer word in die Vrede-suiwelprojek.

Krause sê kragtens die bevel moes die kurators ’n inventaris saamstel van bates wat hulle benodig.

“Dit is met ’n groot ophef gedoen, ondanks die feit dat die kurators gewaarsku is dat ’n aansoek gebring gaan word om die hofbevel, wat op ’n ex parte-grondslag bekom is, te heroorweeg.

“Die hof sal gevra word om die hofbevel, wat gemaak is sonder om die partye daarvan in te lig, tersyde te stel,” sê Krause in die verklaring.

Volgens hom sal die Guptas Donderdag die hooggeregshof in Pretoria nader om die bevriesing van die Optimum- en die Koornfontein-myn se rehabilitasiefondse tersyde te stel.

“Dit is verkeerdelik en sonder meriete bevries.”

Die hooggeregshof in Johannesburg het ook vroeër beveel dat die Guptas sy straler aan sy Kanadese finansierder, Export Development Canada, terugbesorg of by die Lanseria-lughawe in Johannesburg oorhandig.

Die vliegtuig het Saterdag by die Lanseria-lughawe geland, maar die Guptas gaan voort met hul aansoek om verlof tot appèl teen die bevel oor hul vliegtuig.

Ahmed Gani, Atul Gupta se opdraggewende prokureur in die dringende aansoek, het Saterdag aan Jana Marx gesê die terugbring van die straler is ’n gebaar van “goedertrou in die lig van die komende appèlaansoek”.

Op ’n vraag oor of Atul en sy vrou, Chetali, saamgevlieg het of steeds in Dubai is, het Gani gesê hul het nie saamgekom nie en net die vliegtuig na Suid-Afrika gestuur.

Ek praat met niemand nie, nie eens die president nie.

Dit was Dinsdag doodstil by die Gupta-huis in Saxonwold in Johannesburg, berig Reneilwe Dhludhlu.

Voordat Netwerk24 se verslaggewer en fotograaf die veiligheidswag, geklee in donkerblou, genader het, het hy ’n foto geneem van die motor waarin hulle gery het.

Toe hy gevra is wanneer hy die Gupta-broers laas gesien het, het hy gesê hy kan dit nie beantwoord nie.

“Jy kan my enige vraag vra, maar nie oor hulle nie,” het hy gesê.

Toe hy gevra is of hy vrees dat sy werk moontlik in gedrang is, het hy gesê dit is die vraag wat almal wil vra, “maar ek kan nie met die media praat nie”.

’n Tweede man, geklee in swart, het by die kompleks uitgekom en gesê dis private eiendom, “so hou op om ons te pla. Ek is hier om my werk te doen en jy pla my.”

Hy wou nie sê of hy ’n veiligheidswag is nie.

“Ek praat met niemand nie, nie eens die president nie.”

Meer oor:  Saxonwold  |  Guptas  |  Beslaglegging  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.