Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-skok: Ace kan nie langer vir gereg wegkruip, sê DA
Ace Magashule

Ace Magashule, die voormalige Vrystaatse premier, kan oor die vermeende Vredesuiwelprojek-bedrogspul van miljoene rande na die ANC se Luthuli-huis vlug, maar hy sal nie daar vir die lang arm van die gereg kan wegkruip nie.

So reageer dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, oor die R334 miljoen wat die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling van 2014 tot 2016 aan Estina oorbetaal het. Dié maatskappy het aan die Guptas behoort en sou die Vrede-suiwelplaas namens die Vrystaatse regering bestuur.

Die meeste van die geld is in groot bedrae van Estina se Standard Bank-rekening in Suid-Afrika na die Bank of Baroda in Indië oorgeplaas, waar die Guptas se rekening in dié land is, wys bankstate wat Netwerk24 Dinsdag eksklusief bekom het.

ANC se nalentskap

Jankielsohn sê die Vrede-suiwelprojek is die nalatenskap van Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, se bewind in die Vrystaat.

“Ons as die DA het ’n groot rol gespeel om die vermeende bedrog rondom die Vrede-suiwelprojek oop te krap. Ons gaan nie rus voordat politici behoorlik verslag gedoen het en moontlik in die tronk gestop is vir wat hul plundery en geldgierigheid die Vrystaat gekos het nie.”

Dr. Roy Jankielsohn
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

Jankielsohn sê hy het in Desember met ’n prokureur van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping vergader en hom van verskeie beëdigde verklarings voorsien.

“Die nuwe bewysstukke oor die projek en hoe die R334 miljoen van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling regstreeks in Estina se rekening inbetaal en dan na die Bank of Baroda in Indië oorbetaal is, sou ons ook graag in ons verklarings aan die Zondo-kommissie wil insluit. Opvolg-afsprake met die prokureurs van die Zondo-kommissie is in Maart.”

Jankielsohn sê hy is nie spesifiek verras oor die jongste bewyse nie.

“Ons weet dat sowat R250 miljoen van die Vrystaat se regeringsgeld na die Vrede-suiwelprojek is. Dat van die geld gebruik is om masjinerie en beeste te koop en om stalle te bou. Maar ’n groot gedeelte hiervan is onverklaard. Daar is ook die bewering dat R30 miljoen gebruik is om ’n Gupta-troue mee te betaal.

“Terwyl wetstoepassers tydelik die sake teen die beskuldigdes in die Vrede-suiwelprojek teruggetrek het in afwagting van sekere bewyse van die buiteland, is nog niks gedoen om teen die politici op te tree nie.

Zondo-kommissie

“Die Zondo-kommissie moet die rol van Magashule in die Vrede-suiwelprojek ondersoek, asook dié van die vorige LUR’e van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe, nou speaker van die Vrystaatse wetgewer.”

Hy sê Qabathe sal moet kom verduidelik waarom sy voortgegaan het om miljoene van die regering in die Vrystaat se geld na die projek te laat vloei, terwyl die nasionale tesourie al ’n verslag opgestel het wat aangedui het dat die projek onreëlmatig was en nadat die nasionale departement van landbou reeds aan die projek onttrek het.

“Miskien kan Elzabé Rockman, die Vrystaatse LUR vir finansies, vir Qabathe help verduidelik. Ons het redelike inligting rondom die politici se betrokkenheid, ook deur middel van die antwoorde wat hulle aan die wetgewer verskaf het, wat ons aan die Zondo-kommissie verskaf.”

Jankielsohn sê die Vrede-suiwelprojek het geen begunstigdes gehad nie en was net geldwassery.

200 opkomende boere in die Vrystaat kon maklik met die geld gehelp word om hulle ’n tree vorentoe te gee om kommersiële boere te word. Die geld kon in droogtetye baie Vrystaatse kommersiële boere van ondergang gered het. “Tot verlede jaar is jaarliks nog R20 miljoen deur die departement in die Vrede-suiwelprojek ingepomp,” sê hy.

Sub judice

* Zimasa Leputla, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, sê die saak is tans in die hof en sub judice.

“Daar is intensiewe ondersoeke gedoen en die Valke ondersoek steeds die inligting wat ons aan hulle verskaf het. Die departement kan nie nou die saak verder bespreek nie.”

Meer oor:  Guptas  |  Vrystaat  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.