Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-uitlewering: Chikane onder dié wat betoog

Hy het nooit gedink hy sou 27 jaar ná die bevrydingstryd steeds in die strate betoog nie.

So het eerw. Frank Chikane, ANC-veteraan, Donderdag gedurende ’n betoging vir die uitlewering van die Guptas buite die ambassade van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in Pretoria gesê.

Die organisasies wat betoog het, het die Ahmed Kathrada-stigting en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) ingesluit.

Volgens Chikane het hy die eerste keer snuf in die neus gekry toe hy, as deel van die regering, drie name van die Gupta-familie op ’n BBP-lys vir ’n banket gesien het. Hy het homself afgevra: Wie is hierdie mense?

Betogers met plakkate wat die uitlewering van die Guptas eis, Donderdag buite die ambassade van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

“Daar was duidelik van die begin af ’n strategie. Ons wag steeds vir die volle waarheid om uit te kom. Wie is hierdie mense en wie het hulle die mag gegee om toegang tot al die leiers van ’n land te verkry?” wou Chikane weet.

“Wanneer ’n familie toegang tot die president het en hom laat doen wat hulle wil hê en toegang tot ministers het en aan hulle voorskryf wat om te doen, beteken dit dat ons ondermyn word. Dit is ons soewereiniteit wat aangeval word. Ons is nie hier om met die VAE te baklei nie. Ons wil hê dat hulle vennote word in hoe ons hierdie korrupsie hanteer,” het Chikane gesê.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, wat ook aan die betoging deelgeneem het, sê dat wetstoepassingsagentskappe alles in hul vermoë moet doen om die Guptas na Suid-Afrika te bring sodat hulle op die korrupsieaanklagte teen hulle kan teregstaan.

Volgens Bloem is dit “nonsens dat ander mense uit ander lande kom om die toekoms van Suid-Afrika te vernietig”.

Die betoging kom ná die bekragtiging van ’n ooreenkoms wat die VAE en Suid-Afrika in 2018 onderteken het oor die uitlewering van lede van dié omstrede familie.

’n Veiligheidswag by die VAE se ambassade hou die betoging dop. Die organisasies wat betoog het, sluit in die Ahmed Kathrada-stigting en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa). Foto: Deaan Vivier

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Interpol vroeër genader om te help met die uitvoering van lasbriewe vir die inhegtenisneming van Atul Gupta, sy vrou, Chetali, Rajesh Gupta, sy vrou, Arti, en vier ander.

Die NVG wil hê dat die Gupta-broers, wat in 2018 uit Suid-Afrika gevlug het, in hegtenis geneem en aangekla word van bedrog van R24 miljoen wat verband hou met die Vrystaatse departement van landbou.

Iqbal Sharma, ’n beweerde medewerker van die Guptas, is Dinsdag borgtog in verband hiermee in die landdroshof in Bloemfontein geweier.

Die betogers het Donderdag ’n memorandum aan VAE-amptenare by die ambassade oorhandig waarin gevra word dat die ooreenkoms tussen die VAE en Suid-Afrika vinnig in werking gestel word en dat die twee regerings saamwerk om die Guptas aan Suid-Afrika uit te lewer.

Betogers dans terwyl hulle plakkate omhoog hou. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Staatskaping  |  Gupta-Uitlewering  |  Guptas  |  Frank Chikane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.