Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-uitlewering: ‘SA sukkel om inligting van VAE te kry’

Hoewel Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) albei die uitleweringsooreenkoms tussen hulle bekragtig het, kry Suid-Afrika nog nie die samewerking wat hy graag wil hê nie.

Só het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Vrydagoggend op ’n mediakonferensie gesê.

Suid-Afrika hoop nou dat die omstrede Gupta-familie, wat hulle in Dubai bevind, ná die VAE se bekragtiging van die ooreenkoms so spoedig moontlik uitgelewer sal word aan Suid-Afrika, waar hulle van staatskaping beskuldig word.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het gesê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wag nou al drie jaar op inligting uit die VAE.

Dit sluit finansiële inligting en bankstate in, het sy gesê.

Lamola het gesê hoewel die ooreenkoms oor die uitlewering eers op 10 Junie amptelik van krag geword het, het Suid-Afrika vroeër ingevolge ’n konvensie van die Verenigde Nasies (VN), wat in 2006 deur die VAE bekragtig is, aansoek gedoen om hulp vir inligting.

DURBAN, SOUTH AFRICA - MARCH 26: Ronald Lamola, SA
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste. Foto: Gallo Images

“Ondanks die feit dat beide Suid-Afrika en die VAE die VN-konvensie bekragtig het, het ons tot nou toe ongelukkig nog nie die samewerking gekry wat ons verlang nie,” het Lamola gesê.

Volgens Batohi is dit moeilik om te sê wanneer Suid-Afrika die inligting sal kry waarvoor hy gevra het.

Tog het beide die minister en Batohi gesê hulle is hoopvol dat dit spoedig sal gebeur.

Hulle het Donderdag met Mahesh Alhameli, die VAE se ambassadeur in Suid-Afrika, vergader en hy het onderneem om die kwessie dringend met sy regering op te neem.

Die NVG het Interpol verlede week gevra om hom te help om die lasbriewe vir die inhegtenisneming van verskeie lede van die Gupta-familie uit te voer.

Die NVG het die lasbriewe reeds vroeër uitgereik.

Die lasbriewe is vir Atul Gupta, sy vrou, Chetali, Rajesh Gupta, sy vrou, Arti, Ankit Jain, die voormalige ondertekenaar van die Nulane Investment Bank van Baroda, Ravindra Nath, direkteur van Wone Management, asook Ramesh Bhat en Jagdish Parekh, direkteure van Pragat Investments.

Beide Lamola en Batohi het gesê al word die Guptas vandag in hegtenis geneem, beteken dit nie “hulle sal op die eerste vliegtuig na Suid-Afrika gesit word nie”.

Daar is eers ’n regsproses wat gevolg moet word. As dít afgehandel is, sal die finale besluit oor uitlewering by die VAE-regering lê.

“Ons moet deurentyd seker maak dat die oppergesag van die reg geld,” het Lamola gesê.

Suid-Afrika en die VAE het in 2010 al begin onderhandel oor ’n ooreenkoms tussen die twee lande oor die uitlewering en wedersydse regshulp.

In 2018 is ’n ooreenkoms uiteindelik bereik. Michael Masutha was toe nog Suid-Afrika se minister van justisie.

Die Suid-Afrikaanse parlement het dit dieselfde jaar bekragtig, maar die VAE het dit eers onlangs gedoen.

Die ooreenkoms maak voorsiening vir ’n aantal uitlewerbare misdade, soos korrupsie.

“Ons het aan die ambassadeur gesê hoewel ons dankbaar is dat die ooreenkoms tussen ons bekragtig is, is daar nog nie aan ons verwagtinge voldoen nie,” het Lamola gesê.

Ondanks dié krapperigheid is die diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VAE ná 27 jaar steeds baie goed.

Suid-Afrika sal aanhou om inligting deur die regte diplomatieke kanale te probeer bekom.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Guptas  |  Uae  |  Staatskaping  |  Justisie  |  Gupta-Uitlewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.