Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gupta-vennoot het Ace ‘geadviseer’ oor Vrede-projek

Hofstukke toon dat Ashok Narayan, 'n sleutel-Gupta-luitenant, as ’n “adviseur” vir die voormalige Vrystaatse premier en huidige ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, gedien het toe die planne beraam is om die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat te vestig.

Peter Thabethe, voormalige departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou en een van die medebeskuldigdes in die voortgesette Vrede-suiwelprojek-saak, het in beëdigde verklaring gesê dat sy departement Indië vroeg in 2012 as ’n moontlike vennoot vir die projek geïdentifiseer het.

“Ek het toe op aanbeveling van die voormalige LUR (van landbou), Mosebenzi Zwane, ’n versoek tot die premier, eerbare E.S. Magashula (sic), gerig om ’n reis na Indië – vergesel van mnr. Ashok Narayana (sic), ’n adviseur van die kantoor van die premier op daardie tydstip – te onderneem,” lui sy verklaring.

Thabethe beweer Magashule het die reis (van 29 Februarie tot 4 Maart 2012) “op staatskoste” goedgekeur.

Ace Magashule

“Die voormalige LUR, mnr. Mosebenzi Zwane, het aanbeveel dat mnr. Narayana (sic) my na Indië vergesel.”

Dit wil voorkom asof die voormalige departementshoof probeer het om afstand tussen Narayan – in sy hoedanigheid as ’n adviseur vir Magashule – en die omstrede suiwelprojek te skep.

“Toe die departement met die proses begin het om ’n suiwelprojek te vestig, was mnr. Narayana (sic) nie deel van die projekvoorstel nie,” lui die verklaring.

Narayan se rol in die projek is egter oor die jare in verskeie verslae en onthullings uitgelig.

Volksblad het in 2013 berig dat Linkway Trading, ’n maatskappy waarvan Narayan ’n direkteur was, konsultasiedienste vir die Vrede-suiwelprojek gelewer het.

’n #GuptaLeaks-verslag deur amaBhungane verlede jaar het aan die lig gebring dat Linkway Trading deel uitmaak van ’n reeks van maatskappye waardeur minstens R84 miljoen van Estina se opbrengs uit die melkery verduister is.

Hiervan is R30 miljoen gebruik om rekeninge vir die berugte Gupta-troue in Sun City in 2013 te vereffen.

Die onthulling oor Narayan se rol as adviseur vir Magashule werp twyfel op laasgenoemde se bewering dat hy niks van die Guptas se betrokkenheid by die projek geweet het nie.

“Dit was met ons terugkeer uit Indië dat ek toe ’n uitvoerende verslag saamgestel het wat aanbevelings bevat oor die konsep van die suiwelprojek wat in Indië geïdentifiseer is . . . Ná die reis na Indië het mnr. Narayana (sic) teruggekeer na die premier se kantoor, omdat hy nie deel van my span was nie,” beweer Thabethe.

'n Melkstal. Foto: Louw Pretorius

Die voormalige amptenaar sê die provinsie se uitvoerende raad het sy verslag goedgekeur.

Die Vrystaatse departement van landbou het die ooreenkoms met Estina in Junie 2012 onderteken.

Thabethe, twee ander departementele amptenare en verskeie Gupta-geassosieerdes, onder wie Varun Gupta, ’n neef van die Gupta-broers, staan tereg op aanklagte wat wissel van bedrog en diefstal tot die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

Magashule se seun Tshepiso was ’n werknemer van die Guptas.

#GuptaLeaks-verslae van vroeër toon dat Tshepiso ’n versoek om lugtyd vir ANC-party-agente in die Vrystaat te koop, aan Rajesh “Tony” Gupta, gerig het. Dit was een dag voor die nasionale verkiesing in 2014.

In een van sy eerste mediakonferensies as sekretaris-generaal van die ANC in Januarie vanjaar, het Magashule vrae oor die Vrede-suiwelprojek gesystap. “Kom ons laat die saak in die hande van die nasionale vervolgingsgesag, by die regsowerhede. Wat ook al gebeur, ons moet weer daarop klem lê dat ons korrupsie moet beveg,” het Magashule aan joernaliste gesê.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het nie reageer op navrae wat aan hom vir Magashule se aandag gestuur is nie.

* Myburgh is ’n ondersoekende joernalis en die skrywer van die boek The Republic of Gupta – A Story of State Capture. Hy werk tans aan sy tweede boek.

Meer oor:  Linkway Trading  |  #Guptaleaks  |  Vrede-Projek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.