Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas betaal glo Zuma-advokaat in wapensaak

Die Guptas het na bewering met ’n geldwas-skema die rekeninge van een van oudpres. Jacob Zuma se hofaansoeke in die wapenskandaalsaak betaal.

Boonop het die Guptas in hul beweerde poging om verskeie skemas te gebruik om geld te was en na Hongkong oor te plaas, individue betrek wat na bewering betrokke is by georganiseerde misdaad.

Een van dié individue is na bewering Sheldon Breet, broer van die moordenaar Matthew Breet.

Matthew het ’n pleitooreenkoms aangegaan en skuld beken op ’n aanklag van moord nadat die steroïede-koning Brian Wainstein, op 18 Augustus 2017 in sy huis in Constantia vermoor is.

Dié plofbare getuienis is Dinsdag deur Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer.

Kemp J. Kemp betaal

Holden het getuig wyle adv. Kemp J. Kemp SC het inligting en bewyse aan die kommissie verskaf oor betalings wat aan hom gemaak is vir sy werk wat in Augustus 2014 gedoen is in Zuma se aansoek om die DA-aansoek teen die nasionale vervolgingsgesag (NVG) tersyde te stel.

Dit was nadat die NVG besluit het om Zuma nie te vervolg vir die wapenskandaal-klagte nie en die DA suksesvol aansoek gedoen het dat Zuma wel vervolg moet word.

Holden het getuig oor betalings wat na bewering deur ’n frontmaatskappy aan Hulley and Associates gemaak is en dat twee betalings, van onderskeidelik R68 000 en R10 000 vir die werk wat Kemp gedoen het, aan hom oorbetaal is.

Georganiseerde misdaad

Breet, wat teregstaan op aanklagte van sameswering en huisbraak met die doel om ’n moord te pleeg in die Wainstein-moordsaak, is volgens Holden deur die Reserwebank ondersoek vir sy beweerde aandeel daarin om geld vir die Guptas in rekeninge in Hongkong in te betaal.

Holden het getuig dat Breet klaarblyklik deel was van ’n skema wat hy as die spinnerakskema beskryf. Een van die maniere waarop staatskapingsgeld vanuit Suid-Afrika na rekeninge in Hongkong oorbetaal is, was glo om mense se identiteit te steel en bankrekeninge by Mercantile Bank oop te maak. In Augustus 2016 is daar glo ses rekeninge oopgemaak en meer as R1 miljoen in elk van die rekeninge inbetaal deur ’n entiteit wat die hart van die spinnerakskema was. Die geld is daarna uit die onderskeie bankrekeninge oorbetaal na rekeninge in Hongkong.

Breet se e-posadres was glo vir al ses bankrekeninge aangedui as ’n kontakadres. Die Reserwebank het met die ses individue kontak gemaak en besef hulle het glad nie geweet dat hul identiteit gebruik is om die rekeninge oop te maak nie.

Holden het getuig dit is ’n helaas betreurenswaardige afleiding wat ’n mens kan maak, naamlik dat die Guptas individue in diens geneem het wat by oënskynlik baie gewelddadige en georganiseerde misdaad betrokke was.

“Dit is baie hartseer dat mense se belastinggeld wat na Eskom gegaan het, uiteindelik in die hande van ’n georganiseerde netwerk beland het,” het Holden getuig.

Rekeninge in Hongkong gebruik

Holden het aangevoer ou misdaadsindikaat-netwerke in Hongkong en China is deur die Guptas gebruik in hul beweerde geldwas-skema.

Die eerste stap van die geldwas-skema was glo om geld wat met staatskapingskontrakte verkry is in die bankrekeninge van frontmaatskappye in Suid-Afrika in te betaal. Hierna is die geld glo in ’n baie groter en meer komplekse geldwas-skema in Suid-Afrika oorbetaal, waarna dit na die buiteland verskuif is.

Die geldwassery in die buiteland het behels dat oorbetalings glo na ’n uitgebreide netwerk gemaak is.

Die netwerke in Hongkong en China is veral glo gebruik vir die geld wat met Transnet-kontrakte verkry is. Volgens Holden is daar ’n netwerk van honderde verskillende maatskappye wat die staatskapingsgeld ontvang en dan verder oorbetaal het.

Holden het getuig die verskillende netwerke is nie almal op dieselfde tyd deur die Guptas gebruik nie. Die een geldwasnetwerk is met ’n volgende een vervang.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Guptas  |  Wapenskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.