Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Guptas had niks met regering te doen’
jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma het Dinsdag, op die tweede dag van sy getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping beweer die omstrede Gupta-familie het niks te doene gehad met dit wat in sy administrasie aangegaan het nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die omstrede Gupta-familie het niks te doene gehad met dit wat in sy administrasie aangegaan het nie, beweer oudpres. Jacob Zuma.

Hy het dít Dinsdag op die tweede dag van sy dramatiese getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê toe adv. Paul Pretorius SC., die getuienisleier, antwoorde by hom gesoek het oor die beweringe wat Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), en Vytjie Mentor, gewese ANC-LP, oor hom gemaak het.

Pretorius het gevra oor bewerings van Maseko dat Zuma vir wyle minister Collins Chabane destyds opdrag gegee het om Maseko uit sy pos te verwyder omdat hy glo nie met die Guptas wou saamwerk om staatsgeld aan hul mediabedrywighede te bestee nie.

Zuma sê hy weet niks daarvan nie.

“In daardie stadium is direkteurs-generaal rondgeskuif. Ek weet niks van so ’n opdrag nie.”

Volgens Pretorius het Mentor vroeër in haar getuienis aangevoer dat sy afgedank is omdat sy geweier het om Zuma op ’n ampsbesoek aan China in 2010 te ontmoet waar die Guptas ook ’n prominente rol gespeel het.

Hy moes nie daarvan (van die kabinetskommeling) geweet het nie.

Zuma sê hy was op verskeie ampsbesoeke in China en dat hy nie die spesifieke besoek waarvan Mentor praat, kan onthou nie. Hy ontken ook dat die Guptas ’n belangrike rol op so ’n ampsbesoek sou speel.

Mentor het verder beweer dat Ajay Gupta op ’n ander geleentheid by hul huis in Saxonwold, Johannesburg, vir haar ’n ministerspos in ruil vir kommersiële gunste aan sy familie aangebied het. Ook dat Zuma daar teenwoordig was en dat Ajay Gupta daartydens vooraf van ’n komende kabinetskommeling geweet het.

Zuma het geantwoord dat Ajay Gupta nie deel aan die regering gehad het nie.

“Hy moes nie daarvan (van die kabinetskommeling) geweet het nie.”

Volgens hom het hy wel voor kabinetskommelings ’n uitgelese groepie mense daaroor geraadpleeg, soos die ANC se topses en die leiers van die alliansievennote van die ANC.

Hy ontken dit verder dat die Guptas ooit oor die aanstelling van ministers met hom gepraat het.

Zuma ontken ook dat hy op dieselfde dag as Mentor by die Guptas se Saxonwold-huis was en sê dat hy niks weet van ’n gesprek tussen haar en Ajay Gupta nie.

Zuma het Maandag getuig dat daar niks met sy verhouding met die Guptas verkeerd was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.