Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Makliker met NDZ as president'

Die Guptas het volgens getuienis voor die Zondo-kommissie blykbaar daarop gereken dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma by haar eksman as staatshoof sou oorneem.

Ajay Gupta het in Julie 2017 op ’n vergadering in ’n woonstel naby Melrose Arch in Johannesburg gesê die probleme met die skorsing van Brian Molefe as uitvoerende hoof van Eskom “sal makliker hanteer kan word as Nkosazana Dlamini-Zuma die mag het”.

Suzanne Daniels, Eskom se regshoof voordat sy geskors en daarna afgedank is, het gister weer voor die kommissie getuig.

Toe sê hy die saak sal makliker wees wanneer Nkosazana Dlamini-Zuma die mag kry.

Sy het gesê sy is deur die Gupta-vennoot Salim Essa gevra om hulle by ’n hotel in Melrose Arch te ontmoet. Hulle het van daar na ’n nabygeleë woonstelkompleks gestap.

Die gordyne van die woonstel was toegetrek en dit was skemer in die sitkamer waar Ajay Gupta, oudpres. Jacob Zuma se seun Duduzane en die voormalige adjunkminister van openbare ondernemings Ben Martins gesit het.

Sy is gevra om te verduidelik wat met die Molefe-kwessie aangaan.

“Ek het gesê ons gaan die adjunk-regter-president spreek oor die hantering van die saak.”

Sy het getuig Gupta het “in die algemeen” kommentaar daarop gelewer.

“Hy het gesê hulle moet iemand in die kantoor van die adjunk-regter-president kry. Dit was ’n skokkende uitlating.

“Toe sê hy die saak sal makliker wees wanneer Nkosazana Dlamini-Zuma die mag kry,” volgens Daniels.

Dit was sowat ses maande voordat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vir Zuma gevra het om te bedank, anders sou ’n mosie van wantroue in hom in die parlement ingestel word.

Dit het tot mededinging tussen pres. Cyril Ramaphosa en Dlamini-Zuma om die party se leierskap gelei, waarin Ramaphosa uiteindelik geseëvier het.

Daniels het gesê ’n ongeskeerde Gupta het kaalvoet in ’n ou T-hemp en sweetpakbroek in die woonstel gesit.

“Ek het gedink die man sit hier en dink die land behoort aan hom.”

Sy het ook getuig Essa het blykbaar aan Lynne Brown, destyds minister van openbare ondernemings, voorgestel wie as die direkteur-generaal van openbare ondernemings aangestel moes word.

Ek het gedink die man sit hier en dink die land behoort aan hom.

Daniels is gevra wat sy van die e-posadres Businessman Infoportal1@zoho.com weet.

’n E-pos is van dié adres af na Brown se persoonlike assistent, Kimberley Davids, gestuur met dié woorde: “Hierdie is die kandidaat vir die DG-pos. Is dit moontlik vir hom om ‘Madam’ te ontmoet?”

Essa is na bewering die skrywer van die e-pos waarby die CV van Richard Seleke ingesluit is vir Brown se aandag.

Seleke is wel op 27 November 2015 as die DG van openbare ondernemings aangestel.

Sy het getuig Matshela Koko, in daardie stadium waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het haar in ’n vergadering aan Essa voorgestel.

“Essa het gesê hy is minister Brown se raadgewer,” het Daniels getuig.

Koko was volgens haar baie gemaklik in Essa se geselskap en hulle wou van haar weet wat hulle moet doen om mense geskors te kry.

Sy het geantwoord dat sy nie ’n arbeidsprokureur is nie en dat hulle werklik goeie redes daarvoor sal moet hê. Sy het ook tydens haar getuienis ontken dat sy deel was van die Guptas se planne.

R800 miljoen
Daniels het getuig sy en Essa het mekaar op ’n keer toevallig by die vulstasie voor Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park, raakgeloop.
In daardie stadium was Koko geskors en Essa het aan haar gevra hoekom sy nie Koko­ ondersteun om terug te keer nie.
“Ek was geskok, want hy het die presiese woorde herhaal wat ek op ’n foonvergadering van die oudit-en-risiko-afdeling gesê het,” het sy getuig.
Essa het haar ook glo “R800 miljoen aangebied” indien sy met die saak sou help.


Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Guptas  |  Zondo-Kommissie  |  Mag  |  Hoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.