Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas ‘koop’ hul SA pad oop met sokkerballe

Die Guptas het glo die welwillendheid van skole in Noordwes met sokkerballe en hoela-hoepels “gekoop” sodat hul naturalisering in Suid-Afrika vervroeg kon word.

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het voor die portefeuljekomitee oor binnelandse sake getuig in die ondersoek na die vervroegde naturalisering van die Guptas.

Hy het getuig hulle het skoolhoofde “mislei” sodat leerlinge prentjies vir die uitnodiging na Gupta-troue by Sun City moes teken.

In ruil daarvoor het Gupta-maatskappye “donasies” van sokkerballe, netbal-balle, hoelahoepels en plastiekfluitjies aan die leerlinge gestuur.

Op 30 Mei 2015 het Gigaba ’n amptelike brief onderteken om vervroegde naturalisering aan die Gupta-familie toe te staan.

Skole het ’n graaf, hark en kruiwa ontvang.

Die beste inskrywing en wen-skool in elke streek sou R1 000 en R15 000 wen, berig News24.

Die Guptas het glo hierdie “welwillendheid” gebruik as motivering vir die bespoediging van hul naturalisering.

Lehari het getuig sy departement het uitgevind dat Oakbay-filiale 77 skole, meesal in die Bojanala- en Moses Kotane-streek rondom Sun City, op 15 April 2013 per brief gekontak het. Uiteindelik het 33 skole deelgeneem.

“Hulle het nie deur ons hoofkantoor gewerk soos vereis word nie. Hulle het niksvermoedende skoolhoofde mislei deur voor te gee dat skole net aan ’n gewone tekenkompetisie sou deelneem.”

In die aansoek vir die vervroegde naturalisering van Angoori Gupta, Kamal Singhala en Surya Singhala, het Oakbay-werknemer Ashu Chawla geskryf hulle het al R1 miljoen se sporttoerusting aan skole geskenk.

Hy skryf ook oor die “voedingskema” wat verseker het dat sommige kinders “vir die eerste keer KFC kon proe!”.

Stephinah Semaswe van Noordwes se departement van onderwys het getuig hulle kon nêrens só voedingskema opspoor nie.

Rudie Heyneke van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het vroeër gister getuig Malusi Gigaba was glo baie gewild onder die Gupta-familie tydens sy eerste termyn as minister van binnelandse sake.

Hy het gesê Outa het die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse deeglik ontleed.

Gigaba is daarvolgens deur die Guptas na verskillende geleenthede genooi, soos Diwali-feesvieringe, die Wêreldbekersokkertoernooi, New Age-aandetes, die Guptas se Sun City-troue en hul Suid-Afrikaner van die Jaar-toekennings, het hy getuig.

Hy het ook Chawla se naam genoem en gesê dié het oor vervroegde naturalisering navraag gedoen.

Ndifelani Dombo van die departement van binnelandse sake het die vereistes aan hom gestuur.

“Op 30 Mei 2015 het Gigaba ’n amptelike brief onderteken om vervroegde naturalisering aan die Gupta-familie toe te staan.

“In September 2015 het Chawla weer aan Gigaba geskryf met nog ’n motivering vir die vervroegde naturalisering van Varun Gupta, Tanvi Gupta en Kanishk Gupta. Die minister het dit goedgekeur.”

Volgens Heyneke het Gigaba ook opdrag gegee dat twee werknemers van die departement in Nieu-Delhi en Moembai in Indië ontplooi word ondanks die feit dat daar geen vakatures of poste daar beskikbaar was nie.

Patrick Chauke, voorsitter van die komitee, het vroeër aan LP’s gesê dat die twee werknemers ook sal getuig omdat hulle na bewering alle visums en permitte vir die Guptas in Indië gefasiliteer het. – Llewellyn Prince, News24

Meer oor:  Sello Lehari  |  Guptas  |  Noordwes  |  Sokkerballe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.