Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas kry glo ‘fooitjie’ van R49 m. vir kontrak

Die Guptas het glo selfs ’n Transnet-kontrak om hyskrane by die Ngqura-hawe te verskaf, gebruik as deel van hul grootskaalse internasionale web van geldwassery.

’n Internasionale hyskraan-maatskappy het glo R49 miljoen betaal in bankrekeninge wat met die Guptas verbind word in die tyd toe hy ’n Transnet-kontrak verkry het om groot hyskrane by die Ngqura-hawe buite Port Elizabeth te verskaf.

Dit het Vrydag aan die lig gekom in die getuienis van Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, in getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Liebherr Cranes, die verskaffer van die hyskrane, het volgens inligting wat in die #GuptaLeaks-e-posse ontdek is, ’n totale bedrag van $3 232 430 (R49 miljoen) in die Gupta-bankrekeninge betaal.

Holden het getuig dit is nog ’n bewys van die wye netwerk van geldwassery waarby die Guptas betrokke was.

Van dié geld is glo ook gebruik vir die Gupta-troue in Sun City, asook om toerusting te koop wat die Estina-maatskappy beloof het om te verskaf vir die Estina-melkplaas.

Wat die presiese verbintenis tussen Liebherr Cranes en die Guptas in verband met die hyskraan-tender by die Ngqura-hawe is, is nie duidelik uit die #GuptaLeaks-e-posse nie. Die geldspoor van betalings kan wel gevolg word.

Holden het getuig die beskikbare inligting wys hoe die Guptas geld gemaak het uit groot Transnet-kontrakte.

Transnet het op 4 Desember 2011 ’n tender vir die verskaffing van 22 hyskrane by die Ngqura-hawe geadverteer en op 17 Februarie 2014 het Liebherr Cranes aangekondig hy het die kontrak gekry om die 22 hyskrane te verskaf.

Holden het getuig daar is geen onreëlmatigheid te bespeur met die kontrak self nie.

Adv. Matthew Chaskalson SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê die kommissie ondersoek nog die tender en hoe inligting oor die tender dalk kon uitlek.

Volgens Holden is daar wel besonderhede van betalings wat deur Liebherr Cranes gedoen is.

Daar is vyf betalings gedoen deur Liebherr en ’n ontleding van die spoor van hoe dié geld in bankrekeninge van die Guptas in rekeninge in Suid-Afrika, Amerika en Dubai versprei is, is aan die kommissie as bewysstukke ingedien.

Daar is ook $400 000 (R6 miljoen) by ’n Oakbay-rekening van die Guptas inbetaal.

Holden het ’n mediaverklaring wat Liebherr op 17 Oktober 2017 uitgereik het, vir die rekord ingelees. Volgens die verklaring het Liebherr gereageer op ’n berig deur amaBhungane en daarin genoem die bewerings van betalings onder die tafel deur word in ’n baie ernstige lig beskou. Die maatskappy het gesê ’n interne ondersoek is gedoen en daar is bevind die betalings was wettig. Accurate Investment Limited, die maatskappy aan wie Liebherr die geld betaal het, is ’n agent en dit is praktyk dat ’n nominale persentasie van ’n tender aan so ’n agent betaal word wanneer ’n tender toegeken word, volgens Liebherr se verklaring.

Chaskalson het aan Holden gevra wat dié “nominale” bedrag was wat Liebherr betaal het, waarop Holden geantwoord het $3,2 miljoen, oftewel R49 miljoen volgens die huidige wisselkoers.

Holden het gesê hy het vanjaar op 12 Augustus aan Liebherr geskryf vir verdere kommentaar, maar het ’n antwoord gekry dat Liebherr al die nodige inligting in ag geneem het en volstaan by die vorige verklaring.

Holden het getuig die eerste betaling van Liebherr na die rekening van Accurate Investment was op 22 Julie 2013, Die bedrag was $905 088. Holden het uitgewys die Ngqura-hyskrane-tender was toe nog nie toegeken nie, dit is eers die jaar daarna in Februarie aangekondig.

Holden het verduidelik hoe betalings uit Accurate Investment se bankrekening na verskeie ander bankrekenings oorbetaal is, onder meer ook na dié van die Guptas se Sahara-maatskappy. Die bedrag wat in Sahara se bankrekening beland het, was net minder as $500 000 (R7,5 miljoen).

Accurate Investments is deur die Guptas beheer, met Sanjay Govender wat dit vir die Guptas uit Dubai bestuur het, volgens die ondersoek deur Shadow World Investigations. Die maatskappy het slegs die een direkteur, min of byna geen infrastruktuur nie, geen aanlyn teenwoordigheid nie en ook nie enige duidelike bande met Suid-Afrika nie. Dit is te alle tye onder beheer van die Guptas, volgens die ondersoek.

Van die geld wat in Accurate Investments se bankrekening inbetaal is, is daar op 23 Julie 2013 uiteindelik $93 000 (R1,4 miljoen) in die rekening van Star Engineering betaal wat die agent was wat toerusting vanaf Indië aangekoop het vir die Estina-melkplaas.

Daar is ook $400 000 (R6 miljoen) by ’n Oakbay-rekening van die Guptas inbetaal.

Holden getuig volgende week verder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.