Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas leef luuks en hou nóg spandabelrige troues

Terwyl die bewyse van die beweerde plundering van Suid-Afrika se staatsentiteite deur die Guptas voor die Zondo-kommissie ophoop, sit dié familie eenvoudig sy spandabelrige leefstyl oorsee voort.

So lyk van die hotelle in die Auli-ski-oord in Indië waar die Gupta-gaste sal tuisgaan. Foto: www.clifftopclubauli.com

In die jongste verwikkeling berig The Times of India hoe die “omstrede Gupta-familie van Suid-Afrika” later vandeesmaand nog ’n uitspattige troue van bykans R43 miljoen vir twee van hul kinders by die skilderagtige Auli-ski-oord in die Himalajas in Indië beplan.

Die Guptas en oudpres. Jacob Zuma word as die vermeende baasbreine agter die staatskaping in Suid-Afrika die afgelope jare gesien. Die Guptas bevind hulle egter deesdae óf in Dubai óf in Indië.

The Economic Times het ook onlangs in Indië berig hoe Ajay Gupta se seun Suryakant se troue van 18 tot 20 Junie by die gesogte ski-oord plaasvind, terwyl Atul Gupta se seun Shashank van 20 tot 22 Junie daar trou.

“Bykans al die hotelle en oorde rondom Auli is vol bespreek vir die week lange vieringe waarvoor blomme uit Switserland ingevoer word,” het The Economic Times berig.

Nyweraars, politici en Bollywood-beroemdes sal die troues na verwagting bywoon.

Volgens die Uttarakhand-nuusnetwerk gaan die internasionale musiekgroep Symphony en die Bombay Rockers gaste op die troues vermaak.

Daar is ook glo ’n spesiale trou-uitnodiging van silwer gemaak wat sowat 4,5 kg weeg.

Daar word berig gaste sal in 200 gehuurde helikopters van Delhi en Dehradun na Auli vir die feesvieringe gebring word, en dat die gaste aan tot 400 plaaslike en internasionale geregte op die troues sal kan smul.

Intussen hoop die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping teen die Guptas op.

Al die inwoners van Auli is ook na die troues genooi.

Die Guptas is bekend om weelderige troues.

Vroeër het amaBhungane berig hoe die familie in Februarie ’n troue wat bykans R100 miljoen gekos het oor vyf dae by die superluukse Emirates Palace-hotel in Abu Dhabi gehou het.

Dit was vir Shubhangi Singhala, Rajesh Gupta se dogter, en haar man, en vir Srikant Singhala, Atul Gupta se seun, en sy vrou.

Dit kom ná die Gupta-bruilof by Sun City in 2013 wat in omstredenheid gedompel is nadat ’n passasierstraler met die familie se gaste op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland het.

So lyk van die hotelle in die Auli-ski-oord in Indië waar die Gupta-gaste sal tuisgaan. Foto: www.clifftopclubauli.com

Die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse het volgens amaBhungane glo later bewys hoe R30 miljoen van die Estina-suiwelprojek in Vrede vir daardie bruilof betaal het.

Die Guptas het in April 2016 ’n bruilof by die Mardan Palace in Antalya, Turkye, gehou waar R154 miljoen volgens amaBhungane bestee is op die troue van Ajay Gupta se seun Kamal Singhala.

Dit was twee weke nadat die meeste Guptas Suid-Afrika inderhaas verlaat het.

Intussen hoop die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping teen die Guptas op.

Net Vrydag het die kommissie gehoor hoe ’n Gupta-verwante maatskappy meer as R50 miljoen as deel van ’n geldwassery-skema na Hongkong geskuif het.

Die Guptas het vroeër aangedui dat hulle nie persoonlik voor die kommissie sal getuig nie omdat hulle nie die nasionale vervolgingsgesag en die Valke vertrou nie.

The Times of India het berig hoe die Guptas sedert verlede jaar ook deur die Indiese belastinggaarder vir beweerde geldwassery ondersoek word en omdat hulle glo eiendom op bedrieglike wyse in die land bekom het.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.