Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas: LP’s ‘sal nie huiwer’ om Valke te betrek

As enige prima facie-bewyse na ongerymdhede in hul ondersoek na die naturalisasie van die Guptas gevind word, sal LP’s nie huiwer om dit aan die Valke te oorhandig nie.

Donald Gumede, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het Woensdag dié versekering gegee in die debat oor Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, se begrotingstoespraak in die parlement.

Dié kwessie sowel as die private aankomssaal vir baie belangrike persone wat die Oppenheimer-familie deur middel van hul maatskappy Fireblade Aviation by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg bedryf, het LP’s warm onder die kraag gehad in dié debat. Dit kom nadat die komitee verlede week gehoor het staatsamptenare lewer gratis dienste by dié aankomssaal.

Malusi GigabaFoto: Felix Dlangamandla

Gumede sê die komitee is besig om naturalisasie oor die algemeen onder die loep te neem weens die berigte oor die naturalisasie van die Guptas.

“Die parlement is as ’n kwessie van prioriteit besig om die egtheid van sekere dokumente te verifieer oor die naturalisasie van daardie familie. As ons enige prima facie-bewyse van ongerymdhede vind, sal ons nie huiwer om daardie inligting aan die Valke te oorhandig vir verdere ondersoek nie. Hulle kan dit beter as die parlement ondersoek,” sê Gumede.

Oor Fireblade sê hy: “Staatsamptenare kan nie hul dienste aan enkele ryk individue bied omdat hulle dit kan bekostig en die meerderheid uitsluit omdat hulle dit nie kan bekostig nie.”

Dié komitee is een van vier parlementêre portefeuljekomitees wat die parlement verlede jaar opdrag gegee het om ondersoek te doen na bewerings van staatskaping soos vervat in die “Gupta Leaks”-e-posse.

Haniff Hoosen, DA-LP, het Gigaba se verduideliking oor die Fireblade-kwessie verlede week aan die komitee bevraagteken en gesê sy betrokkenheid by die kwessie moet in die komitee se staatskapingsondersoek ingesluit word. Die DA het vroeër verwys na berigte dat Gigaba sy aanvanklike goedkeuring vir die Oppenheimers se private aankomssaal onttrek het weens die beweerde ingryping van die Guptas.

Gigaba, wat verlede week die komitee meegedeel het dat Suid-Afrika nie ’n beleid het oor private aankomssale by lughawens nie, het in sy repliek teruggekap en Hoosen daarvan beskuldig dat hy voorheen “vals beweringe” in die parlement gemaak het.

“Bykomend tot ons versoeke vir ’n ondersoek na die Guptas se burgerskap, wil ons hê die Fireblade-kwessie moet by die ondersoek ingesluit word sodat ons agter die kap van die byl kan kom oor die geheime sake met die Gupta-familie,” sê Hoosen.

Ook Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het Gigaba daarvan beskuldig dat hy jok oor die Guptas. Sy het daarna verwys dat die hooggeregshof in Pretoria bevind het Gigaba het onder eed gelieg.

“As dit nie vir die ANC se onvermoë was om behoorlik wette te maak en te bestuur nie, sou ons nie vandag hier gewees het waar ’n familie op ’n private aankomssaal by ’n internasionale lughawe aanspraak maak nie. Vandag is dit die Oppenheimers met hul eie aankomssaal by O.R. Tambo, môre is dit die Ruperts met hul eie private aankomssaal by die Kaapstad-lughawe,” sê sy.

Gigaba, wat verlede week die komitee meegedeel het dat Suid-Afrika nie ’n beleid het oor private aankomssale by lughawens nie, het in sy repliek teruggekap en Hoosen daarvan beskuldig dat hy voorheen “vals beweringe” in die parlement gemaak het. Hoosen is volgens hom net daarop uit om die goeie werk van die departement ongedaan te maak en hom en sy familie te beswadder. Hy het bevraagteken wie se belange Hoosen verteenwoordig.

Meer oor:  Fireblade Aviation  |  Valke  |  Donald Gumede  |  Guptas  |  Malusi ­Gigaba  |  Ondersoek  |  Naturalisasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.