Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas nooi toekomstige Eskom-direksielid vir tee

Tony en Atul Gupta het in 2014 op twee “onverwante geleenthede” met Mark Pamensky, ’n voormalige nie-uitvoerende direksielid van Eskom, kontak gemaak.

Die kontak was slegs enkele maande voordat hy in Desember 2014 op Eskom se direksie aangestel is.

Pamensky het Donderdagoggend voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat Tony hom in Junie 2014 onverwags “gebel of ’n WhatsApp gestuur het” en hom vir tee na die Gupta-woning genooi het.

Mark Pamensky
Mark Pamensky

Pamensky was toe die bedryfshoof van Blue Label Telecoms, ’n telekommunikasiemaatskappy.

“Ek het Tony se uitnodiging aanvaar en hom in sy woning gaan sien. Dit was die eerste keer dat ek hom ontmoet het. Hy het my meer vertel van Sahara Computers en ek het hom vertel wat ons by Blue Label Telecoms doen. Daar het egter niks van die gesprekke gekom nie,” het Pamensky getuig.

Hy sê in Augustus 2014 het hy weer ’n oproep ontvang, dié keer van Atul. “Hy het my gebel en gevra of ek sou belang stel om in die direksie van Oakbay Resources and Energy te dien. Hy wou die onderneming op die Johannesburgse effektebeurs noteer,” het Pamensky getuig.

Hy is toe in Oktober 2014 as ’n direksielid van die Guptas se Oakbay-maatskappy aangestel.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Pamensky weet hoe die Guptas sy nommer en naam gekry het.

“Ek het geen benul nie,” het Pamensky geantwoord.

Hy het gesê hy dink ook nie dat sy gesprekke met Tony en Atul met mekaar verband gehou het nie.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het Pamensky gevra of hy enigsins voor 2014 met die Guptas te doen gehad het.

Pamensky het geantwoord dat hy in 2013 die Gupta-troue in Sun City bygewoon het. “Ek was toe nog die bedryfshoof van Blue Label Telecoms. Die Guptas het die onderneming uitgenooi en nie vir my as individu nie. Ek het die uitnodiging namens die onderneming aanvaar en die troue bygewoon. Daar was honderde mense en ek het nie die Guptas daar ontmoet nie.”

Nee, ten tyde van die troue het ons geen sake met die Guptas gehad nie. Ons is net genooi.

Zondo wou toe weet of die Guptas enige verhouding met Blue Label Telecoms gehad het.

“Nee, ten tyde van die troue het ons geen sake met die Guptas gehad nie. Ons is net genooi,” het Pamensky geantwoord.

Zondo meen dit is vreemd dat hulle ’n onderneming sou nooi waarmee hulle geen sake doen nie.

Seleka het Pamensky ook Donderdagoggend uitgevra oor ’n voorafbetaling van R1,68 miljard van Eskom in Desember 2015 aan die Guptas se Tegeta-maatskappy.

Pamensky het gesê hy was glad nie betrokke by die besluitneming nie en is weens botsende belange met Oakbay verskoon.

Die voorafbetaling was gemaak sodat die Optimum-myn, toe nog in die besit van die Glencore-myngroep, steenkool aan die Hendrina- en die Arnot-kragstasie vir kragopwekking kon verskaf.

Die kommissie het Woensdag getuienis van prof. Pathmanathan Naidoo, Venete Klein en Viroshini Naidoo, voormalige direksielede van Eskom, oor die einste voorafbetaling aangehoor. Al drie het getuig dat hulle nie daarvan bewus was dat die geld aan Tegeta sou gaan nie, maar onder die indruk was dat die voorafbetaling vir Glencore bestem was.

Tegeta het Glencore kort ná die goedkeuring van die voorafbetaling oorgeneem.

Meer oor:  Eskom  |  Tony Gupta  |  Raymond Zondo  |  Atul Gupta  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.