Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas stroop Vrystaat; ANC-regering móét waai

Die Guptas se stropery van die Vrystaat van bykans R450 miljoen beteken Vrystaters wat in wanhoop en magteloosheid verval het oor hoe hulle provinsie leeggesuig en “gekaap” is, moet besef die ANC-regering móét hier verander.

Dr. Ina Gouws van die departement politieke studies en regering aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein, sê die getuienis van die ondersoeker Paul Holden voor die Zondo-kommissie Maandag staaf weer die opgehoopte getuienis teen die Vrystaatse ANC-beheerde provinsiale regering waar staatskaping veral in die Ace Magashule-era algemeen was.

“Protesaksies van die massas (meestal brandmaer) inwoners in Vrystaatse townships gaan net meer en meer word omdat die regering se dienslewering swak is en daar nie in hul behoeftes voorsien en vir hulle ’n beter lewe geskep word nie.

Ajay en Atul GuptaFoto: Argiewe

“Dié mense sal moet besef dat die stembus nou die enigste uitweg is.”

Holden het onder meer getuig oor betalings aan die Guptas vir die voorgenome Stad van die Toekoms-projek, R280 miljoen aan die Estina Vredesuiwelprojek en The New Age-koerant wat 75% van sy inkomste van die Vrystaatse provinsiale regering se subskripsie ontvang het.

Dr. Ina Gouws Foto: Argiewe

Dit is voorbeelde van hoe die Guptas tydens Magashule se premierstermyn hul kloue in die Vrystaat geslaan en dit gestroop het.

Die toekenning van kontrakte aan die Guptas soos die Cureva/Mediosa mobiele klinieke en gesondheidskontrakte teen ’n allemintige 270% wins en die kontrak vir die verskaffing van skootrekenaars wat met 114% winste gelaai is, is ander voorbeelde waaroor Netwerk24 berig het.

Holden bedryf saam met die voormalige ANC-LP Andrew Feinstein die nie-regeringsinstelling, Shadow World Investigation. Hy het Maandag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie aangedui dat Transnet, Eskom, en die VPR die drie instellings is wat bykans R50 miljard aan die Guptas – direk of indirek deur subkontrakteurs en geldwas-aksies – oorbetaal het.

Hiervan het die Vrystaat sowat R441 miljoen of 0,9% van die algehele bedrag van bykans R50 miljard aan die Guptas oorbetaal.

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê Vrystaters is dank aan Shadow World Investigations verskuldig vir die goed nagevorste finansiële diepte-ondersoeke oor hoe die VPR by die Gupta-beheerde misdaadonderneming betrokke geraak het.

“Hul aanbieding het die Zondo-kommisie en wetstoepassings-agentskappe met genoeg bykomende getuienis gelaat om teen die politieke argitekte op te tree wat medepligtig is deur hulle aktiewe samespanning en deelname deur blindweg die Guptas te ondersteun.”

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argiewe

Jankielsohn sê die DA het strafregtelike klagte oor baie misdadige bedrywighede ingedien wat nie net met die Guptas verbind word nie.

“Die netwerke van misdadige aktiwiteite in die provinsiale regering sluit sindikate en kartelle in wat verbind kan word met misdadigheid wat meer as net korrupsie en die plundery van staatshulpbronne is.”

Die DA het vir ’n dekade volgehou dat die Vrystaatse provinsiale regering getransformeer is tot ’n misdaad-netwerk onder politieke toesig van Magashule waarby geldwassery, bedrog, korrupsie en staatskaping ingesluit is.

Dit was onder die voorwendsel van kader-gebaseerde indiensneming, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), en regstellende aksie.

Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid, sê die Vrystaat is die setel van die mafiasindikaat in die ANC soos wat ook nou in die getuienis voor die Zondo-kommissie blyk.

“Dit gaan jare neem om die provinsie reg te ruk en van gekonnekteerde staatskapers te bevry.”

Mense van die nedersetting Gatvol in Heidedal, Bloemfontein, betoog Dinsdag teen dienslewering. Dit het afgespeel teen die agtergrond van die groter onluste teen korrupsie in die Mangaung-metro. Die polisie het die groep in hul spore gestuit en gedwing om te ontbind. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Gupta  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Anc  |  Anc-Faksies  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.