Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas wou gas lewer in Wes-Kaap
 Zola Tsotsi
Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

In 2014 wou Tony Gupta hê hy moet reël dat die Guptas die verskaffers van gas vir Wes-Kaapse kragstasies word.

Dié versoek was die eerste keer dat hy deur die Guptas gevra is om in te meng by Eskom se operasionele sake, het Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, gister voor die Zondo-kommissie getuig.

Tsotsi is eers net aan Ajay en Athul Gupta voorgestel op ’n galadinee van die ANC in 2014 in Nelspruit.

Hy het later daardie jaar die eerste keer vergader met die derde broer, Rajesh (Tony), in Saxonwold, Johannesburg.

Gupta het aan hom gesê hy weet Eskom is besig om ou dieselkragturbines in die Wes-Kaap om te skakel om gas te gebruik en dat hulle die verskaffer van die gas wil wees.

“Hy wou uitvind of ek kan help om die kontrak te bekom.

“Dit was ’n vinnige gesprek en ek het gesê ek sou uitvind en terugkom na hom toe.”

Hy het vasgestel daar is reeds ’n maatskappy wat die Guptas voorgespring het om die gas te verskaf en dat dit boonop nie ’n kontrak was wat met Eskom beklink moes word nie, maar met die departement van energie.

Hy wou uitvind of ek kan help om die kontrak te bekom. Dit was ’n vinnige gesprek en ek het gesê ek sou uitvind en terugkom na hom toe.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het gevra waarom Tony Gupta ’n vergadering met ’n nie-uitvoerende voorsitter van die direksie sou kies indien hy ’n sakevoorstel aan Eskom wou maak.

Tsotsi het geantwoord dat Gupta geen idee van of agting gehad het vir korrekte prosedures nie. Om met die Guptas oor prosedures te praat of oor wie die regte persoon is wat hulle moes nader, “was nutteloos”.

Tsotsi het getuig op ’n tweede vergadering, in middel 2014 in Saxonwold, wou Tony Gupta hê hy moes help om ’n sekere persoon as hoof van verkryging by Eskom aan te stel. Hy het gesê dat hy die versoek aan die operasionele bestuur van Eskom sou oordra, maar dat Gupta se kandidaat aansoek sal moet doen.

Hy het later verneem daardie persoon is wel aangestel.

Op ’n derde vergadering, by die Guptas se Sahara-hoofkantoor in Johannesburg, wou Gupta weet wat die probleem is met Eskom se kontrak met hul koerant The New Age.

“Ek het geantwoord daar is ’n forensiese ondersoek oor die kontrak aan die gang. Hy het gesê ‘jy is die baas, jy kan dit laat verdwyn ’.

“Ek het gesê daar is niks wat ek of enigiemand anders kan doen nie, die saak moet sy gang gaan. Ek het vir die eerste keer gesien hoe hy sigbaar kwaad en ontsteld was oor ’n antwoord van my,” het Tsotsi getuig.

Seleka het aan hom gevra waarom hy herhaaldelik in opdrag van Tony Gupta met hom vergader het.

Tsotsi het geantwoord: “Soos ek vroeër gesê het, hul verhouding met die president was welbekend. Ek het gehoor van mense wat glo gedreig is.

“Indien hulle nié die hulp wat die Guptas gevra het sou gee nie, sou daardie persoon by die president verkla word – na wie hulle as ‘uBaba’ verwys het.”

Hy het in ’n ander stadium ook getuig: “Dit was algemene kennis dat hulle naby genoeg aan die president was om mense te dreig met ‘bye-bye’, soos hulle dit genoem het.”

Die Guptas het tydens ’n vergadering in 2015 in Kaapstad die boodskap by hom tuisgebring dat hulle hom in sy pos gekry het en dat hulle hom ook daaruit kan verwyder.

Soos ek vroeër gesê het, hul verhouding met die president was welbekend. Ek het gehoor van mense wat glo gedreig is. Indien hulle nié die hulp wat die Guptas gevra het sou gee nie, sou daardie persoon by die president verkla word – na wie hulle as ‘uBaba’ verwys het.

Meer oor:  Zola Tsotsi  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.