Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Guptas wou ook ANC-tesourie kaap – Phosa
Dr. Mathews Phosa Sondag by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Foto: Jaco Marais

Die omstrede Gupta-familie het selfs probeer om die ANC se tesourie te kaap, het dr. Mathews Phosa, voormalige tesourier-generaal van dié party, Sondag onthul.

Hy het die Guptas se aanslag afgeweer, het Phosa op Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gesê.

Phosa het gesê hy sal meer oor dié skandaal onthul in ’n boek wat hy oor Suid-Afrika se moderne geskiedenis skryf. Hy sal ’n hoofstuk daarin aan die Guptas afstaan.

“Die Guptas steel van ons land en moet die volgende vlug neem en padgee,” het Phosa gesê.

Volgens hom sal die ANC nie die volgende algemene verkiesing in 2019 met ’n volstrekte meerderheid wen nie.

“Syfers wys daarop dat die ANC minder as 47% van die stemme sal trek. ’n Koalisieregering is ons voorland. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie omdat dit goed vir die demokrasie sal wees.”

Phosa meen die ANC kan nie bekostig om langer met pres. Jacob Zuma as leier te volhard nie omdat die party én die regering steier onder al die korrupsie-skandale.

“Daar was al sewe sedert Augustus (verlede jaar).

Niemand het die Guptas agter die bome sien skuil, gereed om op die land se bates toe te slaan nie.

“Ons is nie ’n rommel-nasie met rommel-mense nie,” het hy gesê met verwysing na die kredietafgraderings van verlede week. Ons het wel ’n rommel-president.”

Phosa glo die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal voor die einde van die jaar van Zuma as leier ontslae raak.

Hy het ook bygevoeg dat Zuma glad nie die ANC se topstruktuur oor sy onlangse omstrede kabinetskommeling geraadpleeg het nie.

Mzwanele Manyi, president van die Progressive Professionals Forum, wat saam met Phosa aan Sondag se gesprek deelgeneem het, het gesê Zuma gaan nêrens heen nie.

Hy het volgens Manyi aanslae op sy leierskap op demokratiese wyse afgeweer en mense wat nie daarvan hou nie, het bloot suur druiwe omdat hulle nie hul sin kan kry nie.

Phosa is ook gevra waarom hy en ander vooraanstaande ANC-lede Zuma in die verlede ondersteun het.

Dit is gedoen weens interne politieke struwelinge in die ANC en omdat Zuma destyds geviktimiseer is. Oudpres. Thabo Mbeki het ook die party “wanbestuur”, het Phosa geantwoord.

“Niemand het Nkandla verwag nie,” het Phosa gesê. “Niemand het die Guptas agter die bome sien skuil, gereed om op die land se bates toe te slaan nie.

“Ons kon dit nie voorsien het nie. Ons kon dit nie geweet het nie.”

Meer oor:  Oudtshoorn; Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.