Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kommentaar oor skenking nie 'n aanval teen OB - Gwede
Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Sy kommentaar op die openbare beskermer (OB) se ondersoek na die Bosasa-skenking vir pres. Cyril Ramaphosa se ANC-presidentsveldtog was nié ’n aanval op haar nie.

So het Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, dit Sondagaand ten sterkste beklemtoon.

Mantashe se reaksie volg nadat adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) hom en ministers Tito Mboweni (finansies) en Bheki Cele (polisie) by name genoem en gesê het hulle moet aanspreeklik gehou word vir “aanvalle” op haar.

Die Sunday Times het berig Mkhwebane het haar op die speaker van die parlement beroep om haar teen die “aanvalle” van politici en LP’s te beskerm.

Mkhwebane het aan Netwerk24 gesê sy verwys spesifiek na kommentaar van Mantashe en dat Mboweni en Cele haar ook in die openbaar aangeval het.

“Hulle moet verantwoordelik gehou word, want hulle het ’n ampseed afgelê om die Grondwet en onafhanklike grondwetlike instellings te respekteer,” het Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, aan Netwerk24 gesê.

Mboweni het Maandag vanuit Niger, waar hy die buitengewone beraad van die Afrika-Unie saam met Ramaphosa en ander LP’s bywoon, laat weet hy het geen kommentaar op haar aantygings nie. Cele het nie op navrae gereageer nie.

Mantashe het verlede Donderdag op ’n impromptu-mediakonferensie by Nehawu se beleidskonferensie in Johannesburg gesê Mkhwebane moet haar op haar werk toespits.

Die DA het die OB versoek om ’n ondersoek in te stel of Ramaphosa die parlement mislei het oor die R500 000-skenking van Bosasa wat hy vir sy veldtog gekry het. Nou is daar sprake dat sy ook moontlike geldwassery rondom die skenking ondersoek.

Mantashe het gesê ’n uitgebreide ondersoek behoort dan al sewe ANC-presidentskandidate, nie net Ramaphosa nie, in te sluit.

Mantashe het by navraag gesê sy kommentaar op die ondersoek was bloot om te verduidelik: “My opmerking hou verband met die Bosasa-skenking, waaroor die DA ’n klag ingedien het. Om die ondersoek na die hele veldtogrekening uit te brei, weerspieël ’n persoonlike belang. Binne politieke belang moet die OB dan al sewe die kandidate ondersoek. Dis nie ’n aanval op die OB nie, maar ’n standpunt oor die sake wat die OB besluit om te ondersoek, sonder dat verwys is,” het hy gesê.

Mkhwebane het Vrydag haar bevindings teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, bekend gemaak en Ramaphosa 30 dae gegee om dissiplinêre stappe teen Gordhan te doen.

Gordhan het intussen aangedui dat hy haar verslag op hersiening wil laat neem.

Volgens Lawson Naidoo, ’n staatsregkenner van die Grondwet-waghondorganisasie Casac, kan Gordhan nou saam met sy hersieningsaansoek ook ’n aansoek bring om Ramaphosa se implementering van die opdrag in die verslag vir eers te staak.

‘Die OB speel ’n politieke spel’

Ralph Mathekga, politieke ontleder, sê die OB is “speel ’n politieke spel” met haar optrede in die openbaar en die gevegte met ministers.

“Sy skep ’n politieke atmosfeer van wantroue, in plaas daarvan om bo dit uit te styg en seker te maak sy raak nie in interne politiek verstrengel nie. Sy help die faksies en verdeeldheid in die land aan.”

Volgens Mathekga kan net die parlement haar uit haar pos verwyder wat hulle, volgens hom, nie nou sal kan doen nie.

Mathekga sê egter ingevolge die Wet op die Openbare Beskermer kan politieke partye of organisasies sonder winsbejag, “wat goed is met litigasie”, die hof versoek om haar uiteindelik te laat verwyder. “Die hof kan dan die parlement beveel om op te tree,” sê hy.

’n Ander alternatief is om haar naam van die Suid-Afrikaanse Balieraad te laat skrap, sê hy.

Hy sê nietemin Ramaphosa kan nie die OB se bevindinge teen Gordhan heeltemal ignoreer nie.

Prof. Erwin Schwella, kenner in politiek, openbare leierskap, openbare verantwoordbaarheid, korrupsie en wanadministrasie verbonde aan die Universiteit van Tilburg in Nederland en dekaan van die Hugenote Kollege in Wellington, sê die gedrag van ministers en die president word in hoofstuk 9 van die Grondwet beskryf.

Hy sê in ’n ideale wêreld rig die wet dié ampte om die staat behoorlik, met waardigheid en aanspreeklikheid te laat funksioneer. So ’n staat is nie verpolitiseer nie, sê hy.

“Maar ons het die teenoorgestelde hier in Suid-Afrika – en dit is verpolitiseer.” Dit lei tot die gevegte, sê hy.

“Haar teenstrydigheid (in haar bevindings) en die feit dat sy by wyse van sosiale media haarself uitspreek, doen afbreek aan die gravitas van haar amp as OB. Waar daar al gevind is dat sy feitefoute gemaak het of die reg verkeerd geïnterpreteer het, het dit tot die openbare kritiek teen haar gelei en sy reageer daarop – heel menslik, maar dis nie hoe sy in haar amp behoort op te tree nie.”

Volgens Schwella is die 30-dae-spertyd wat sy aan Ramaphosa gestel het “nie binne haar mandaat nie”.

“Is dit toeval, onbevoegdheid of doelbewuste eensydigheid?” vra hy.

Lei die ekonomie onder die openbare gevegte?

Dawie Roodt, ekonoom, dink nie die OB se optrede en gevegte het ’n beduidende impak op die ekonomie nie. “Mense sien reg deur dit.”

Die ekonoom Mike Schüssler stem nie saam nie. “Dis nie ’n belegger se werk om regter te speel nie,” sê hy en verduidelik dan dat beleggers net sien hoe die ministers van staatsondernemings onder verdenking is.

Volgens Schüssler is die impak van openbare gevegte verreikend.

“Rentekoerse van staatsondernemings se effekte styg, die rand daal, petrol en elektrisiteit styg. Mense vra: Hoekom kan die president nie optree nie? Die ekonomie het sekerheid en geloof in ’n regering nodig. Die gevegte verwoes die vertroue.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.